Jay se plaastroue (slot)

Die son breek helder oor Jay se troudag.  Ek moet toesien dat die “gazebo” in die veld opgeslaan word, en daarna vir Jay, die strooimeisies, en blommemeisies inneem dorp toe om hulle hare te laat doen.  My eie hare laat doen, die meisies weer gaan oplaai, en by my vriendin – waar hulle gaan aantrek – aflaai.  Terugry plaastoe om aan te trek, en dan weer terugry dorp toe om koeksister te gaan afhaal.  Die Morris Minor wat ek gery het, het die taak nie juis vergemaklik nie.

Die ure het soos minute verbygeglip.  Aangetrek, gegrimmeer, en in ‘n senutoestand, het ek op die dorp aangekom om die koeksisters te gaan haal.  Ek ry gou by my vriendin langs om te sien hoe Jay, en haar gevolg lyk, en tot my stomme verbasing sit sy rustig op die bed, met ‘n pienk handoekie om haar gedraai, terwyl Carla (wat die make-up artist is,) besig is om haarself voor die spieël te grimmeer.  “Wat de swernoot,” sê ek geskok, “die troue begin oor ‘n halfuur, en hier sit jy met net ‘n handdoek om jou.”  Hulle kyk my doodluiters aan, en ek besef onmiddelik wat fout is.  Jay en Carla is albei flegmate; sit twee flegmate bymekaar en jy kry “life in slow motion.”  So verward is ek toe ek terugklim in die Morris dat ek in ‘n dorp waar ons een en twintig jaar lank gebly het, heeltemal verdwaal.

Intussen het die gaste op die plaas aangekom, en volgens my ousus was dit heerlik om so in die veld te sit en oor die landskap uit te kyk.  Dit was gou duidelik dat die bruid laat is maar blykbaar het niemand omgegee nie.  ‘n Sendelingvriendin van ons se seun, en ‘n paar van sy swart vriende het musiek verskaf.  Hy het op sy kitaar gespeel, terwyl hulle gesing het.  Hy sou wel later sê dat hulle later nie meer geweet het wat om te sing nie, en toe maar gaan sit, en vir die bruid gewag het.

Henzo0139Uitasem kom ek op die plaas aan, en sluit by die gaste aan.  Daar heers ‘n lekker gees onder hulle.  Wanneer ‘n kar daar vêr in die grootpad aankom, word daar onder vele gelag gespekuleer of dit nou die bruid is.  Uiteindelik daag twee karre op, en draai by die plaashek in.  Uit sig van die gaste het die Morris, en ‘n perd gewag om die bruid en haar gevolg tot bo te bring.  Die Morris bokspring die erf binne, en ry tot waar die voetpaadjie begin.  My hart swel van trots toe ons twee jongste dogters in hulle roesbruin rokke uitklim, en elkeen met ‘n blommemeisie aan die hand in die nou paadjie aangestap kom.  Ewe galant help die strooijonkers die meisies teen die skuinste uit, en saam neem hulle, hulle plekke voor die “gazebo” in.  Alle oë draai terug na die erf waar Jay op ‘n wit perd – gelei deur ‘n vriend van haar – aankom.  Hulle kom met die voetpaadjie opgestap, en ek moet hard sluk aan die knop in my keel.  Ken help Jay van die perd af, en dan kom pa en dogter deur die veld aangestap.  Dit is soos Jay dit wou gehad het, en hoe ‘n pragtige prentjie maak dit nie.

Die paartjie het skaars hulle plek voor die “gazebo” ingeneem of die wind begin waai; eers liggies, maar dan al sterker, en vêrlangs kan die gerammel van donderweer gehoor word.  Die lug wat ‘n paar oomblikke gelede nog sonskynhelder was word donker.  Ek kyk benoud na die “gazebo.” Die wit oortreksel wat ek vir hom gemaak het bol in die wind, en ‘n stuk ivy waai slierterig rond.  In my geestesoog sien ek al hoe die wind die “gazebo” skep en doer onder in die dammetjie, tussen die eende, neergooi.  Die predikant se stem verdwyn in die wind, en almal is dankbaar toe die paartjie kniel om die seën te ontvang.  Dit is asof die reën tot op daardie oomblik teruggehou het, en toe maak hy sy sluise oop.  Party gaste skuil onder die sambrele, ander laat spaander voordat die voetpaadjie te glibberig raak.

Terug by die rondawels kan ek eers Marlè se handewerk waardeer. Die tafels is onder die afdak op die stoep gedek, en lyk soos plaas. Daar is ‘n klein kroeg, en tot die DJ het plek onder die afdak gekry toe dit begin reën het. Die beddens is uit die rondawels gedra; die een rondawel dien as kombuis, en in die ander een is mooi gedekte tafels vir die kos.

Dit is toe ons by die bruidstafel gaan sit dat ek besef dat Jay hartseer is. “Wat is verkeerd,” fluister ek vir haar. Haar oë skiet vol trane, en sy laat haar kop op haar arms sak.  Ek som die situasie op; buietekant sous dit nog een stryk deur, dus is daar geen kans om fotos te neem nie.  Dit is nie ‘n ligtelike saak vir ons familie, met sy baie fotograwe nie.  Jay het juis so uitgesien na die fotosessie op die plaas.  Net daar belowe ek haar dat ons almal die volgende dag weer sal aantrek sodat daar fotos geneem kan word.  Sy kyk my half ongelowig aan, “Sal mamma hulle dit rêgtig doen?”  “Ja, ons sal dit doen, geniet jy net jou dag.” (Later sou ek uitvind dat sy teleurgesteld was oor die fotos, maar dat die rede vir haar trane veel dieper gelê het as dit.)

Tenspyte daarvan dat daar nie vuur in die boma gemaak kon word nie, was die troue heerlik.  Daar is geeët, gedans en gekuier.  Twaalfuur het ek en Ken my pa, twee susters, en hulle mans ingeneem dorp toe om by ‘n vriendin van ons aan huis te gaan slaap.  Toe ons halftwee terugkom op die plaas was alles rustig, en behalwe vir ‘n lig by ‘n karavaan was dit pikdonker.  Jay, en haar man sit op die donker stoep en gesels. “Ek weet nie waar slaap ons vannag nie,” sê sy.  Een kyk in die rondawel wat as kombuis gedien het, vertel my hoekom.  Oral op die vloer lê figure op matrasse en slaap.  Daar is nie ‘n gaatjie oop waar nog iemand kan inklim nie.  “Is daar nog matrasse oor?” vra ek.  ‘n Kykie in die kas, en ons sug verlig; daar is vier matrasse…. maar waar sit ons dit.  Die ander rondawel staan nog vol tafels. Gelukkig kry ons genoeg vloerspasie om die matrasse styf teenmekaar daar in te druk.  En so slaap skoonseun op sy “honeymoonaand” langs sy skoonma.  Gedurende die nag staan ek op om badkamer toe te gaan, en val nog bo-op hom ook.

Leepoog staan ons die volgende oggend op.  Die wêreld lyk asof ‘n orkaan dit getref het.  Dit is net lywe, en klere waar jy kyk, en ons moet weer aantrek, en onsself mooimaak vir die fotosessie.  Die twee blommemeisietjies huil lang trane terwyl hulle hare ingedraai word; Jay se rok is vol modderspatsels; skoonseun se hemp is opsoek, maar word tog vuil, en gekreukel iewers uitgegrawe.  Terwyl ons rondskarrel, kuier die gaste wat oorgeslaap het heerlik op die stoep.  Skoonseun se familie – uitgedos in die vorige dag se klere – daag op, en saam stap ons die veld in om fotos te laat neem.

Terug by die rondawels vind ons my pa, susters, en diè se mans. “Dit is so lekker op die plaas, ons het besluit om nog bietjie te kom kuier,” lag hulle.  Hoekom dan nie? besluit ons, en net daar word planne beraam vir ‘n “brunch” vir diè wat langer wil bly.  Ons kuier ‘n hond uit ‘n bos, en nadat almal weg is begin die groot pak, en skoonmaak.

Jay se plaastroue was heerlik…. net jammer dat skoonseun sy “honeymoonaand” langs sy skoonma moes deurbring.

20 thoughts on “Jay se plaastroue (slot)

    1. Ai Toorts, dis nie ‘n manier om ‘n huwelik te begin deur honeymoonnag langs skoonma te slaap nie. 😯 Weet nie hoeveel manne dit ooit oorgekom het nie.

      Liked by 1 person

    1. Ek het eenkeer “Die Stukkende Fotoraam” geskryf. Indien jy belangstel kan jy dit lees. Deel nie rêgtig oor hul egskeiding nie… maar gee jou so ‘n iewat dieper kykie.

      Liked by 1 person

  1. Ja ou skoonma jy was nregte spoil sport ha ha! Dit maak dit ekstra besonders. Ai dis heerlik en tog hartseer om so terug te dink. Dankie vir die deel, dit is maar “geheime” uit jou dieptes wat opkom as daar weer sulke omstandighede gebeur of plaasvind. Sterkte met die troue, dit sal goed verloop!

    Like

    1. Dankie Scrapydo. Hierdie keer gaan ek net as bruid se ma wat nie nodig het om ‘n vinger te lig nie. G’n gerondgardloop ens nie. Sy familie vlieg van Kaap af in, en dié ontmoet ek Vrydagaand by ‘n ete. Geen kans om weer langs skoonseun te beland nie. 🙂

      Like

      1. Ha ha, lekker man! Geniet dit. Laat my dink aan my seun se troue dat hy nie slaapplek gehad het nag voor troue. My hotelkamer was die enigste plek(Ons het egter n lekker rustige geselsie gehad voor die slaap, wat maar min was)

        Liked by 1 person

        1. Ek het met my eie kinders, en ook as fotograaf op ander troues gesien dat niks ooit 100% uitwerk nie. Daar kan baie dinge skeefloop… waaroor ‘n mens eers later lag.
          ‘n Laaste aand saam met jou seun klink vir my na ‘n bonus…. behalwe natuurlik vir die min slaap.

          Like

          1. Nee wat die min slaap was moeite werd. Arme kind kon sy oë op n stadium voor troue nie oop hou nie. Ja en waar mense betrokke is is altyd “situasies” as jy verstaan wat ek meen

            Liked by 1 person

  2. Oe jitte, ek het nou DIT geniet! Ek kan my net indink hoe mooi moes dit wees toe Jay op die perd daar aankom.

    Eintlik sal hierdie ‘n uitstekende fliek uitmaak! Mag ek net vra: trou die twee dan WEER Saterdag?

    Like

    1. Sparkle in hierdie groot familie van ons met sy vele kinders, speel soveel drama af dat een van ons skoonseuns al tereg gesê het hulle kan ‘n sepie maak van wat hier gebeur.
      Jay se storie terwyl sy getroud was kan ‘n boek oor geskryf word; dit is net nie iets wat ek kans sien om vir die publiek oop te maak nie. Dit is ‘n diep,en hartseer verhaal wat op ‘n egskeiding uitgeloop het. Sy trou met iemand anders, en ek hoop en vertrou hulle sal hierdie keer geseënd wees.

      Like

Gesels saam, asseblief!