Net as ek dink ek het nou alles gesien, dan gebeur daar weer iets wat my, my kop laat skud. Die groot “issues” in die lewe het so gereeld gekom dat dit my nie meer skok nie; dis die klein onverwagte dingetjies wat my nog vang. Ons huisgesin is mos mine, yours, ours and others’ – maar hulle is almal ons s’n. Boeties en sussies met vyf verskillende pa’s en vier verskillende ma’s, uit vier nasionaliteite met genoeg gene om jou kop te laat spin.
Die jare toe my twee oudste tienerseuns vir vakansies kom kuier het, het hulle sommer hulle jonger stiefboetie ook saamgebring. Die motto van ons huis was “open heart – open home,” dus is die kind met groot liefde ontvang…. al het nie sy pa (my eks) of ma met my gepraat nie.
Wel, die kinders het mekaar toe nie uitgemoor nie, en elkeen het hulle eie nes begin skrop. Party se nesse is ook maar goed deurmekaar, waarvan die stil kind s’n definitief die koek vat. Sy en haar man (sal hom maar skoonseun noem) is al ses jaar uitmekaar – maar nie geskei nie. Hy het die twee dogters gevat; hulle een vakansie kom haal en nooit weer teruggebring nie. By daardie tyd het die stil kind klaar by ‘n man vyftien jaar ouer as sy gebly. Skoonseun het ons nog nie weer met ‘n oog gesien nie, en hy is ons nie goedgesind nie. Ons twee kleindogters sien ons so wan en dan met ‘n familiebyeenkoms. Hulle bly ongelukkig vêr van ons af. Intussen het skoonseun ook ‘n nuwe liefde gekry; ‘n vrou met drie tieners, wat ons van geen Adamskant af ken nie.
Vrydagmiddag kom ek en Ken by die huis, en daar staan ons twaalfjarige kleindogter, met ‘n blondekop vriendin aan haar sy, ons en inwag. Bly, maar heel verbaas vra ek natuurlik wat, hoe, waar, wanneer – en hoor die vriendin is nie haar vriendin nie maar haar vyftienjarige sussie (skoonseun se liefde se dogter) en dat hulle vir drie dae kom kuier het. Die nuwe liefde het hulle kom aflaai. Jy kon my met ‘n veer omtik.
Die nuwe sussie (wat ek nou wonder of sy ook as my kleinkind tel) kry natuurlik toe ‘n stywe druk en warm verwelkoming. Gelukkig is Marlé hulle se huis ook ‘n oophuis, en het die twee meisiekinders blyplek. Marlé vra later so half verdwaas of ek dit verstaan. Nee, ek verstaan dit nie maar wat, niks in ons huisgesin het nog ooit veel sin gemaak nie.
En wat maak ek al van Vrydag af? Geniet myself gate uit met die vier tieners op die erf. Speel vingerbord en lag en gesels weer soos toe my kinders in die huis was.
En dan het die IPL krieket ook begin…. hoe lekker kan die lewe nie raak nie!!!