Afval…

Afval… mmm… ek is MAL oor afval. Dit beteken natuurlik nie dat ons dit vreeslik in ons huis eet nie. 😦

Ek het met afval grootgeword. As daar geslag is, is daar afval gekook… vaal afval… kerrie afval… Party mense het vreeslike reëls oor die kook van afval – dit moet buite in ‘n swartpot gekook word want dit ruik nie lekker nie. Ek weet nie, dalk was my ma se afvalle net goed skoongemaak, maar as ek aan die onderpunt van die gang die spesifieke reuk gekry het, het ek geglimlag, want … daar was afval op pad! 🙂 Yes! As jongste kon ek laaste kies. My pa het van die wange deel gehou, my ma die tong, die twee broers het baklei oor die maagsakkie vol harsings en ek, die jongste het gekry wat oorbly – die pootjies en maagvelltjies, wat ek vandag nog kies.

My man het nie met afval grootgeword nie. Hy het graag gesê hy éét afval, maar dit moet rég gaargemaak word (asof hy weet hoe! 😦 ) Om ‘n afval in die hande te kry, was ‘n stryd. Toe ons nog by hulle op die plaas gewoon het, het daar net nie ‘n afval in die huis gekom nie! Later het ek met die slagmense self gepraat, gesmeek, asseblief, ek sal julle betaal vir die skoonmaak, maar ek wil graag ‘n afval hê. O, maar hulle het nie lemmetjies om my afval mee skoon te maak nie. (Belaglik! Waar kry hulle dan lemmetjies om hulle eie afval mee skoon te maak?) Sien, as ek dit nie vat nie, kry hulle dit verniet!, so hoekom sal hulle dan vir my een gee?

Uiteindelik het ek ‘n afval in die huis, pragtig skoongemaak, en gekook. Héérlik. Ek kén mos ‘n afval en weet hoe hy moet lyk. Pappa lig die pot se deksel op en bekyk die besigheid so en sê: “Dis nie kos nie”…

Stryd verloor.

Toe my ouboet nog geleef het, het hy soms ‘n afval of twee kom gaarmaak, dan éét ons tot ons blink!

Noudat ek so besig is met “banting” en ywerig gewig verloor, is ek weer net ekstra ingestel op die lekker van skaapvleis, veral ook die lekker van die vetjies, sonder om skuldig te voel. Op faceboek besing ek die skaapnek, sag gekook, ‘n heerlike ribbetjie met vetjies aan wat die buurvrou gaargemaak het, tjoppies… toe iemand skaapstertjies noem. Skaapstertjies! Prof Noakes sal tog te ingenome wees. 🙂

Lekker eet!

Afval of bo bly?

Toorts

Blink-tot-by-die-ore dag 90

Maar skaapkop? Neeeee! Ek sien nie kans nie! 😉

Let wel: Om Banting te doen is ‘n groot besluit, wat risiko’s inhou. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige person wat dit wil doen nie, ekself is ook maar besig om ‘n proef te doen en te kyk of dit vir my werk. Die beste is om eers jou dokter te nader en sy/haar opinie hieroor te hoor.

 

8 thoughts on “Afval…

  1. My ouma en ma kon die heerlikste afval gaarmaak, en ek het vingers afgelek totdat ek getroud is. Ken het eenkeer in sy lewe as kind daarmee te doen gekry, en blykbaar het ‘n oog uit die afval vir hom geloer. In ons huis was afval dus taboe.

    Like

      1. ja, rys natuurlik, maar daar moet eenvoudig vir my sousbrood ook by wees – die heel lekkerste van die hele afval. tweede die pootjies en fyn velletjies….. ag nou is ek honger!

        Like

Gesels saam, asseblief!