Onttrekking simptome

depressed-woman-dejected-leaning-over-looking-down-34930599Ek het onttrekking simptome, maar om by die rede daarvoor uit te kom moet ek eers ompad langs.  Lank gelede kom Ken een aand van die bybelstudie af terug en vertel van ‘n “seun” wat vir hom baie ongelukkig lyk.  Die volgende Woensdagaand is die bybelstudie by ons aan huis, en diè seun blyk toe ‘n negentienjarige Griekse jongman te wees, wat vir ses maande tussen die mielielande kom bly het om sy prakties vir siviele ingenieurswese te doen.  Lang storie kort, die “kind” is dood ongelukkig waar hy ‘n huis met ander rowwe karakters deel, en ons bied hom blyplek in die karavaan aan, met die voorwaarde dat hy by die huisgesin inval en nie spesiale behandeling verwag nie.

So word Simon the Great Greek ‘n kind in ons huis.  My ouers slaan hulle hande saam; “julle het drie tienerdogters in die huis, dan laat jy toe dat ‘n vreemde jongman by julle kom bly.”  Hulle vrese verdwyn egter toe hulle Simon met sy lang swart hare en “poet shirt,” ontmoet; hulle geniet die unieke karakter net soveel soos ons.  Hy het ons lewens kom verryk.  Daar was baie lag in ons huis daardie ses maande, asook onvergeetbare insidente soos die keer toe hy by my staan en gesels terwyl ek melkskommels maak.  Die volgende oomblik skiet die deksel af, en daar staan Simon met pienk melkskommel wat uit sy hare, en van sy klere af drup. Hulpeloos van die lag klou ek aan die kas vas, en toe begin die eers verleë Simon saamlag.  In die jare wat kom sou ons nog oor baie dinge saamlag, en oor diep dinge gesels.

‘n Tydjie gelede bel Simon my uit die bloute; hy verlang na die tye daar tussen die mielielande, en gesels met groot heimweë oor die Vrydagaande piekniek op die mat.  Ons gesels nie sokker nie, maar dit voel vir my reg dat hy juis toe bel.  Die wêreldbeker sokker lê voor die deur, en Simon se naam is aan die sport gekoppel.  Dit is hy wat my en Ken daaraan voorgestel het, en sy liefde vir die sport aan ons oorgedra het nie?  Ek wat nie ‘n sportliefhebber is nie, is ‘n verslaafde Fifa World Cup Soccer fan.

Skoonseun word genader om die dstv asseblief hierdie jaar vroeër te laat aanskakel.  Daar is net eenkeer ‘n jaar tv op hierdie erf; dit is wanneer die Tour de France plaasvind.  Gewapen met ‘n warmwatersak en duvet, grawe ek myself elke aand voor die tv in, en belewe die lief en leed op die sokkerveld.  “Bedaar vrou,” maan Ken as ek ‘n bietjie warm onder die kraag raak, en gal braak.  Warm onder die kraag of te nie, ek geniet elke oomblik daarvan, en toe netso is die maand verby.  Ek kom met ‘n slag terug aarde toe; Marlè stel voor dat ek die Tour de France – wat toe al ‘n week aan die gang is – volg.  Eers wil ek nie byt nie, maar sy hou aan dat ek die omgewing waardeur hulle ry sal geniet.

Sy blyk toe toe reg te wees.  Ek toer te heerlik deur Frankryk, maar nie net dit nie, die sport self prikkel my belangstelling, en kort voor lank stook ek skoonseun met vrae.  Hy – ‘n ywerige fietsryer – beantwoord my vrae geduldig, en stel tot boeke voor wat ek kan lees.  Weereens sit ek vasgenael voor die tv, en toe is dit ook verby.  Gelukkig kuier ek verlede week by Chantè, en kom nie die gemis agter nie.  Maar nou is ek terug by die huis en het definitief ontrekking simptome.  Dit kom daarvan om jou huis vir ‘n Griek oop te maak, en jou oor vir jou dogter uit te leen.

Ek het darem hierdie troos, sou ek enige plek in die wêreld kon gaan bly weet ek nou uiteindelik waar ek wil bly.  Nee, nie in Griekeland nie maar in die Pyranees.  Dit is die mooiste mooi, en dan kan ek ook sê ek bly in ‘n poskaart.

 

Advertisements

20 thoughts on “Onttrekking simptome

    1. Definitief bly jy in ‘n poskaart Olga. Het ruk terug vir ‘n dag in julle wêreld gaan rondry, en kon aan die einde nie meer die al die mooi inneem nie. Intoxicated, dink ek is die woord om hier te gebruik.

      Like

    1. Waarheen gaan ons? Frankryk toe 🙂
      Jy kan praat want jy bly in die Kaap. Ek het nog nooit in ‘n mooi boomryke wêreld met berge om my gebly nie. Moet wonderlik wees om jou oë in die oggend in so ‘n wêreld oop te maak.

      Like

    1. Hello nonnam 🙂
      Nou wonder ek of ek ook na ooptes sal verlang as ek tussen bome en berge bly? Die Karoo van alle dinge!! Dit klink vir my jy wil baie diep asemhaal 😉

      Like

    1. Ek het ‘n stoorhuis vol wonderlike herinneringe oor die mense wat my pad gekruis het. Partykeer voel ek dat elke karakter ‘n volledige storie kort om reg te laat geskied aan hom/haar.

      Like

  1. Ek bly vir ‘n gedeelte van die jaar in ‘n poskaart. Het julle al die Jakaradas van die noordelike voorstede van Johannesburg in Oktober gesien?

    Like

    1. Lekker om weer van jou te hoor. 🙂
      Praat jy Parktown wêreld? Het by Helpmekaar skoolgegaan, en onthou die mooi Jakarandas as ons met bus heen en weer gery het.
      Ek bly in die Jakarandastad, maar die nuwe uitbreidings het nie Jakarandabome nie. Ek en my vriendin maak ‘n “outing” daarvan om ten minste een keer ‘n jaar Jakarandas te gaan kyk.

      Like

  2. Ja, so het ons almal verlangens en versugtinge. Pta het tog ook maar mooi dele. Bosveld was ook maar my geliefde deel gewees. Dit het met die jare so verander dat dit nie meer dieselfde gevoel gee nie. Kan ook nog nie glo dat ek hier in NZ is. Naby die see, hooge berge en bome – ongelooflik om te beskryf.

    Like

    1. Alles is nou so bebou hier in Pta, dat ‘n mens nie meer die natuur sien nie.
      Mos vir jou gesê jy bly in ‘n poskaart 😉 Wanneer jy na die mooi kyk, kyk ‘n tweede keer vir my ook!!

      Like

      1. Sug, dis nie lekker om elke dag “koue, reguit lyne en heinings” te sien nie. Mens raak nogal moeg vir geboue. Ek kyk spesiaal vir jou ook elke dag. Vanoggend was dit weer swaar bewolk met buie. Het amper droog/nat tuis gekom na my vroeg lopie. Moes draf om by die huis te kom terwyl Trompie dog dis ideaal om gou nog n paar ekstra stuffe in te kry. As ek so probeer draf dink hy ek speel nou te lekker!

        Like

        1. Ek vertel vir almal wie wil luister dat jy in ‘n poskaart bly, en dan die wonder daarvan dat jy vroegoggend sonder vrees kan gaan stap,
          Jou gelukkige meisie 🙂

          Like

          1. Ek is baie dankbaar dat ek hier mag wees. Lewenskoste is ongelukkig baie hoog. As dit nie vir my seun was nie sou ek dit nie kon doen nie.(eintlik moet ek se dat die Rand so min werd is!) Die rustigheid en mooi maak egter op daarvoor.

            Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s