Butternut en Banting

Iemand vra of ons butternut, of eerder, botterskorsie, mag eet as ons die Bantingleefstyl volg.

Ja, ons mag botterskorsie eet as ons die Bantingleefstyl volg, maar …

Botterskorsie is op die oranjelys, en ons weet mos dat ons oranjelysitems net in beperkte hoeveelhede mag eet.

Sommer net weer ter verduideliking:

Van die groen lys mag ons eet soveel ons liggame benodig.

Rooi items? Glad nie. Niks. Nul.

Oranjelys, soos aangedui, maar die oranjelys lees jy nie en, en, en nie, maar of, of of.

Terloops, pampoen is op die groen lys, dis net botterskorsie wat op die oranjelys is. Jy mag een en ‘n halwe koppievol botterskorsie per dag eet, maar as jy soveel geëet het, mag jy vir daardie dag geen ander oranjelysitems eet nie. Die getalle soos wat dit in die oranjelys aangedui word, is die totaal vir die hele lys vir die dag. Dus, as jy een en ‘n halwe appel geëet het, is jou kwota oranjelysitems vir die dag vol.

Botterskorsie is soeter as ander pampoen, daarom hou ons so baie van dit, en dis glad nie nodig om dit enigsins te versoet nie. Ek gooi sommer net ‘n bietjie Aromat oor en maak dit gaar met botter. As jy bang voel vir Aromat, geur dit met liefde soos wat jy verkies.

As jy egter versigtiger met die koolhidrate wil wees, kies dan eerder van die ander pampoensoorte.

Baie mense voel hulle wil glad nie van die oranjelys af eet nie. Dis egter heeltemal onnodig en ek voel ‘n mens beperk jouself te veel as jy nog die hele oranjelys ook uitsluit. Ons sluit alreeds al die stysels en suikers uit. Dus, as jy lus het vir iets op die oranjelys, eet dit, maar hou net by die voorgeskrewe hoeveelhede.

My laaste stuiwer in die armbeurs: Oppas om jou Banting té ingewikkeld probeer maak met onnodige goed wat jy uitsny, of om dit moeiliker te probeer maak as wat dit reeds is. Hou eerder by die reëls soos dit vasgestel is en verseker daardeur dat jy op die Bantingbus bly, in plaas daarvan om dit onnodig moeilik te maak en dit nie te kan volhou nie.

Groetnis

Toortsie

 

As ‘n mens net volhou

‘As ‘n mens net volhou daarmee, dan verloor jy gewig’, sê iemand nou die dag oor een of ander dieet wat soveel mense volg. As ‘n mens net volhou. Dís die waarheid van seker die meeste dieetprogramme, jy sal gewig verloor solank jy volhou.

Ongelukkig is al die dieetprogramme wat beskikbaar is, nie volhoubaar nie. Óf jy word weerhou van gesonde kos, of jy moet jouself behoorlik uithonger, of dis volksvreemd, of jou wildskrag is te min.

Daar is sekerlk baie mense wat begin het met Banting en ook nie volgehou het nie, so daar kan dalk gesê word dat dit óók nie volhoubaar is nie. Dit hang net af met watter bril jy kyk! 😎

Vir my is Banting 100% volhoubaar en ek weet van baie mense wat dit al vir jare volg. Op 27 Julie 2018 volg ek dit reeds vir vier jaar, ek dink dit kan dan al begin tel as volhoubaar, of hoe? En ná 6 maande het nie een van die goed wat die slim mense gesê het sou gebeur, gebeur nie. Daar was nie eers ‘n aardskudding nie! 😱

Banting werk beslis vir my, ek kan ongelukkig net namens myself praat. Ek kyk steeds nie terug nie. Ja, dit wás ‘n aanpassing aan die begin, onthou ek is ‘n suikerverslaafde wat mál was oor brood en tjoklits en aartappels en en en …

As ‘n mens net volhou daarmee. 🤗

Groetnis

Toortsie

My grootste vrees

Die ding wat ek lewenslank vrees, is dat my gesig iewers op die voorblad van ‘n koerant sal verskyn. Dit is mos gewoonlik net slegte nuus. Skindernuus.

Wel … uhm … dit hét gebeur en ek het niks verkeerds gedoen nie. Wel, nie in die Vleisvreters van Egipte se oë nie! Daar is natuurlik ‘n groep aan die ander kant van die spektrum wat anders daaroor dink, maar ek respekteer dit heeltemal.

Toe ek destyds my drie minute van roem gehad het deur op Pasella te verskyn, storm ‘n meisie op my af in opwinding. Sy sien ek koop ‘n gaar hoender om die middag te eet en kan nie glo dat ek nie ‘n gesondheidsbroodjie daarby bedien nie. Ek sê ek eet nie brood nie en haar oë rek. Ook nie rys nie, die oë rek meer. Ook nie aartappels nie, sy haal amper nie meer asem nie. Ek sê dat, as ek daardie goed geëet het, ek nie op die TV sou kom nie.

Iemand het vir my ‘n goeie woordjie gedoen, nes Seegogga destyds vir my opgekom het by Pasella. Ek het nie daarvoor gevra nie, ek beweeg net dankbaar saam met die stroom.

Mag my ergste vrese nooit bewaarheid word en my skandes op ‘n koerant se voorblad uitbasuin word nie! Intussen ry ek net rustig op die golf. ‘In Awe’.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

Hoe gemaak met die suiker?

Ja, sê die tannie wat regtig graag gewig wil verloor, dis alles goed en wel om te sê, sny alle suiker en stysel uit, maar hoe kry sy dit reg? Kyk net na volgende week: Sondag is daar  ‘n soetdingetjie ná ete, Maandag moet ons ‘n koek van iemand gaan proe, Dinsdag is dit leeskring en daar word gewoonlik uitgehang met die eetgoed, Dinsdagmiddag is dit VLV, dan eet ons weer, Woensdag is dit … ens, tot Sondag, wat ons weer ‘n soetding eet. Soetgoed elke dag!

Ek besef dit kan soms baie moeilik wees. Sommige weke kom alles net op ‘n hoop!

Die kere wat jyself in beheer is, soos die Sondagmiddagete, of die kinders wat huis toe kom, is eintlik die maklike deel. Maak Bantingsoetigheid. Of, as hulle nie Bantingsoetigheid wil eet nie, maak vir vir hulle ‘n soetigheid, maar sorg dat daar vir jou ‘n heerlike Bantingsoetigheid is sodat jy ook iets het om aan te smul. (En as jy nie weet wat om te maak nie, vra vir Toortsie!)

Dis een van my groot reëls: As daar groot feesvieringe kom en ek weet die verleidings gaan baie wees, sorg ek beslis dat daar vir my iets in die yskas is wat baie lekker is. Ek dink in elk geval dat die Bantingkaaskoek uit Tootsie se Bantingboerekos baie lekkerder is as die suikerryke eweknie!

Nog ‘n kroekfnuiker (Toortsieskepping), is om, net voor jy na ‘n samekoms gaan waar jy weet die verleidings baie gaan wees, iets lekkers en vullend by die huis te eet. Eet ‘n lekker dik stuk kaas en kou op pad soontoe aan ‘n paar neute. Ek is baie lief vir Braziliaanse neute, een daarvan maak sommer ‘n groot holkol toe. Wanneer die tee en eetgoed dan bedien word, voel jy versadig en is die versoeking nie so groot nie.

Of, bied aan om iets saam te bring. Maak lekker Bantingmuffins of ‘n tert uit Toortsie se boeke. Daardeur verseker jy dat daar iets is waarvan jy kan eet, en ek kan jou waarborg dat al die suikereters net so lekker aan jou suikervrye eetgoed gaan smul.

Onthou, wanneer jy by ‘n funksie is, om eers rustig te kyk wat daar alles bedien word en, voor jy skep, te besluit wat jy gaan inskep. Dit maak dit baie makliker.

En, sou dit gebeur dat daar regtig niks is vir jou om te eet nie, waar kos bedien word en jy regtig geen keuse het nie, eet dan maar wel ‘n stukkie van die pasta met baie slaai, en onthou om minstens ‘n week daarná ektra versigtig te eet.

Die belangrikste van alles: Moenie jouself jammer kry nie, dis nie nodig nie. Dit wat jy mag eet, is baie lekkerder as dit wat jy nie mag eet nie.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

Om te kul is nie die moeite werd nie

Om die waarheid te sê, is geen kullery in die lewe die moeite werd nie. Jy dink dalk jy wen ‘n treetjie, maar in die proses verloor jy baie meer as net daardie een treetjie wat jy gewen het.

Eintlik wil ek skryf oor kul in Banting. Toe ek begin Bant het, het my dokter vir my gesê dat ek vir myself een kulgeleentheid per week moet toelaat. Ek weet die Bantingpolisie sal nou weer stuipe kry hieroor, maar nou ja, dan is dit nou maar so.

Daardie een kulgeleentheid per week het nie beteken dat ek elke Sondag heeltemal mal geraak het en elke koolhidraat geëet het wat voorkom nie, dis mos absolute malligheid en mense wat dit doen, val op die ou end van die Bantingwa af met skoene en hoed en al. Ek het dit glad nie so gedoen nie, en doen dit nog steeds nie so nie.

Maar, daardie toelating van een kul per week het wel vir my ‘n bietjie vryheid gegee. Sou ek by vriende kom en hulle het net pasta op die tafel, het ek vinnig gekyk wanneer my vorige kulgeleentheid was, en sou dan daarvan eet sonder om skuldig te voel en die gasvrou in die gesig te vat. En hier lê die groot geheim. Vir MINSTENS ‘n week daarná sal ek dan NIE weer kul nie, selfs al is dit die enigste kos wat voor my neergesit word.

Dit was dus beslis NIE ‘n weeklikse kullery nie, maar sou ek wel in ‘n ongemaklike situasie kom, was dit vir my ‘n oplossing. Dan sou ek nie sommer van die bus afval nie.

Nou, na amper vier jaar van Banting, gebeur die kullery omtrent glad nie meer nie. En wanneer dit gebeur, besef ek elke keer: Dis net nie die moeite werd nie.

Daardie lieflike, soet stuk kaaskoek wat vir die oomblik ‘n amper walglik soet sensasie is, se nadraai is baie slegter as die sensasie van die oomblik: Die soet smaak wat in jou mond bly hang, die hoofpyn daarna, maar veral ook die luskry vir al die soetgoed wat jy sien vir die volgende vyf dae is net nie die moeite werd nie. Waarom sal jy vir jou ‘n spul probleme op die hals dra en dit oor ‘n blokkie kaaskoek? Nee man!

Maak eerder vir jou ‘n lieflike Bantingsoetigheid, dis in elk geval baie lekkerder. Ek kry eintlik die ander mense so jammer as ek ‘n lieflike Bantingkaaskoek met egte room en roomkaas eet en hulle eet die opgepofte, oorsoet, tert met nagemaakte room. Daar is net geen vergelyking nie.

Dis nie aldag maklik nie, maar beslis die moeite werd. Soos Tina Herselman baie jare gelede gesê het, as jy moet moeite doen vir iets, is dit gewoonlik die moeite werd.

Mooi loop

Toortsie

Toortsie by Finesse: Die jongman by #Imagine

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie