Toortsie se voelgoedstorie nr 14 – Die storie of die foto?

Die storie? Of die foto?

Soms het ek ‘n storie in my kop, maar nie ‘n foto om daarby te pas nie. Ander kere, weer, het ek die foto, maar nie die storie nie.

Dis maar hoe die lewe werk! Alles gebeur nie altyd soos ‘n mens dit graag sou wou hê nie. Alles werk nie altyd perfek uit soos jy dit in jou kop gehad het nie.

My man het ‘n paar jaar gelede ‘n klompie donkies by ‘n buurman present gekry. As daar donkies saam met skape loop, keer dit blykbaar die ongediertes weg, sê hulle. Kan jy glo! Om inteling te verhoed, het ons ‘n pragtige hings geleen by iemand anders. Ons eie hingste en merries is van mekaar geskei en die merries het nou lank saam met die geleende hings geloop.

En wat sal ek nou die dag sien? Vier merries, elkeen met ‘n klein vulletjie! So pragtig! Beslis ‘n foto werd.

Ek het dit aan manlief genoem dat ek graag ‘n foto van hierdie troppie merries en vulletjies wou neem en toe ons Sondag van die kerk af kom, hou hy verby ons afdraaipad om die donkies te gaan afneem. 🙂

So nou het ek die foto, maar nie ‘n storie nie!

Behalwe dalk hierdie storie: Om jou lewe na die beste van jou vermoë te leef, met dit wat beskikbaar is, sonder om die hele tyd te verlang na die iets wat kort; Om die beste van vandag te maak. Dis mos wat Hebreërs vir ons sê: Solank daar nog ‘n vandag is …

Laat ons hierdie vandag vasgryp en dit voluit leef, tot eer van God.

Groetnis

Toortsie

My manlief het hierdie foto geneem.

foto-by-finesse-14-die-storie-of-die-foto

Come on, let’s stop all the seriousness and have some fun. Enjoy the donkeys! 🙂

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Ek is nie ‘n minimalis nie.

Toortsie by Pinterest

Jeanine

Hello julle! Ek is Jeanine en het ‘n vreeslike lekker werk. Die werk kan lekker wees, maar soms ook uiters uitputtend, dit hang net van die kliënte af!

Ek is ‘n trou-koördineerder. Ek werk vir ‘n firma wat troues reël. Ons sorg vir die kosmakery, die drank, en ons doen die versiering van die lokaal ook. Heerlik! Ons werk met mooi goed, mooi mense.

Sommige bruide is net ‘n fees om mee saam te werk! Hulle het mooi idees, hulle idees is uitvoerbaar en saam met dit het hulle mooi geaardhede. Maar soms … ja soms … kom bruide met die vreemdste idees denkbaar. Elkeen wil haar troue uniek hê, dis waar, maar soms is hulle só vol planne dat ons hande eintlik afgekap is. Dan is daar nie ‘n kans dat ons ‘n ding kan uitpraat nie, hulle wil dit só hê en basta die res, terwyl ons wéét dit gaan nie werk nie.

Elke troue is anders. Die een wil baie blomme hê, die volgende een soek drapeersels, ‘n ander een wil alles in goud of silwer hê, die ander een soek hout. Die een vra vir tafeldoeke en  oorgetrekte stoele, die volgende een vra vir houttafels en houtstoele. Of glas. Of kristal. Pienk, rooi, blou, groen, goud, ag noem maar op! Dis só interessant!

Soms kom ‘n bruid met ‘n nuwe, vars idee, wat met ‘n bietjie gesels al hoe mooier en uitvoerbaarder klink. Sy bring haar idees, ons sit ons s’n by en op die ou end kry ons ‘n troue wat net besonders is.

Oeee en party bruide gaan vir die prys! Dis natuurlik héérlik, maar dit kós ook ‘n prys! Maar wat gee ek om? As die ouers of wie ook al bereid is om te betaal, haal ons uit en ons wys. Net die beste van alles! Daar is net nie perke nie.

Daarteenoor is daar weer troues waar geld ‘n bietjie van ‘n probleem is en dís waar die grootste uitdaging lê: Om steeds iets moois en spesiaals te doen sonder dat dit ‘n plaas se geld kos. Van plaas se geld gepraat, sjoe! Wag, laat ek eerder stil bly.

Die kosdinge is net so interessant. Die een bruid wil net lekker kos en baie ook hê, die volgende een soek pikante disse, klein bietjies op die bord. Dan is daar die vegetariërs en die vleis-eters, vrugte-eters, jy sal nie gló watse kosvoorkeure ons alles mee te doen kry nie!

Maar wag, ek het ‘n troue om te reël! Wederom!

…………………………………………

100% Verbeelding van Toortsie

Toortsie se faceboekbladsy

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekbladsy

Toortsie by Finesse: Verrassing!

 

Winkel etiket

Lank gelede was daar een keer op Loslip ‘n bespreking oor als wat mense in winkels verkeerd doen en wat ander mense irriteer. Ek moet erken: Ek was omtrent SKULDIG aan AL daardie klagtes. 😦 Ag, en ek voel ook glad nie sleg daaroor nie. Dalk werk dit bietjie anders in die platteland.

Ja, ek laat staan soms my waentjie op ‘n plek, omdat daar so baie mense by die rak is en ek dan nie met my waentjie tussen hulle wil deurskuur om my blikkie tuna van die rak af te haal nie…

O, en ek gesels in die winkel. Ek KUIER in die winkel. Natuurlik nie die dag voor krismis nie. Dan is ek sooo geïrriteerd met ALMAL wat nou net DAAI dag nodig het om te kom kersfees shopping doen. Nie net dié wie die goed moet kom koop nie, maar die oempie en die antie en die hele trek tjennertjies wat saamkom en rondhardloop en skree en die speelgoed uittoets… mêns net waar jy kyk…

Maar deur die jaar… 🙂 Hier waar ek woon, kom ek nie baie by mense nie. Sorrie, ek probeer nie jannie jammergat speel nie. As ek dan op die dorp kom, en veral in die winkel, is ek SO bly om ander mense te sien. Ek kyk hulle mooi uit, lol nie met die haastiges nie, maar dié wie ook bly is om mense te sien… oeee… ek hou van kos koop! Ons staan mooi eenkant, ons paadjies tussen die rakke is mos nie so vol nie!

Gister het ek gou by ‘n plekkie middagete geëet. Daar sien ek ‘n tannie wat ek seker 15 jaar terug gesien het. Oeee en sy KAN gesels, Baie gesels, Aanhoudend gesels… en sy woon ook op ‘n plaas en is UITGEHONGER vir gesels. So, terwyl ons vir die kos wag, praat sy. Toe haar kos kom, gaan sit sy aan haar tafel, met haar rug na my, en steeds PRAAT sy die hele tyd met my. Vertel my stories wat ek net nie kan glo nie, hard en duidelik. 😉

Ek loop haar later weer in die winkel raak. Ons benader die winkel van dieselfde kant af, maar betree elke rak van verskillende kante af, so ons kruis mekaar tussen elke volgende rakke weer… dan gaan sy aan met haar storie… tot by die volgende rak… en die volgende rak…

Ag, ek het sommer met ‘n glimlag huis toe gekom. 🙂 Ek dink sý ook.

Gesels-gesels kom die koop maklik verby.

Toorts

Oggendtroue

Ek herhaal die woorde wat iemand gister vir my gesê het: “Ons is so gewoond aan aandtroues, ons onderskat die waarde van ‘n oggendtroue.”

Dit is na aanleiding van my eie kind se troue wat so ‘n week of wat gelede was. ‘n Oggendtroue.

In my kinderjare het ons nogals oggendtroues bygewoon, maar dis iets wat heeltemal in die niet verdwyn het. Hier by ons in elk geval. Een of ander baie mooi lokaal  (“venue”) word gehuur, die troue is gewoonlik in die namiddag, solank die bruidspaar foto’s neem geniet die gaste die mooi omgewing van die lokaal, en wanneer die bruidspaar kom, gebeur die ete en dans daarmee saam. Tog te lekker. Dis mos soos dit hoort.

My nuwe skoondogter het ander idees gehad en ek bewonder haar daarvoor. Die troue was half 11 die oggend in die kerk, waarná almal (die bruidspaar inkluis) na ‘n pragtige plek in die oopte vertrek het. Ek sê “in die oopte” omdat dit ‘n plek is waar geen ander geboue te sien is so ver die oog kan sien nie. ‘n Tent is op die grasperk opgeslaan (net tentdak, nie tot tot heel onder), en die meeste gaste is sommer aan lang tafels gesit. Geen bruidstafel nie. Gesellig. Die kinders het lekker op die gras gespeel en in die dammetjie geswem, terwyl die mammas moes waghou! Geen oorverdowende musiek nie. Almal het heerlik gekuier, rondgestaan, gesels, geëet… Teen half 5 het die bruidspaar vertrek om foto’s te gaan neem vir die res van die dag, en so stil-stil het die gaste, vervul na hart en siel, ook gegaan…

En die wonderlikste wonder van alles? Die paar dae vooraf was dit STORMWEER en hier kom die Saterdag met die mooiste lentedag waarvoor mens kan vra. 🙂

Het ek genoem dat almal geklee was in skakerings van grys en blou?

Ag ja, en toe die foto’s uiteindelik klaar is, en die bruidspaar moeg en honger… moes Kentucky maar regstaan vir ‘n bruid en bruidegom in volle gewaad! 😯

Toorts

En dit, dames en here, was my 100e pos van 100 lekker dae, al het dit vir my maaaaande gevat om klaar te kry. Stadig maar seker wen dikwels die beker… Agteros kom ook in die kraal… Wat maak dit saak hoe lank dit geneem het, solank dit net klaargekom het? 🙂 :mrgreen:

…uhm… ek het die foto’s geleen by my ou swaerie en ook ander wat dit op faceboek geplaas het… hoop nie hulle gee om nie!!

O, en die bruidskar wat julle op een foto sal sien, was baie spesiaal, dit behoort aan ‘n baie spesiale familielid en die registrasienommer is nog meer spesiaal! 🙂

Die trourokke wat daar eenkant hang, is die rokke wat die twee moeders (van die bruid en bruidegom), en twee van die oumas van die bruidspaar gedra het… jare gelede…

4 Jaar

WordPress het my nou net laat weet: Ons blog is 4 jaar oud vandag!
Eintlik is dit ‘n bietjie ouer, want ek het so vir ‘n rukkie onder my eie naam geblog, maar joe! 4 Jaar!!
Dankie Kameel, dankie Bokbaaivygie!
Dankie vir elkeen wat hier lees. Sonder julle sou ons nie aanhou skryf het nie.
Toorts

Lekker dag 99!!

Gits, dit moes op 10 September gepubliseer wees! Wat sou verkeerd geloop het dat dit nie gepubliseer was nie?