Hoekom mense nie spaar nie

Ek het al baie redes gehoor hoekom mense nie spaar nie. Dalk het hulle nie in ‘n spaarkultuur grootgeword nie? Dalk weet hulle nie dat dit uiters belangrik is om te spaar nie? Dalk besef hulle nie dat die pensioen waarop hulle staatmaak vir oudag slegs 70% van die inkomste gaan wees waaraan hulle gewoond is nie? Dalk vergeet hulle dat daar ‘n tyd gaan kom wat hulle nie meer hulle inkomste kán aanvul nie? Dalk ignoreer hulle die gedagte van die wis en die onwis? Dalk is hulle so gewoond daaraan om wanneer hulle vasdraai, by iemand ‘n paar rand te leen? Dalk sien hulle net nie hulle weg oop nie en kan hulle alreeds nie met hulle geld uitkom nie? Dalk verkry hulle hulle baie goeie inkomste op ‘n nie so wettige manier en voel nie dat ‘n mens ‘onwettige’ geld spaar nie?

Die waarheid is dat ons vir enige ding wat ons doen of nie doen nie ‘n goeie rede sal kan fabriseer. Die waarheid is dat mense regtig baie swaar kry en net nie ‘n geldjie hét om te spaar nie. Dan is daar nog inflasie en is die R10 wat ek vandag belê oor twintig jaar niks werd nie, sê party, so waarom dan spaar?

Die Rykste man in Babilon sê dat ál manier wat jy meer geld in jou beursie kan kry, is om nie alles wat in jou beursie is, uit te gee nie. So maklik soos dit. As jy hierdie maand tien goue munstukke in jou beursie het, is die geheim om net nege daarvan uit te gee en een in die sysakkie van jou beursie te sit. As jy volgende maand dan weer tien goue muntstukke kry, dan het jy ELF in jou beursie! Maar weer sit jy een van daardie tien in die sysakkie. En weer. En weer. En weer. En voor jy jou kom kry, binne minder as ‘n jaar, is daardie sysakkie vetter as jou maandelikse inkomste. En dan hou jy steeds aan om elke maand een van die muntstukke eenkant te sit.

Soos die ou plaaswerker daardie jare vir my gesê het – ‘n mens slag nie jou lammerooie nie. Hoe waar het hy nie gepraat nie! Want jou lammerooie gee vir jou lammers wat vir jou lammers gee en weer en weer.

Dalk kan jy dit regtig nie bekostig om te spaar nie. Maar, as jy dalk iewers tóg ietsie kan afstaan, dalk ‘n glasie Coke of iets, ek belowe jou jy sal nie spyt wees nie. Ek praat uit ondervinding.

Toortsie

En wanneer kan jy dalk begin rustiger voel oor jou besparings? Blykbaar wanneer die opbrengs uit jou beleggings jou lewenskoste dek.

6 thoughts on “Hoekom mense nie spaar nie

  1. Ons het ook daardie boek (net in Engels – Rich man of Babylon) al ‘n hele paar keer gelees en het baie daaruit geleer.
    Eers in ons laat 30’s het ons besef dat wanneer jy jou salaris ontvang, jy jouself eerste moet betaal … dus het ons altyd ons begroting uitgewerk op 90% van ons inkomste. En dit het ‘n groot (positiewe) verskil gemaak noudat ons ons 50’s betree (my man ja, ek’s amper daar 😉).
    Dit is nie maklik om te spaar nie (want mens sien nie altyd die gewenste uitwerking onmiddellik nie en wil dan sommer tou opgooi), maar dis absoluut die moeite werd!
    Dalk kan skole dit inwerk in hulle kurrikulum (as dit nie reeds daar is nie) … jongmense kan soveel baat vind hierby!

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!