Ek het al baie redes gehoor hoekom mense nie spaar nie. Dalk het hulle nie in ‘n spaarkultuur grootgeword nie? Dalk weet hulle nie dat dit uiters belangrik is om te spaar nie? Dalk besef hulle nie dat die pensioen waarop hulle staatmaak vir oudag slegs 70% van die inkomste gaan wees waaraan hulle gewoond is nie? Dalk vergeet hulle dat daar ‘n tyd gaan kom wat hulle nie meer hulle inkomste kán aanvul nie? Dalk ignoreer hulle die gedagte van die wis en die onwis? Dalk is hulle so gewoond daaraan om wanneer hulle vasdraai, by iemand ‘n paar rand te leen? Dalk sien hulle net nie hulle weg oop nie en kan hulle alreeds nie met hulle geld uitkom nie? Dalk verkry hulle hulle baie goeie inkomste op ‘n nie so wettige manier en voel nie dat ‘n mens ‘onwettige’ geld spaar nie?
Die waarheid is dat ons vir enige ding wat ons doen of nie doen nie ‘n goeie rede sal kan fabriseer. Die waarheid is dat mense regtig baie swaar kry en net nie ‘n geldjie hét om te spaar nie. Dan is daar nog inflasie en is die R10 wat ek vandag belê oor twintig jaar niks werd nie, sê party, so waarom dan spaar?
Die Rykste man in Babilon sê dat ál manier wat jy meer geld in jou beursie kan kry, is om nie alles wat in jou beursie is, uit te gee nie. So maklik soos dit. As jy hierdie maand tien goue munstukke in jou beursie het, is die geheim om net nege daarvan uit te gee en een in die sysakkie van jou beursie te sit. As jy volgende maand dan weer tien goue muntstukke kry, dan het jy ELF in jou beursie! Maar weer sit jy een van daardie tien in die sysakkie. En weer. En weer. En weer. En voor jy jou kom kry, binne minder as ‘n jaar, is daardie sysakkie vetter as jou maandelikse inkomste. En dan hou jy steeds aan om elke maand een van die muntstukke eenkant te sit.
Soos die ou plaaswerker daardie jare vir my gesê het – ‘n mens slag nie jou lammerooie nie. Hoe waar het hy nie gepraat nie! Want jou lammerooie gee vir jou lammers wat vir jou lammers gee en weer en weer.
Dalk kan jy dit regtig nie bekostig om te spaar nie. Maar, as jy dalk iewers tóg ietsie kan afstaan, dalk ‘n glasie Coke of iets, ek belowe jou jy sal nie spyt wees nie. Ek praat uit ondervinding.
Toortsie
En wanneer kan jy dalk begin rustiger voel oor jou besparings? Blykbaar wanneer die opbrengs uit jou beleggings jou lewenskoste dek.