Gister hoor ek die laaste stukkie van die gesprek tussen Amoré Bekker en Shimmy Isaacs op RSG. Sjoe! Wat ‘n oulike vrou! Sy sê dat sy nie geld gehad het nie, as kelner opgetree het en elke sent wat sy gekry het in die vorm van fooitjies, gebruik het om dramawerkswinkels by te woon. Volgens Google net sy nou ‘n nagraadse diploma in drama. Fantasties! In haar slotparagraaf sê sy: “Onthou, die wêreld skuld jou niks.”
Ja, die wêreld skuld ons niks en ons moet maar self ons handjies uitsteek en dit wat die Here vir ons gegee het, begin gebruik. Vir die een het Hy een talent gegee, vir die ander een vyf. Dit was Sy keuse hoeveel Hy vir elkeen gee en ons mag voel dat dit onregverdig is dat die ander meer as ons gekry het, maar die wonder is dat ons álmal beslis ietsie gekry het. Onverdiend. Al is dit dalk min. Wat Hy wil hê ons tot Sy eer moet aanwend.
Ek moes ook leer om dit wat tot my beskikking is, te gebruik. Die vaardighede wat die Here my gegee het, ontwikkel en probeer om ‘n geldjie daarvan te maak om die pot aan die kook te hou. Naaldwerkies gedoen wat ek kon verkoop. Hekelwerkies vir die tuisnywerheid. Koekies gebak. Jy weet, ‘n mens het net een pakkie meel nodig om jou eerste koekies te bak en dit te verkoop om nog ‘n pakkie meel te koop … Een bolletjie wol om ‘n kep te brei. En daardie geldjies het ek weer gebruik om my verder op te lei daar waar ‘n deur op ‘n skrefie vir my oop was.
Pastoor Ettienne van Heerden het een keer ‘n preek gehad oor: Wat het jy? Na aanleiding van Elisa wat vir die arm vrou gevra het wat sy het om haar skuld te betaal in 2 Konings 4. Net ‘n kruikie met olie. Hy gee haar die belaglike opdrag om orals houers bymekaar te maak en dit vol te gooi uit daardie klein kruikie. Sy kon geantwoord het dat hy laf is, maar sy het dit gehoorsaam.
Jip. Wat het jy? Daar waar jy so moedeloos voel en regtig nie meer weet watter kant toe nie? Om mee te begin, dalk gebed? Dalk ‘n spesiale vaardigheid? Dalk twee hande wat jy kan uitsteek en iewers te help? ‘n Oor?
Mag jy sien waar daar dalk in jou duisternis ‘n klein straaltjie lig skyn.
Toortsie
Amen hierop, Toortsie.
LikeLike
❤
LikeLike
My ouma het altyd gese: “Die Liewe Heer het vir my hierdie twee hande gegee en ek sal dit gebruik om te verdien en vir Hom dankie te se” … en dan het sy sommer so terselfdertyd vir ons kleinkinders ook in die werk gesteek “sodat julle met julle klein handjies ook vir Hom kan dankie se”. Wyse woorde wat ek vandag nog onthou 😊.
LikeLiked by 3 people
Beslis ‘n wyse ouma daai!
LikeLiked by 1 person
O ja, sy was beslis 💌.
LikeLiked by 1 person
Daardie klein straaltjies lig is nie net belangrik en kosbaar vir ander nie maar ook vir jou eie siel en menswees.
LikeLiked by 1 person
O ja! Beslis. Mens gee mos mekaar hoop.
LikeLike
Netso.
LikeLike