Wat maak jou bang?

Sondagoggend voor kerk, terwyl ons voorsanggroep oefen, vra die dominee wat ons bangmaak. Onveiligheid. Vrees dat ons kinders iets sal oorkom. Finansies. Onsekerhede in ons land.

Tydens die erediens vra hy dit in die kerk. Elkeen wat iets noem, word gevra om vir sy vrees te kom bid. ‘n Kind sê antwoord: Slange. ‘n Ander kleine kind kom smeek by God dat Hy sy ma moet gesond maak. ‘n Ou dame steek haar hand op. Sy vrees verwerping. Sy noem in haar gebed dat ons oud word en in die proses verwerp word.

Vrees vir verwerping. ‘n Vrees wat mens nie sommer hardop noem nie, nie vir jou naaste mense nie, nie in die openbaar nie. Maar hierdie tannie het die moed om haar hand op te steek en dit te noem. Ek bewonder haar daarvoor.

Hoeveel van ons het nie hierdie vrees nie?  Die vrees om verwerp te word, nie aanvaar te word nie, nie goed genoeg te wees nie? Dis moeilik om te erken, maar ook ék het dit. Is dit ‘n vorm van swak selfbeeld dalk?  Is dit ‘n geval dat jy in jou lewe tog maar soms verwerping ervaar het, selfs al is dit nie deur die ander persoon as verwerping bedoel nie, dalk deur ‘n onnadenkende opmerking deur ‘n ouer of onderwyser of ander volwassene? Dalk deur die optrede van iemand ná aan jou, jou man, jou vrou, selfs jou kinders in hul tienerjare, jou beste vriend, iemand wat jy vertrou het?

Is sommige mense dalk meer sensitief, of by tye meer sensitief?  Dieselfde dinge wat jy die een dag van jou sal laat afrol, gaan sit die ander dag onder jou vel?

Ek dink tog dat die vrees vir verwerping iets is waaraan gewerk kan word, eintlik kan ek getuig daarvan dat dit so is. Deur te werk aan jou gees, deur doelbewus aan jou selfbeeld te werk, kan jy begin beter voel oor jouself. Deur tyd met God te spandeer, Sy liefde in te drink, te besef dat jou waarde vir Hom ver bo korale is, dat Hy jou liefhet nét soos jy is, kom daar genesing. Soms is dit nodig om ‘n sleg situasie te oordink en te besef dat die probleem eintlik nie by jou lê nie, dalk voel die ander persoon nie goed nie, hy is dalk moeg en ontsteld oor iets anders en het toe teenoor jou oorreageer.

Mense sal sê dis makliker gesê as gedaan, maar ek kan opreg sê, omdat ek dit al soveel keer gedoen het: Bring jou vrese vir God. Gee dit vir Hom. Sê vir Hom waarvoor jy bang is. Vra dat Hy dit sal verwyder, jou sal beskerm, jou sal leer om dit beter te hanteer. Doen dit oor en oor. Glo Hom, Hy wíl jou help!

Sterkte
Toortsie

Ek dink ouer mense voel soms vergeet, verwerp, weerloos. Hul kinders se lewe gaan aan. Ons moet dalk regtig meer sensitief wees en uitreik na ou mense. Baie van hulle is regtig eensaam. As jy jou ouer in die ouetehuis gesoek, gesels sommer ‘n bietjie met die ander bejaardes wat jy raakloop. Gee ‘n bietjie aandag, dit beteken wondere.

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Motivering en Bemoediging, Opheffingswerk; Opvoeding, Oudword. Bookmark the permalink.

18 Responses to Wat maak jou bang?

  1. Dit is n diep en ook seer deel in elke mens se lewe om verwerp te voel. Daardie paar woordjies wat n mens met die ouer mense(nie net ouer, jonger ook) deel is goud werd. Ek het vir n maand of twee maaltye op wiele gehelp uitdeel. Dit was almal ouer mense wat nie self meer kan kook nie en ook meestal moeilik beweeg. Daardie paar oomblikke van groet, hoe gaan dit, mooi dag is vir hul baie werd. Hul het ook altyd n behoefte om net te weet hoe dit met jou gaan en dat hul dankbaar is vir die kossies. Selfs soos jy noem: die ouetehuis se besoek aan die wat alleen is is netso belangrik. Ek dink as mens uitreik na ander eensames seën God jou en maak Hy deure en ondersteuning vir jouself ook oop.

    Liked by 1 person

    • Toortsie sê:

      Soos jy sê, net ‘n paar woordjies. Daar is ‘n swart trollieman by ons Checkers, Lucky. Die eerste keer wat hy by die kar kom staan om my trollie terug te neem, sê ek ek gaan hom nie betaal nie, hy het my nie gehelp nie, hy het staan en wag dat ekself die sakke in die motor laai. Hy sê toe die mense is bang hulle steel. Ek hét hom iets gegee, maar daarvandaan help hy my altyd. Gister kom hy na my gestap, vra of hy my trollie vir my kan stoot. Natuurlik, sê ek. Toe ons by die kar kom, sê hy, “mevrou, staan mevrou nou stil, ek sal jou goed inpak.” Hy het al die sakke toegeknoop soos ek altyd maak, en my goed tog te netjies ingepak. Lucky. Ek dink ek het ‘n vriend gemaak, maar dit beteken ook baie vir hom dat ek hom vertrou.

      Like

  2. HesterLeyNel sê:

    Dis waar, ouer mense voel soms asof hulle “uit pas” raak met die tyd. Ek het baie opgelet toe my eie moeder in die ouetehuis was, hoe gretiglik die ander inwoners kom saamgesels wanneer ons eers begin lag en staaltjies vertel.

    Liked by 1 person

  3. Selfs die kelner wat mens bedien,ervaar verwerping,wanneer ongeskikte mense hulle soos lae slawe behandel.Ek het dit al baie gesien.Net ‘n klein gebaar van erkenning laat iemand opflikker.

    Like

  4. Kameel sê:

    Soos mens ouer word kom sit daardie ding al meer in jou binneste. Moet aanmekaar daarteen waak.
    Dit is daardie raaksien van mense wat oor jou pad kom. Net ‘n glimlag, kan wêreldse verskil maak. Glimlag vir vreemde mense in inkopie sentrum…. lekker om hulle reaksies waar te neem.

    Like

  5. Ja ek sien hier op die Landgoed. Mense smag na ‘n geselsie met ‘n gawe woordjie

    Liked by 1 person

  6. ekmyselff sê:

    Dis baie wreed hoe 1 ma selfs na 5 of 6 kinders kan omsien maar nie 1 van die 5 kinders kan na die ma omsien nie. Oues word afgelaai by n plek en die kinders bly net weg….. dis so sad. Mag ek dit nooit aan my ouers doen nie en my kinders dit nooit aan my doen nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s