Wanneer die wilskrag laag is

Ek praat nou nie hier van mense met sterk wilskrag wie se lywe soos wilgerlatte lyk nie. Ek praat met mense soos ek wat soms sukkel met ons gewig. Mense wat lief is vir eet. Eintlik praat ek met mense wat die Bantingleefstyl volg, omdat dit mos maar is waar ek die ondervinding opgedoen het. Tog kan jy baie van hierdie raad dalk in ander eetprogramme navolg.

Wanneer is my wilskrag laag? Eerstens wil ek sê dat ek ‘n weidier is en heeldag lus kry vir wei. Saans 6 nm is ek honger en lus vir iets. Sou ek ‘n middagslapie geneem het en ek raak dan wakker, wil ek alles eet wat voorkom. Ek is eterig as ek gespanne voel, moeg is of ontsteld is, en as ek lone doen. Ek kry lus vir soetgoed as almal om my vir ‘n hele naweek aan die een lekkerny na die ander peusel.

Wat werk vir my? Dit help vir my dat ek amper nie meer ‘verbode’ kosse in my huis het nie. Ek maak ook nie verbode kosse nie, dit help vir my. Ek sorg dat daar iets in die huis is om aan te kou, soos kaas en neute. Ek maak graag ‘n groot bak koolslaai of broccolislaai en laai dit behoorlik met kase en ander lekker goed en voel ek honger, kan ek dan ‘n groot bord daarvan eet. ‘n Lekker pot groentesop verrig wondere. Raak my soetlus te erg, maak ek vir my ‘n Bantingsoetigheid. Dit werk ook vir my dat my man dieselfde kos as ek eet. Dit werk om in groot maat te kook en die oorskiet te vries of in die yskas te hou vir daardie oomblikke van swakheid.

‘n Baie waar les is dat jy nie moet winkel toe gaan as jy honger is nie, dis ‘n groot slaggat om in te trap. Wanneer ek honger of moeg is, sien ek allerhande goed in die winkel raak wat ek ander tye nie eers van weet nie. MOENIE verbode goed koop nie, los dit daar in die winkel. Regtig, moenie.

Dat dit nie altyd maklik is nie, is waar. Dat dit moontlik is om sterk te staan, is ook waar.

Groete

Toortsie

3 thoughts on “Wanneer die wilskrag laag is

  1. Ek is diabeties en insulienweerstandig, dus groei my interdik al eet ek niks. Laasnag heelnag wakker gelê van hongerte. Daar is gaar hoender maar wie eet nou snags slaai? Dis mos nie kos nie. Dan lees ek maar julle blogs. En wag dat die wekker raas vir ontbyt. Ek eet baie min, het nie eetlus nie maar moet bloedsuiker reguleer al het ek geen eetlus nie.

    Gister gesien drie skaapboudtjoppies kos amper R💯. Erg.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!