Skryf ‘n opstel: As ek ‘n miljoen rand sou kry

Eendag, lank gelede, het ek hierdie onderwerp hanteer en het ek gedroom oor wat ek sou maak as ek ‘n miljoen rand sou kry, maar hierdie is jóú miljoen en jóú geleentheid om te droom.

Wat sal jy maak as jy ‘n miljoen rand kry? Wat is jou stoutste wense?

Is jy in die bevoorregte posisie om sommer iets baie lekkers daarmee te doen, iets wat ‘n mens nie aldag doen nie, of is jy in ‘n minder bevoorregte posisie en sal daardie miljoen dalk vir jou daaglikse behoeftes moet voorsien?

Sou jy vir jou die beste selfoon of rekenaar en sommer tablet ook koop, met alles wat daarmee saamgaan? Of sal hierdie geld dalk jou pad oopmaak om te kan gaan studeer en die beroep moontlik maak wat jy so diep in jou hart begeer?

Gaan jy dalk belê in die beste motorfiets, of, as jy amper die ouderdom is wat jy ‘n motor mag bestuur, selfs vir jou ‘n motortjie daarmee koop, of gaan jy die geld gebruik om die lewe vir julle gesin makliker te maak. Dalk kan julle nou na beter huisvesting skuif, beter kos koop, klere?

Sal jy dalk ‘n bietjie van die geld vir reis wil spandeer en daardie wêreldstad wat jy nog altyd wou besoek, gaan sien? Dalk een van die musiekstede van die wêreld? Of as jy in renmotors belangstel, ‘n motorwedren op een van die bekendste bane gaan kyk? Of dalk ‘n tennis- of rugbywedstyd van die bestes in die wêreld gaan kyk? Dalk maak hierdie miljoen nou dit vir jou moontlik om saam op die skooltoer te gaan, en daar gaan nog baie geld oor wees!

Sal jy dalk ‘n deel van die geld vir iemand gee wat jy ken wat baie swaar kry, of gaan jy alles vir jouself hou? Gaan jy ‘n groot gedeelte van die geld spaar, en op watter manier sal jy dit doen? Aandele? Bankrekening? Oorsese belegging?

Alhoewel ‘n miljoen rand deesdae nie so baie geld is nie en ‘n mens nie so ver daarmee kom nie, is dit vir ‘n tiener baie geld en kan jy baie ver daarmee kom as jy mooi werk daarmee. Dalk kan jy kundige raad inwin oor hoe om die geld na die beste van jou vermoë te belê vir daardie iets wat jy eendag wil koop, en hou net so ‘n klein bietjie uit vir ‘n lekker bederf vir jouself en dalk jou familie?

Dalk kan die miljoen vir jou betaal om ‘n jaar of meer te gaan liefdadigheidswerk of sendingwerk te gaan doen iewers.

Ek stel voor dat jy ‘n bietjie pryse van goed in jou belangstellingsveld uitvind voor jy jou opstel skryf, sodat jy regtig ingelig kan skryf. Sterkte, en lekker droom.

Toortsie

Vir nog opstel- en mondelingonderwerpe, kliek HIER.

……………

Vandag is ek dankbaar dat die see so binne ons bereik is.

2 thoughts on “Skryf ‘n opstel: As ek ‘n miljoen rand sou kry

Gesels saam, asseblief!