Mondeling oor Afrikaanse Boeke

Hierdie is ‘n interessante onderwerp omdat ‘Afrikaanse boeke’ baie verskillende opinies ontlok. Daar is mense wat mal is om Afrikaanse boeke te lees, terwyl ander glad nie daarvan hou nie.

Ek dink dat ‘n goeie beginpunt vir jou mondeling oor Afrikaanse boeke, dalk ‘n ‘verklaring’ sal wees oor waar jy self staan betreffende dit. Hou jy van Afrikaanse boeke, of nie? Lees jy graag Afrikaanse boeke? Dalk moet ek vra, lees jy enigsins, want as jy nie lief is vir lees nie, kan dit onregverdig wees om te sê dat jy nie Afrikaans lees nie. Dan moet jy eerder sê dat jy nie lief is vir lees nie.

Tweedens is die ‘hoekom’ dalk goed. Hoekom lees jy graag Afrikaanse boeke, of, hoekom lees jy nie graag Afrikaanse boeke nie? Lees jy Afrikaans omdat dit jou taal is, omdat dit makliker lees? Dis baie belangrik dat jy regtig jou eie opinie gee. Moenie iets sê wat jy nie self voel nie.

As jy nie Afrikaanse boeke lees nie, lees jy dan wel Afrikaanse koerante, Afrikaanse blogs, Afrikaanse tydskrifte? Of watter Afrikaanse medium lees jy wel? As jy wel lief is om Afrikaans te lees, watter medium verkies jy? En, hoekom? Is dit meer geredelik beskikbaar op die internet?

Lees jy e-boeke of verkies jy gedrukte boeke? Hoe kry jy dit in die hande? Koop jou ouers dit? Koop jy self? Leen jy boeke by vriende? Is jy lid van die biblioteek?

Die groot vraag: Watter tipe Afrikaanse boeke lees jy graag? Misdaad? Liefdesverhale? Vakgerigte goed? Feiteboeke? Watter Afrikaanse boeke maak jou opgewonde?

Het jy ‘n gunsteling skrywer? Wie is dit? Hoekom hou jy juis van sy/haar boeke?

Is daar ‘n sekere boek waarvan jy wil vertel? ‘n Boek waarvan jy baie gehou het? Waaroor het die boek gegaan? Wil jy dit graag aanbeveel? Wat het die boek vir jou beteken? Sal jy dit weer wil lees?

Watter boek(e) is daar wat jy graag nog wil lees? Hoekom? Waaroor gaan dit?

Sluit af met iets soos dat jy regtig van lees hou (of nie hou nie), van Afrikaanse boeke hou (of nie hou) nie.

Toortsie

Vir nog opstel- en mondelingonderwerpe, opstelhulp, kyk HIER. Onthou om toortsie.com as verwysing aan te toon as jy wel van die hulp gebruik gemaak het.

Opstel: As ek onsigbaar kon wees

Hier kan jy nou lekker jou verbeelding gebruik.

Ek vra vir jou vrae en dan skryf jy die antwoorde wat in jou kop opkom, neer en daaruit stel jy jou opstel saam.

Hoekom sal jy graag onsigbaar wil wees? Is dit omdat dit wat jy graag as onsigbare wil doen, nie moontlik is vir iemand wat sigbaar is nie? Het jy dalk nie die moed om dit te doen terwyl ander jou kan sien nie? Is dit om iets te doen, om iemand ‘n poets te bak, om iets skelms te doen, om ‘n dag uit die skool te bly sonder dat iemand daarvan weet, om ‘n bank te beroof, om iemand dop te hou? Of is dit omdat jy skaam en eensaam voel en voel dat dit vir jou beter sal wees as jy maar eerder onsigbaar is omdat jy die swart skaap in die gesin is wat net al die moeilikheid kry? Is jy dalk ‘n introvert en jy hou nie van mense se geselskap nie? Jy kan dus by hierdie vraag in enige rigting gaan: diepsinnig, of laf, selfs in ‘n totaal onmoontlike rigting as jy jou verbeelding regtig vrye teuels wil gee.

Onthou, bogenoemde vraag gaan oor HOEKOM.

Nou kom my volgende vraag: Wat presies beplan jy om te doen as onsigbare? Hoe gaan jy dit doen? Hoe gaan jy dit aanpak?

Watter uitkoms verwag jy? Watter reaksie van mense dalk?

Wat gaan dit vir jou beteken? Dink jy dit is uitvoerbaar?

Lekker skryf. Gee jouself vlerke, skryf jou eie opstel soos net jy kan.

Vir nog opstel- en mondelingonderwerpe, kyk hier.

Toortsie

Lank gelede het die Toortsie en Kameel elkeen vertel waar hulle graag sou wou gaan as hulle onsigbaar kon wees. Julle kan op die blou woorde kliek om by daardie bloginskrywings uit te kom. Dis sommer net vir interessantheid, onthou dat jy jou eie opstel moet skryf, nie ons s’n oortik nie.

Opstel: ‘n Tweede kans

As jy ‘n tweede kans sou wou kry in enige iets, wat sou dit wees? Sou jy ‘n tweede kans by dieselfde meisie of ou wou hê? Sou jy wou regmaak wat jy verbrou het? Dit dalk anders hanteer het? Of sou jy weer ‘n kans in daardie rugbywedstryd wou hê? Of op die atletiekbaan? Of in ‘n toets waarvoor jy dalk nie hard genoeg geleer het nie? Het jy dalk drooggemaak toe jy vakansiewerk gedoen het en graag wil regmaak? ‘n Tweede kans om weer in die koor te kan sing?

Watter tweede kans sou jy graag wou hê? Hoekom wil jy daardie tweede kans hê? Wat het verkeerd geloop die eerste keer, dis tog sekerlik hoekom jy die tweede kans wil hê?

Ek stel voor dat as jy jou opstel begin skryf, jy begin deur te skryf: ‘Ek sal graag ‘n tweede kans wil hê om …’ (en by die dotjies vul jy dan in waar jy graag die tweede kans wil hê.

Dan kan jy beskryf hoekom jy daardie tweede kans wil hê en wat jy graag wil bereik wanneer jy wel die tweede kans sal kry.

Beskryf ook wat verkeerd geloop het tydens die eerste kans. Het jy te min geleer? Het jy alles vergeet wat jy geleer het? Het jy geval? Het jy die bal laat val? Het iemand jou aandag afgetrek? Het jy op iemand gereken om jou te ondersteun en die persoon daag toe nie op nie? Wat het veroorsaak dat jou eerste kans nie presies uitgewerk het soos jy gehoop het nie?

Nou kan jy jou strategie bespreek oor hoe om te verseker dat jy die tweede kans beter doen, dat jy wel bereik wat jy graag wil. Gaan jy harder werk? Minder op ander mense steun? Dalk juis méér op ander steun? Dalk beter kommunikeer met wat jy graag wil bereik? Gaan jy harder oefen voor die tyd? Gaan jy ‘n bietjie oplees op Google of kundiges of volwassenes se raad vra oor wat die beste manier van doen is? Gaan jy leer uit die foute wat jy gemaak het en probeer om dit nie weer te doen nie?

Jy het alreeds in jou tweede paragraaf geskryf wat jy graag wil bereik. Nou kan jy dit net weer bevestig en selfs in detail ingaan as jy dit nie reeds gedoen het nie.

Eindig jou opstel met die hoop dat jy jou tweede kans beter gaan benut en dat jy sal bereik wat jy graag wil.

Sterkte met jou opstel, maar ook sterkte met elke geleentheid wat oor jou pad kom. Hierdie is vir jou ‘n geleentheid om die beste gebruik te maak van die kans wat jy het om hierdie opstel te skryf. Doen dit self. Oordink dit, skryf dit soos jy dit graag wil skryf. Skryf jou eie storie. Onthou, met elke keer wat jy ‘n opstel skryf, raak jy beter en vaardiger, raak dit makliker.

Onthou om toortsie.com te noem as jy hierdie as bron gebruik het, en ek sal daarvan hou as jy dit in die kommentare van hierdie blog skryf as dit vir jou gehelp het.

Vir nog opstelhulp, kliek HIER.

Groete

Toortsie

Blogmaats: Hier is ‘n bloguitdaging vir jou. Skryf ‘n blog oor dieselfde onderwerp: ‘n Tweede kans.

Skryf ‘n opstel: My vakansie

In die begin van elke kwartaal is dit seker die mees algemene opstel om te skryf, oor my vakansie en sou jy ‘n lekker vakansie gehad het, is dit die maklikste ding om oor te skryf. Vertel van die vakansie wat julle gehad het. Waar was julle? Wie was almal daar? Was dit net julle gesin, of was daar ander mense saam met julle? Of was jy alleen saam met ander mense op vakansie. Watter lekker dinge het julle gedoen? Wat staan vir jou uit? Wat was minder lekker? Wat sou jy graag anders wou doen? Probeer om dit interessant te hou en juis die een ding te vertel wat niemand anders vertel nie.

Dalk kan jy, in plaas van die algemene verslag oor jou vakansie, ‘n spesifieke insident wat gebeur het, beskryf. Of wat van die lang pad wat julle moes ry tot by die vakansieplek, dalk het daar iets interessants gebeur. Wat doen julle om die pad korter te maak? Was daar dalk iets wat julle erg gefrustreer het?

Maar, nie almal is bevoorreg om te kan weggaan met vakansie en interessante plekke besoek nie. Dalk moes jy by die huis bly en jou siek ouma versorg, dalk moes jy die hele vakansie jou ma help met die huishouding. Dalk het jy maar buite gedwaal omdat dit dinge by die huis nie altyd na wense is nie. Miskien is hierdie juis die geleentheid om dalk hieroor te skryf, nie die uitstaande, opwindende vakansie nie, maar die een waarin jy hard moes werk of swaargekry het. Dis dalk die een keer wat jy die geleentheid kry om oor jou seer of jou swaarkry te skryf.

Maar dalk het jy ‘n goeie verbeelding en het jy in jou kop die allerlekkerste vakansie, een waarop jy nog nie was nie. Skryf jou opstel daaroor! Maak jou eie vakansie op! Wat is, na jou mening, die ideale vakansie? Skryf daaroor! Beplan dit! Waar, dink jy, sal dit wees? Hoe sal jy daar kom? Wat kan ‘n mens alles daar doen? Wat, dink jy, sal lekker wees?

Maak hierdie jou eie opstel. Gee jouself vrye teuels. Skryf jou hart uit en geniet elke oomblik daarvan. Moenie skryf wat jy dink die onderwyser wil hê nie, skryf wat jy graag wil skryf. En, sou jy van hierdie raad gebruik het, onthou om toortsie.com as bron te noem.

Vir nog opstelonderwerpe, kyk HIER. Dieselfde inligting kan ook as mondeling gebruik word.

Groetnis

Toortsie

Skryf ‘n opstel: Water is lewe

Die nuwe jaar het begin en die kinders skryf opstelle en hulle praat mondeling en die juffrouens soek onderwerpe vir ‘n vale en hulle beland by Toortsie. Ai toggie, sal Toortsie kan help?

Ek is só bly oor hierdie onderwerp wat iemand uitgedink het! Vir die grootste gedeelte van my lewe het ek altyd die gevoel gekry dat dit die boere is wat kerm en huil oor reën en dat die stedelinge nie altyd besef het hoé belangrik dit vir ons almal is nie. Maar, soos die titel van die opstel sê, ís water lewe.

Water raak ‘n al hoe skaarser kommoditeit, veral in Suid-Afrika wat stadig, maar seker, besig is om al hoe droër te raak. Dit reën al hoe minder en wanneer dit reën, is dit geneig om in die vorm van ‘n vloed te kom, wat dan baie skade veroorsaak, en baie van die water loop dan ook weg. Ons opgaardamme is ook nie meer voldoende nie en word ongelukkig nie oral voldoende in stand gehou nie.

Water is besig om ‘n probleem te raak en elkeen van ons begin dit aan ons vel voel. Op een of ander manier raak ons almal daardeur geraak.

Wanneer jy ‘n opstel hieroor skryf, kan jy natuurlik nie my woorde net so herhaal nie. Dis mos belangrik dat jy jou eie opstel skryf. So, wat kan jy skryf?

Jy kán noem wat ek hierbo genoem het, om mee te begin.

Maar dink sommer aan die effek wat dit op jou, op julle gesin, julle huishouding, julle dorp het wanneer daar waterbeperkings is. Het julle dorp al die effek van die droogte gevoel, of selfs die effek van swak waterbestuur? Hoe word julle beperk? Kan julle nog tuin maak? Kan julle nog bad, of moet julle net vinnig afspoel in die stort, en beslis nie elke dag nie? Moes jule in julle tuin al aanpassings maak om dalk eerder meer waterbestande plante te plant? Wat doen julle persoonlik om die probleem te oorkom?

As jy wil loer, kan jy HIER kliek, vir maniere om water te bespaar in die huis, dalk kan jy van dit ook noem.

Dit is natuurlik ook belangrik dat jy noem HOEKOM jy voel water lewe is. Eintlik is dít waarmee jy jou opstel moet begin. Wat is alles van water afhanklik? Hoekom is jy afhanklik vir van water om te lewe? Nie net om te bad of te swem nie, maar dat jou liggaam water nodig het om te funksioneer. Jy kan HIER lees oor die belangrikheid daarvan om water te drink.

Watter oplossings stel jy voor? Wat kan ons doen om ons water beter te bestuur? Wat kan jyself doen? Jou ouers? Julle huishouding?

Sterkte met jou opstel, en onthou, as jy van die inligting op my blog gebruik maak, om dit te noem in jou opstel. Ek sal ook baie daarvan hou as jy in die kommentare noem as dit vir jou gehelp het.

Is daar blogmaats wat oor water ‘n blog wil skryf? Doen dit. 🙂

Groetnis

Toortsie

Vir nog opstelonderwerpe of selfs mondelingonderwerpe, kliek HIER.