Toespraak oor die dag toe ek baie kwaad was

Wat ‘n interessante onderwerp stuur Google vir my: ‘Toespraak oor die dag toe ek baie kwaad was.’ Ek dink dit is ‘n onderwerp waaroor elke persoon lekker kan skryf, want almal van ons raak een of ander tyd kwaad. Ons almal hanteer die kwaad net nie altyd dieselfde nie.

Ek gaan egter nie vir jou die toespraak skryf nie. Dalk maak dit jou nóg kwater! Wat ek gaan doen, is om jou te probeer help en lei om jou eie toespraak te skryf. Ek gaan vir jou vrae vra en jy kan dit antwoord. Skryf alles neer wat in jou gedagtes opkom na aanleiding van die vrae wat ek vra, selfs al dwaal jou gedagtes effens, want dit lei jou dalk tot ‘n volgende punt. Wanneer jy klaar is, sif jy jou gedagtes, orden dit en skryf jou toespraak.

Wil jy ‘n ernstige toespraak maak, of gaan jy dit dalk ‘n ligter toespraak maak omdat die situasie eintlik lagwekkend is?

Is jy ‘n persoon wat maklik kwaad word? Indien ja, hoekom word jy so maklik kwaad? Kry jy dit reg om jou emosies te beheer as jy so kwaad word? Wat doen jy om jou emosies te beheer? Hoe gee jy uiting aan jou emosies?

Indien jou antwoord op bogenoemde vraag ‘nee’ is en jy nie so maklik kwaad raak nie, wat doen jy om kwaadword te verhoed? Hoe hanteer jy jou emosies? Wat doen jy as jy wel die slag kwaad word?

Jou toespraak gaan oor ‘n dag wat jy regtig kwaad was. Dink aan so ‘n geleentheid. Wat het daardie dag gebeur? Gaan jy ‘n ware storie skryf of gaan jy iets anders uitdink? Indien jy ‘n regte storie wil skryf, sal ek jou aanraai om eers goed daaroor te dink of jy ‘n storie wil vertel wat iemand in jou gehoor direk gaan raak. Of ‘n storie waaroor jy baie sensitief is, dink mooi of jy nie jouself blootstel nie? Jy wil tog nie ‘n skinderstorie of groter ontploffing met jou toespraak veroorsaak nie, of hoe?

Hoe gaan jy die storie vertel? Gaan dit jou weer van vooraf kwaad maak? As dit iets baie persoonliks is, wil ek jou aanraai om iets anders te kies.

Jou storie. Wat het daardie dag gebeur? Vertel die storie so goed as moontlik, maar moenie name noem indien dit nie regtig nodig is nie. Probeer ook om nie rassisties, seksisties of afbrekend op enige manier te wees nie.

Dink ‘n bietjie: Hoekom het dit jou so kwaad gemaak? Is jy te ná gekom? Was dit onregverdig? Was dit onnodig? Het dit jou herinner aan ‘n ander keer wat jy ook kwaad geword het? Is dit die eerste keer wat jy so iets oorkom?

Hoe het jy uiting gegee aan jou woede? Het jy net stilgebly, omgedraai en weggeloop? Of het jy ‘n kabaal opgeskop? Het jy lelik gepraat, geskree? Gehuil?

Kon jy ná die tyd jou saak stel of was dit ‘n verlore saak? Toe jy weer die feite oordink, het dit toe anders gelyk? Was dit dalk ‘n misverstand? Of selfs dalk ‘n grap? ‘n Poets? Was jou kwaadwees geregverdig? Of onnodig?

Het die persoon vir jou om verskoning gevra ná die tyd? Of het jy dalk vir hom om verskoning gevra omdat jy oorreageer het?

Hoe voel jy nou oor die situasie? Skaam? Beter? Of lag jy selfs daaroor?

Dink jy jy sal weer so kwaad word of gaan jy in die toekoms probeer om jou emosies beter te beheer? Indien jy dit beter wil beheer, wat dink jy kan jy doen om dit reg te kry?

Ek hoop dit kon jou help.

Toortsie

Uitdaging aan die blogmaats: Skryf ‘n blog hieroor. Dit kan ernstig wees of lagwekkend.

Vir nog opstelonderwerpe kan HIER gekliek word.

Opstel: As ek onsigbaar kon wees

Hier kan jy nou lekker jou verbeelding gebruik.

Ek vra vir jou vrae en dan skryf jy die antwoorde wat in jou kop opkom, neer en daaruit stel jy jou opstel saam.

Hoekom sal jy graag onsigbaar wil wees? Is dit omdat dit wat jy graag as onsigbare wil doen, nie moontlik is vir iemand wat sigbaar is nie? Het jy dalk nie die moed om dit te doen terwyl ander jou kan sien nie? Is dit om iets te doen, om iemand ‘n poets te bak, om iets skelms te doen, om ‘n dag uit die skool te bly sonder dat iemand daarvan weet, om ‘n bank te beroof, om iemand dop te hou? Of is dit omdat jy skaam en eensaam voel en voel dat dit vir jou beter sal wees as jy maar eerder onsigbaar is omdat jy die swart skaap in die gesin is wat net al die moeilikheid kry? Is jy dalk ‘n introvert en jy hou nie van mense se geselskap nie? Jy kan dus by hierdie vraag in enige rigting gaan: diepsinnig, of laf, selfs in ‘n totaal onmoontlike rigting as jy jou verbeelding regtig vrye teuels wil gee.

Onthou, bogenoemde vraag gaan oor HOEKOM.

Nou kom my volgende vraag: Wat presies beplan jy om te doen as onsigbare? Hoe gaan jy dit doen? Hoe gaan jy dit aanpak?

Watter uitkoms verwag jy? Watter reaksie van mense dalk?

Wat gaan dit vir jou beteken? Dink jy dit is uitvoerbaar?

Lekker skryf. Gee jouself vlerke, skryf jou eie opstel soos net jy kan.

Vir nog opstel- en mondelingonderwerpe, kyk hier.

Toortsie

Lank gelede het die Toortsie en Kameel elkeen vertel waar hulle graag sou wou gaan as hulle onsigbaar kon wees. Julle kan op die blou woorde kliek om by daardie bloginskrywings uit te kom. Dis sommer net vir interessantheid, onthou dat jy jou eie opstel moet skryf, nie ons s’n oortik nie.

Opstel: ‘n Tweede kans

As jy ‘n tweede kans sou wou kry in enige iets, wat sou dit wees? Sou jy ‘n tweede kans by dieselfde meisie of ou wou hê? Sou jy wou regmaak wat jy verbrou het? Dit dalk anders hanteer het? Of sou jy weer ‘n kans in daardie rugbywedstryd wou hê? Of op die atletiekbaan? Of in ‘n toets waarvoor jy dalk nie hard genoeg geleer het nie? Het jy dalk drooggemaak toe jy vakansiewerk gedoen het en graag wil regmaak? ‘n Tweede kans om weer in die koor te kan sing?

Watter tweede kans sou jy graag wou hê? Hoekom wil jy daardie tweede kans hê? Wat het verkeerd geloop die eerste keer, dis tog sekerlik hoekom jy die tweede kans wil hê?

Ek stel voor dat as jy jou opstel begin skryf, jy begin deur te skryf: ‘Ek sal graag ‘n tweede kans wil hê om …’ (en by die dotjies vul jy dan in waar jy graag die tweede kans wil hê.

Dan kan jy beskryf hoekom jy daardie tweede kans wil hê en wat jy graag wil bereik wanneer jy wel die tweede kans sal kry.

Beskryf ook wat verkeerd geloop het tydens die eerste kans. Het jy te min geleer? Het jy alles vergeet wat jy geleer het? Het jy geval? Het jy die bal laat val? Het iemand jou aandag afgetrek? Het jy op iemand gereken om jou te ondersteun en die persoon daag toe nie op nie? Wat het veroorsaak dat jou eerste kans nie presies uitgewerk het soos jy gehoop het nie?

Nou kan jy jou strategie bespreek oor hoe om te verseker dat jy die tweede kans beter doen, dat jy wel bereik wat jy graag wil. Gaan jy harder werk? Minder op ander mense steun? Dalk juis méér op ander steun? Dalk beter kommunikeer met wat jy graag wil bereik? Gaan jy harder oefen voor die tyd? Gaan jy ‘n bietjie oplees op Google of kundiges of volwassenes se raad vra oor wat die beste manier van doen is? Gaan jy leer uit die foute wat jy gemaak het en probeer om dit nie weer te doen nie?

Jy het alreeds in jou tweede paragraaf geskryf wat jy graag wil bereik. Nou kan jy dit net weer bevestig en selfs in detail ingaan as jy dit nie reeds gedoen het nie.

Eindig jou opstel met die hoop dat jy jou tweede kans beter gaan benut en dat jy sal bereik wat jy graag wil.

Sterkte met jou opstel, maar ook sterkte met elke geleentheid wat oor jou pad kom. Hierdie is vir jou ‘n geleentheid om die beste gebruik te maak van die kans wat jy het om hierdie opstel te skryf. Doen dit self. Oordink dit, skryf dit soos jy dit graag wil skryf. Skryf jou eie storie. Onthou, met elke keer wat jy ‘n opstel skryf, raak jy beter en vaardiger, raak dit makliker.

Onthou om toortsie.com te noem as jy hierdie as bron gebruik het, en ek sal daarvan hou as jy dit in die kommentare van hierdie blog skryf as dit vir jou gehelp het.

Vir nog opstelhulp, kliek HIER.

Groete

Toortsie

Blogmaats: Hier is ‘n bloguitdaging vir jou. Skryf ‘n blog oor dieselfde onderwerp: ‘n Tweede kans.

Opstel: Dagga in skole

Ek kry hierdie versoek via Messenger: ‘Can I have an essay in Afrikaans that say dagga in skole lei tot absolute chaos.’

Nee, ek skryf nie mense se opstelle nie, ek probeer wel ‘n bietjie help met die ‘waaroor skryf ek’, maar op die ou end moet die persoon sy eie opstel skryf.

Een van die Towerinne het vir my na hierdie skakel verwys. Voor ons egter na die feite kyk soos wat dit vervat is in hierdie skrywe, kom ons praat ‘n bietjie oor dagga in die algemeen.

‘Dagga in skole lei tot absolute chaos.’

Stem jy saam met hierdie opskrif, dat dagga tot absolute chaos lei? Skryf of jy saamstem of nie, en hoekom jy so voel. Voel jy dagga mag maar in skole gebruik word, of nie? Wat, dink jy sal die gevolge daarvan wees as dagga algemeen in skole gebruik word? Is dagga algemeen onder leerders in jou skool? Is dit te koop by leerders in julle skool, of hoe kry hulle dit in die hande? Ken jy kinders wat dagga gebruik en kan jy ‘n verskil in hulle optrede sien as hulle dit gebruik het teenoor wanneer hulle dit nie gebruik het nie? Maak dagga mense rustig of onrustig? Werk hulle beter saam as hulle onder die invloed van dagga is, of nie? Voel jy dat dagga ‘n dwelm is, of nie? Dink jy dit is onskuldig? Wat, dink jy, sal die effek van dagga wees op die dissipline in julle skool? Het julle skool dissiplineprobleme, of nie? Gebruik jy self dagga? Indien wel, wat doen dit aan jou?

Kyk gerus by hierdie artikel vir baie belangrike feite oor dagga (How does marijuana use affect school, work, and social life?) , Hierdie artikel sê

  • dat die gebruik van dagga beslis ‘n effek het op die aandagspan, geheue en leervermoë van ‘n persoon en dat dit vir dae, of selfs weke, nog ‘n effek op ‘n persoon kan hê.
  • dat die daaglikse gebruik van dagga ‘n invloed het op ‘n persoon se intelligensievlakke en akademiese resultate.
  • dat daar die gevaar bestaan dat ‘n daggarokers substansafhanklik kan raak, selfs ander dwelms begin gebruik en ‘n groter geneigdheid toon tot selfmoordneigings.
  • dat die gebruik van dagga ‘n effek kan hê op die inkomste wat jy kan verdien en jou lewenskwaliteit.

Hierdie opstelonderwerp vra van jou dat jy dit goed sal deurdink en die gevoelens wat jy oor dagga het, duidelik sal uitdruk en beskryf. Die vraag is: Hoe voel jy oor dagga? Voel jy dit moet in skole toegelaat word of nie en hoekom voel jy so?

Toortsie

Vir nog opstelonderwerpe, kliek gerus HIER.

Lees gerus die kommentare ook, omdat daar oulike inligting neergepen is.

Onthou om toortsie.com as bron te meld indien jy die inligting gebruik.

Skryf ‘n opstel: My vakansie

In die begin van elke kwartaal is dit seker die mees algemene opstel om te skryf, oor my vakansie en sou jy ‘n lekker vakansie gehad het, is dit die maklikste ding om oor te skryf. Vertel van die vakansie wat julle gehad het. Waar was julle? Wie was almal daar? Was dit net julle gesin, of was daar ander mense saam met julle? Of was jy alleen saam met ander mense op vakansie. Watter lekker dinge het julle gedoen? Wat staan vir jou uit? Wat was minder lekker? Wat sou jy graag anders wou doen? Probeer om dit interessant te hou en juis die een ding te vertel wat niemand anders vertel nie.

Dalk kan jy, in plaas van die algemene verslag oor jou vakansie, ‘n spesifieke insident wat gebeur het, beskryf. Of wat van die lang pad wat julle moes ry tot by die vakansieplek, dalk het daar iets interessants gebeur. Wat doen julle om die pad korter te maak? Was daar dalk iets wat julle erg gefrustreer het?

Maar, nie almal is bevoorreg om te kan weggaan met vakansie en interessante plekke besoek nie. Dalk moes jy by die huis bly en jou siek ouma versorg, dalk moes jy die hele vakansie jou ma help met die huishouding. Dalk het jy maar buite gedwaal omdat dit dinge by die huis nie altyd na wense is nie. Miskien is hierdie juis die geleentheid om dalk hieroor te skryf, nie die uitstaande, opwindende vakansie nie, maar die een waarin jy hard moes werk of swaargekry het. Dis dalk die een keer wat jy die geleentheid kry om oor jou seer of jou swaarkry te skryf.

Maar dalk het jy ‘n goeie verbeelding en het jy in jou kop die allerlekkerste vakansie, een waarop jy nog nie was nie. Skryf jou opstel daaroor! Maak jou eie vakansie op! Wat is, na jou mening, die ideale vakansie? Skryf daaroor! Beplan dit! Waar, dink jy, sal dit wees? Hoe sal jy daar kom? Wat kan ‘n mens alles daar doen? Wat, dink jy, sal lekker wees?

Maak hierdie jou eie opstel. Gee jouself vrye teuels. Skryf jou hart uit en geniet elke oomblik daarvan. Moenie skryf wat jy dink die onderwyser wil hê nie, skryf wat jy graag wil skryf. En, sou jy van hierdie raad gebruik het, onthou om toortsie.com as bron te noem.

Vir nog opstelonderwerpe, kyk HIER. Dieselfde inligting kan ook as mondeling gebruik word.

Groetnis

Toortsie