Die einde, die begin

image

Hierdie foto is baie jare terug geneem. Op daardie dag is die twee seuns vir die eerste keer hoërskool toe, en Sus die eerste keer skool toe. “Regte” skool toe. Nie speelskool of pre-primêr nie. Ek is met die seuns dorp toe, terwyl die pappa vir Sussa na die plaasskool toe geneem het.

Sus het nie lekker verstaan van Sub A nie. Sy het gedink dat jy Sub A toe gaan as jy verjaar. Sy kon my wel vertel hoeveel nuwe kinders daar was. Hoe het sy geweet wie is nuut? Want hul kleertjies was nuut! 🙂

As laatlam kon sy al lees toe sy skool toe is, iets wat in daardie jare nie die norm was nie. Met dié dat sy nie geweet het sy is in Sub A nie, nooi sy toe haarself toe die juffrou sê die sub B’s kan kom lees. Wat egter regtig besonders was, was dat sy op daardie stadium reeds twee musiekinstrumente kon bespeel en natuurlik note kon lees. Op vyfjarige ouderdom het sy die blokfluit opgetel en begin speel. Ons het presies geweet wanneer sy slaap, dit was die enigste tyd wat die blokfluit stil was. Toe sy die blokfluitnote geken het, het sy met die blokfluit en die boek by die klavier gaan sit en self die regte note op die klavier gevind.

Vandag is die twee seuns op die foto twee groot manne wat hulleself regtig bewys, iets waarvoor ek baie dankbaar is. Maar my bloginskrywing gaan eintlik oor die Sus, wat hierdie week haar laaste amptelike klas bywoon.

Die klein haasbekkie op die foto is nou ‘n pragtige jong dame wat die lewe met lus aangryp, ‘n avontuurlustige meisie wat hou van ‘n uitdaging. Ek glo dat sy haar plekkie sal volstaan waar sy volgende jaar die werkmag betree.

Elke einde bring ‘n nuwe begin. Sterkte met jou laaste konserteksamen, maar ook met die ander eksamens wat jy moet aflê. Gryp hierdie laaste stukkie en hardloop dit voluit!

Toortsie

Toortsie se faceboekblad.

22 thoughts on “Die einde, die begin

    1. Weet jy, ek lees soms negatiewe dinge, soos dat party mense net spog met hul kinders asof hul nooit foute maak nie. Ek probeer nie om te spog met my kinders nie. Tog is ek baie trots op hulle. Ek dink ek sal hul ‘n oneer aandoen deur nie trots te wees op hulle nie. Hul bring regtig al drie hul kant, hul probeer hul bes en in dankbaarheid kan ek sê dat ek nog nooit rede gehad het om my vir hulle te skaam nie. Foutjies maak ons mos maar almal, maar dis mos deel van die lewe.

      Like

    1. Sy spesialiseer in blokfluit, kamermusiek. Neem steeds dwarsfluit en het ook klavier graad 8.
      By die musiekskool het hulle ook vir haar toegang gegee tot die kerkorrel en klavesimble. Sy het ook vanjaar begin met kitaar.
      Ek wil nie nou die musiekskool se naam noem en slapende honde wakker maak nie. Ek glo jy verstaan.

      Liked by 1 person

  1. Baie geluk, dis fantasties! Ek dink daar is min dinge wat ‘n ouer gelukkiger maak as wanneer hulle kinders goed aangepas en suksesvol is. Ons middelkind maak nou klaar met skool en doen aansoek om musiek te gaan studeer. Sy speel ook so verskeie instrumente. Ek geniet die musiek net so (het ook op skool tot matriek en fluit graad 8), maar deesdae kom ek nie so gereeld darby uit nie. Sterkte vir jou dogter vorentoe, ek is seker sy sal ‘n sukses maak van wat ook al sy doen.

    Liked by 1 person

  2. Jy mag maar opreg trots wees. Die vers wat by my opgekom het toe ek hier lees is van die werk wat God vir ons voor die grondlegging van die aarde voorberei het. Hy het Sy eie spesiale plan met haar.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!