Die beste ek

Terwyl ek nou laatoggend my bed opmaak nadat ek eers my episode in die Goue Vroue se laaste avontuur geskryf het, hardloop die gedagtes in my kop. Dis darem wonderlik hoeveel ‘n mens groei in jou lewe as jy dit toelaat!

Ek sou NOOIT in my wildste drome dink dat ek deel van ‘n groep vroue sou wees wat saam die lafste, die avontuurlikste, die verbeeldingrykste stories skryf nie. Dat ek dit enigsins sou waag nie. Want ek kan nie skryf nie. Ek kan nie opstelle skryf nie. Ek het nie verbeelding nie. Wat sal die ander mense dink?

Totdat ek dit een dag gewaag het om te begin gesels op ‘n blog. Nadat ek Julie Julia gesien het en ek op daardie stadium so vereensaam het op die plaas. My kinders was almal iewers in ‘n koshuis en ek vasgevang in my rekenaarwerk op die plaas. My beste vriendin het dorp toe getrek. Ek het nie meer by mense uitgekom nie.

Maar ek het in my bidboek geskryf. En ek het ingeskryf vir kursusse waar die dosent telkens op my werkstukke positief melding gemaak het van my taalgebruik. En iewers het ‘n saadjie begin groei.

Nou skryf ek nie meer so baie nie, en dís waaroor my gedagtes hardloop. Ek lees ook nie meer so baie blogs nie en dis ‘n fout. Want ek kan ‘n vaardigheid wat ek aangeleer het, weer verloor as ek dit nie gebruik nie. En as ek nie blogs lees nie kan ek dalk later die pot heeltemal mis sit.

Ek sal nooit ‘n Deon Meyer of ‘n Chanette Paul wees nie. Dis okay. Want ek is Madelé Burger. Netso kan ek ook nie ‘n Zorada Temmingh word wat my orrelspel aanbetref nie of ‘n Martjie nie en dis ook okay. Ook nie ‘n Erna Visser wat my borduurwerk aanbetref nie. Of my ma wat statigheid en goeie smaak aanbetref nie. Of my pa in sy goedheid nie.

En dis my punt. Ek sal dalk nooit ‘n Billy Graham wees nie. Of ‘n Broer Andrew nie. En dis juis dít wat my vir baie jare gekniehalter het. Want dit maak nie saak hoe goed ek ‘n ding doen nie, daar is altyd iemand wat beter is in daardie spesifieke ding. Of dit naaldwerk is, of musiek of geloof of skryf of of of of … En solank jy na daardie stemmetjie luister wat jou dit vertel, is jy gedoem. Want jy kan jou bes probeer en hard werk en jou alles insit en jou totaal uitbrand en uitmergel en dalk nooit daardie punt bereik nie.

Of jy kan besluit om die beste jy te word. Om dit wat jy doen met oorgawe en passie te doen. Om JOU beste te gee en te wees. En dit te geniet. Jou roeping uit te leef en die beste JY te kan word. Want as jy baie mooi dink, is daar net een Toortsie in die wêreld. En net een Una. En een Woordnoot. En een Kameel. En een Bondelsgedagtes. Een Seegogga. Een Appeltjie. So kan ek aangaan. En ons is bedoel om net een te wees. Uniek. Goed genoeg.

Hoe lekker is dit nou!

Toortsie

Liewe Job

Terwyl ek so lees van jou daar op die ashoop met die sere en alles wat sleg is wat met jou gebeur het en jou vriende wat dalk nie op die manier praat wat jy wil hoor nie, het ek dit op die hart om vandag dít vir jou te sê en sal jy my asseblief vergewe as ek ook verkeerde woorde praat. Want weet jy, ek het die manier om verkeerde woorde op die verkeerde tyd te sê. Om my verkeerd uit te druk. En dan, as ek besef ek het verkeerd gepraat of dat dit anders uitgekom het wat ek bedoel, probeer ek dit regmaak en dan voeter ek dit nog meer deurmekaar en mors ek dit nog meer op. En ai, Job, ek is mos ‘n prater wat heeltemal te veel praat en ek dink, ek weet, ek sou ook probeer woorde sê om dit vir jou makliker te maak. Woorde wat dalk as nutteloos afgemaak kan word.

Maar Job, my hart huil vir jou. Ek ken ook nie die antwoorde nie. Maar wat ek weet is dat God getrou is en dat Hy saam met jou in hierdie ongelooflike sleg tyd is. En dat Hy vir jou die krag sal gee om wel hierdeur te kom. Selfs al voel dit nie nou vir jou so nie. O, en Job, hoe vreemd dit sekerlik vir jou in hierdie situasie sal klink, weet ek dat God vir jou ongelooflik liefhet. Jy weet, dat Hy selfs saam met jou huil. Saam met jou swaarkry.

Job, vergewe my asseblief as ek in my poging om jou te ondersteun dalk verkeerde woorde sê. Want weet jy, eintlik wil ek sommer net hier langs jou sit en saam met jou treur oor hierdie verskriklike ding wat jou oorgekom het. Ag, en dan borrel die woorde soms sommer net uit voor ek gedink het. En weet jy, soms as ek eers gedink het, borrel die woorde selfs nog meer verkeerd uit!

Hoekom dit met jou gebeur het, weet ek regtig nie. Maar ek hoop dat my teenwoordigheid tog vir jou tot ondersteuning sal wees en dalk, eendag as jy terugdink hieraan, dit vir jou iets sou beteken. En dat jy God se genade sal ervaar.

Groete

Toortsie

Hoekom doen ek sekere dinge?

Hoekom doen ek sekere dinge? Nie omdat ek nie weet wat om met my tyd aan te vang nie. Of omdat ek oulik is. Of watter rede ookal nie.

Ek kyk na wat ek eet omdat ek vetsugtig (obese) was. Omdat my gesondheid daaronder gely het. Omdat ek gesien het hoe die skaal soos met ‘n hysbak net op en op gaan en ek niks kon doen om dit te keer nie. Omdat ek nie die selfbeheersing gehad het om weer eens by ‘n Weigh Less of Weight Watchers aan te sluit, vinnig ‘n klomp gewig te verloor en dit te behou nie. Omdat my suikervlakke gevaarlik hoog was en ek aan Metaboliese Sindroom gely het.

Hoekom skryf ek daaroor? Want ek is ‘n prater. ‘n Uitsaaier. Want deur daaroor te skryf en dit met die wêreld te deel, ek myself aanspreeklik hou, maar hopelik ook baie ander daardeur help.

Hoekom publiseer ek resepteboeke? Nie om geld daaruit te maak nie. Om die waarheid te sê, sodat ek self uit ‘n mooi en goed getoetsde resepteboek kan werk wat presies vir my dieet werk. En weer eens, sodat dit ook vir ander tot hulp kan wees.

Hoekom doen ek rugoefeninge? Beslis nie omdat ek graag wil nie, maar omdat, as ek dit nie doen nie, selfs pynpille later nie meer help nie. Rugpyn dwing my om my rug te oefen en my sterker te maak, eerder as om pynpille te drink, want as ek my rug oefen, hoef ek daardie dag nie pille te drink nie.

Hoekom lees ek my Bybel en bid ek? Spandeer ek tyd met God? Want ek kan nie anders nie. Hy is my Rots, my Anker, die Een by wie ek skuil. Die Een wat my kalmeer in rowwe tye. Die Een wat my vreugde deel, by wie ek krag kry.

Hoekom gaan stap ek graag? Natuurlik vir die oefeningwaarde daarvan, maar om in die natuur te kom is so goed vir enige persoon en stap is goeie oefening. Vroeërjare is daar neergesien op stap, ‘n mens moes eerder draf. Vir sommige mense, soos ek, is stap beter. En dis lekker. En jy voel so goed daarná. Tydens ‘n stapsessie orden ek my gedagtes, as so iets enigsins moontlik is. Kry ek nuwe idees. Perspektief.

Hoekom spaar ek? Want, in daardie uiters moeilike beginjare het ek besef dat dit die énigste manier is om my finansiële omstandighede beter te maak. Kon ek van die spaargeld gebruik om myself te verbeter op verskeie vlakke om my omstandighede te verbeter deur ‘n beter inkomste te genereer binne my milieu.

Die ding is – ‘n mens kan nie jou omstandighede verander as jy alles op dieselfde manier bly doen nie. Iewers moet ‘n mens waag buite jou gemaksone, dinge anders begin doen, selfs al is jy ál een.

Toortsie

Ongemak

Ek wou eintlik vandag skryf oor slaapkwaliteit. Oor dit wat ek by die kursus geleer het en hoe ek dit tans ervaar. Die Banting Coaching kursus wat ek doen, het twee afsonderlike kursusse in een. Die een is die Nutrition Advisor Network Training wat spesifiek gaan oor die wetenskap van die LCHF (Laekoolhidraathoëvetleefstyl), oor diabetes, vetsugtigheid. Die tweede kursus is Essential Coaching Skills, die ondersteuningsgedeelte, waarmee ek nou besig is.

Dit was in die eerste kursus wat ek gereeld van slaapkwaliteit gehoor het en ek is nou klaar nie meer seker by watter van die kursusleiers ek dit gehoor het nie. As jy die nag sleg slaap, is jou weerstand die volgende dag swakker en val jy makliker vir verkeerde kos of watter versoeking ookal oor jou pad kom. Die kursusleier het genoem dat as jy die ‘venster waarbinne jy eet’ verklein, maar veral ook jou laaste kos of tee met melk of enige iets wat die liggaam nog moet verwerk minstens drie ure voor jy gaan slaap, moet eet. Want jou brein sluit eers drie ure ná die kombuis toegemaak het, af vir ‘n diep slaap. En ja, sedert ek nou slegs twee keer op ‘n dag eet en nie nog ‘n bakkie joghurt gaan verorber net voor slaaptyd nie, hét my slaappkwaliteit aansienlik verbeter. Natuurlik is daar ander faktore ook wat jou slaapkwaliteit beïnvloed, soos spanning, pyn, bekommernisse, blaasinfeksies, te veel drink kort voor slaaptyd …

En dít het nie sonder ongemak gekom nie, wat my bring by wat Luc van der Hofstadt my vanoggend geleer het. En wat die Bybel my ook leer. Dat jy groei in jou pyn, in jou ongemak. Dat as jy net in jou gemaksone bly, jy stagneer, selfs kan agteruitgaan. Dat, as jy wíl groei, jy moet weet dat jy ongemak gaan verduur. Ongeag waar jy die groei wil ervaar – in jou geloof, in jou besigheid, om meer geld in jou beursie te hê, in jou gesondheid.

En iewers is daar dalk iemand wat jou wil help op hierdie pad, iemand wat jou dalk op ‘n ‘ongemaklike’ roete gaan neem en hopelik sal hierdie iemand jou ook ondersteun en aanmoedig en motiveer. Want, ‘sometimes we WIN, and sometimes we LEARN’, sê Luc van der Hofstadt. En soms mag jy as leier/berader/coach/onderwyser/ma selfs vir ander onsimpatiek lyk terwyl jy eintlik baie empatie met die persoon het, maar dat dit juis só is omdat jy die persoon help om hoër hoogtes te bereik. Maar dít kan slegs gebeur as die persoon self daardie hoogtes bereik …

Toortsie

As die hindernis nie daar was nie?

In vandag se uitdaging praat Collen-Joy Page so na my hart. Wat sou jy doen as die hindernis nie daar was nie?

Ek het seker al op universiteit in bedryfsielkunde hiermee te doen gekry by motivering, maar dit dalk nie soveel besef nie. Omdat ek graag motiverende boeke lees, het ek al gegroei hierin. En dan natuurlik daardie tyd by Amway se Dreambuilders Assosiation wat ek soveel geleer het. Anna, my senior, het destyds gesê dat dalk hou jy nie aan met Amway nie, sal dit wat jy by hulle geleer het, jou lewenslank help, en dit is baie waar. Dáár het ek soveel motiveringstoesprake geluister en boeke gelees – boeke wat my laat groei het as mens.

By Amway het ons geleer om ons einddoel te visualiseer. Om vir ons doelwitte daar te stel. Doelwitte op te breek in kleiner, meer bereikbare doelwitte. Om dit wat jy wil bereik, in prentjies teen jou muur op te sit. Soos, in daardie uiters besige tyd, as ek vlak drie sou bereik, kon ek vir ‘n hele dag net boek lees. Of dalk ‘n naweek weg na ‘n lekker plek en ‘n foto daarvan op die muur plak.

Maar daar is altyd die hindernis in die pad. Ek het nie tyd nie. Of ek het nie geld nie. Of ek sal dit nooit kan bereik nie. Of ander mense keer my.

En baie keer is daardie hindernis meer in my eie hart as wat dit regtig daar is. Kyk ons vas in iets was nie regtig bestaan nie.

Vandag is die uitdaging: Wat is daar wat jy graag wil bereik? Wat keer jou om dit te doen (wat is die hindernis). Kan jy jou indink wat jy sou doen as die hindernis NIE daar was nie?

Dus, dink jou in die situasie in sonder die hindernis. Byvoorbeeld, jy wil graag die Camino gaan stap. Maar om dit te doen moet jy geld tot jou beskikking hê wat jy nie het nie. Gestel dat geld nie die probleem was nie, wat sou jy eerste gedoen het? Dalk sou jy probeer uitvind het wat die werklike koste sal wees. Dalk sou jy dan besef het dat dit minder is as wat jy gedink het. Of miskien kan jy dan beplan wat jy kan doen om die kosteprobleem uit die pad te kry – dalk ‘n klein bedraggie elke maand spaar? Of nie meer uiteet of jou gunsteling tydskrif koop nie? Dalk DSTV kanselleer waarna jy in elk geval nie soveel kyk nie en daarsonder klaarkom? En as jy eers begin om die situasie sonder die hindernis te bekyk, lyk dit vir jou baie meer binne bereik.

Wat is die hindernis wat vandag in jou pad staan om iets te doen wat jy nog altyd wou? Wat keer jou om die gewig te verloor wat jy so graag wil? Jou liefde vir aartappels? Wat keer jou om vrede te maak met daardie persoon na wie jy so verlang? Stel jou voor dat die hindernis nie daar was nie – wat sou jy gedoen het? Hom gebel het? Of dalk sommer aan sy voordeur gaan klop het? Of dalk ‘n bos blomme gestuur het?

Komaan! Kom ons kyk ons hindernisse in die oë! Dis dalk glad nie so ‘n groot hindernis as wat ons dink nie.

Toortsie