In ‘n stukkende wêreld

In ‘n stukkende wêreld waar soveel misverstande is, waar die duiwel rondloop soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind, waar mense onbedoeld foute maak, waar mense seerkry, waar mense op tone trap, selfs al wil jy nie, waar vriendskappe seerkry, families opbreek, waar mense in moeilike omstandighede leef, waar mense verslaaf raak aan allerhande dinge, waar ons gedwing word om kompromië te maak, waar …

glo ek aan tweede kanse, aan weer probeer, aan selfondersoek doen, aan sê dat ek jammer is, opreg jammer is, aan vergifnis, aan heelmaak.

Want ek glo, nes daardie skaakspeler wat eintlik in skaakmat is, met God se hulp hy nog ‘n skuif het. Ek glo daaraan dat ‘n kledingstuk wat stukkend is, heelgemaak kan word. Ek hou van die Japannese idee dat ‘n porseleinstuk wat in stukke gebreek word met goud herstel kan word. Ja, die krake sal altyd daar wees, maar die goud kan jou herinner daaraan hoe kosbaar jy is, hoe breekbaar jy is, hoe maklik ‘n fout kom, maar dat jou verhouding belangrik is.

In die TPM (Transformation Prayer Ministry) spreekkamer sien ek wonders gebeur. Sien ek hoe mense ander vergewe, hulleself vergewe, leuens wat hulle hulle lewe lank glo en wat hulle dalk anders laat optree, laat gaan. In die TPM-kamer sien ek hoe mense verligting kry. Kry ek ook verligting as God ook aan my waarhede uitwys. Want ook ek gaan ondersoek my emosies as ek erg ontsteld was oor iets, só erg dat ek in ‘n oomblik van swakheid myself verloor, anders optree as wat ek graag wou.

Ek kom uit ‘n era waar dinge heelgemaak is. Nie sommer net weggegooi is nie. Daarom sal ek, selfs al verloor ek soms moed, selfs al verloor ek myself soms, selfs al tree ek dalk self onvergeeflik op, selfs al lyk dit menslik heeltemal onmoontlik, maar sal ek altyd weer en weer en nog ‘n hele paar keer aanhou probeer. Ja, soms is iets sekerlik onherstelbaar vernietig, dit aanvaar ek, maar soveel keer word iets weggegooi wat eintlik nog herstel kan word, weer mooi kan word, selfs beter kan word as wat dit vooraf was. Soveel keer mis mense mekaar die res van hulle lewens, verlang hulle na mekaar, want hulle was goed vir mekaar, behalwe daardie een verskriklike misverstand wat eintlik regtig herstel kan word, kon hulle mekaar weer iewers vind en weer die vreugde van hulle saamwees geniet.

Nuwe Nuut. Want in die proses van seerkry het ons van onsself en ook van mekaar geleer. Het ons hopelik ook nader aan God beweeg. Het ons gegroei. Het daar hopelik van die onsuiwerhede wat nog in ons was, na vore gekom en kon ons daarvan werk maak.

Ek glo aan ‘n God vir wie niks onmoontlik is nie. ‘n God wat Almagtig is. Liefdevol is. Wat baie meer kan doen as wat ek kan dink of droom.

Toortsie

Gemoedstoestand

Of ons dit nou so wil hê, of nie, ons gemoedstoestand word weerspieël in ons skryfwerk. Ons kan dit so wil wegsteek soos ons wil, maar as ons kwaad is, is ons blogs kwaad, as ons bly is, is ons blogs bly. En natuurlik, saam met dit, is ons blogmaats ook bly of kwaad of hartseer saam met ons wanneer ons mekaar se blogs lees en dis wonderlik.

Dis wat Jo Black gesê het by die vroue-oggend wat ek was: Empatie en ons glimlag is alles gawes wat God vir ons gegee het om vir ander uit te deel. As ek glimlag, voel jy ook opgelig. As ek empatie het met jou, voel jy dit en voel jy nie meer so alleen nie.

‘n Hele rukkie gelede was ek baie kwaad vir iemand. Dit het gevoel of my persoonlikheid aangetas is, of ek buite my persoonlikheid moes optree om hierdie persoon tevrede te stel. Ek is beskuldig van goed waarvan ek regtig nie skuldig is nie, en dan sê sy, ek besef nie ek doen dit nie, wat seker waar is.

In hierdie tyd het ek ‘n hele paar ‘kwaaiblogs’ geskryf. Ek moes net, ek moes ontslae raak van die woede wat in my opgekrop het, behoorlik ingelê met die lat. Ek het my sê behoorlik gesê in hierdie blogs, sonder om na hierdie persoon direk te verwys, sonder om selfs te verwys dat dit teenoor my gedoen is. Ek het probeer om dit in die algemeen te skryf. Ek het dit nie dadelik gepubliseer nie, omdat ek besef het dat dit op daardie stadium skade sou doen.

Oor en oor het ek die bloginskrywings wat lê en wag het, gelees, verander daaraan, hardheid daaruit gehaal, probeer om die byt te verwyder. Wanneer ek gevoel het dit is tyd, het ek selfs van hulle gepubliseer.

Een van hulle het ek al ‘n maand gelede verwyder omdat ek gevoel het dis nie iets om te publiseer nie. Tog het twee bloginskrywings hier bly lê, die een gereed om gepubliseer te word, die ander een nog ‘n bietjie op die ys.

Elke keer skryf ek nuwe goed, en hierdie twee bloginskrywinkies skuif af en af en af.

Skielik bekyk ek die blogs wat ek tans skryf en dink, ek is tans vrolik en lig in die hart, ek is laf en maak grappe, trek my eie been, vertel lawwighede oor myself, hierdie twee bloggies pas regtig nie in nie, Eintlik het ek dit klaar uit my sisteem gesit. Klaar verwerk.

En ek vee hulle uit.

Weet julle hoe lekker voel dit?

Toortsie

Iemand aan wie jy verantwoording doen

Ek het ‘n vriendin wat haar lewe lank verskriklik oorgewig is. Haar lewe lank probeer sy gewig verloor, kry sy dit reg, verloor sy moed, tel weer op, ens. Sy is tans weer besig met ‘n gewigsverliesprogram. Sy het eers iets anders probeer, toe Banting, en is blykbaar nou met iets anders besig. Ek gee nie om wat sy doen nie, solank dit vir haar werk!

Elke week kry ek ‘n whattsapp wat sê, ek het hierdie week soveel verloor. Of ek het stilgestaan. Elke week sê ek vir haar, dis mooi! Sjoe! So die totaal is nou al soveel! Wow! Hou net aan. En sou sy die week stilstaan en mismoedig voel, sê ek, onthou die liggaam moet aanpas by die klomp gewig wat verloor is, stilstaan is beter as wipplank ry, moenie moed verloor nie, hou net aan. Dis al.

Dit laat my besef hoeveel keer ons iemand nodig het om ons hand vas te hou. Die persoon doen eintlik heeltemal niks, maar jy kan gaan ‘rapporteer’ by die persoon. Dit gee jou die gevoel dat jy nie alleen staan nie, dat daar iemand is teenoor wie jy jou vreugdes deel, maar ook die mislukkings.

Een aand moes ek en my dogter in die donker en in baie digte mis terugry vanaf Stellenbosch huis toe. Dit was angswekkend. My seun was by die huis en by elke dorp wat ons deurry, het sy vir hom ‘n boodskap gestuur: ‘Ons trek nou hier.’ Ek weet nie eers of hy die boodskappe gelees het of hom gesteur het daaraan nie, vir my het dit geweldig baie beteken dat daar iemand is wat by die huis wag, iemand wat hopelik van dorp na dorp weet waar ons trek, iemand wat hopelik sal agterkom as die smsse skielik nie meer kom nie en hulp sal soek indien nodig.

Dit maak nie saak wat ons in die lewe aanpak nie, of dit in ons geloof is, of in ons gewone lewe, of dit iets nuuts is wat ons probeer nie, of weer van vooraf stoei met ‘n lewenslange probleem nie. Wat regtig help is as daar iemand is teenoor wie jy net kan sê: “Ek probeer nou dit. Kan ek op ‘n gereelde basis vir jou vertel hoe dit gaan?” Iemand wat dalk soms vir jou kan vra, hoe gaan dit? Hou jy nog uit? Is daar vordering? Hoe kan ek help?

Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie en as ons iemand het wat ons kan help om ons las net effens te help dra, of ons net kan aanmoedig daarmee, maak dit dit vir ons self soveel makliker.

Sterkte met wat jy ookal aanpak.

Toortsie

55 is lekker

Kyk, ek het gedink, toe ek 40 geword het, dat ek in die sewende hemel is, want as jy 40 is, mag jy doen wat jy wil, wanneer jy wil, met wie jy wil, of jy wil, hoe jy wil, hoeveel keer jy wil.

Maar toe kom 50 en ek dog, nou is ek in Utopia! Maar 55! Man, dis ‘n lekker besigheid!

Die eerste ding wat natuurlik met 55 kom, is dat jy teen hierdie tyd al ál jou verstand verloor het. Daardie ongelooflik baie verstand wat jy op 25 gehad het, wat selfs vermeerder soos jy ouer raak, is totaal opgebruik wanneer jy by 55 kom. Lekker, né?

So, niemand kan meer van jou iets verwag nie, jou opinie geld nie meer nie, want wat weet jy after all? 🙂 En jy praat uit jou beurt uit, alles as gevolg van die verstand wat opgebruik is! En juis dít vervolmaak 40 se of jy wil wanneer jy wil met wie jy wil net heeltemal.

Op 55 begin jy al afskaal, kies jy wat jy wil doen en hoe en met wie. Op 55 het jy al ‘n hele klompie eksamens van die lewe afgehandel. Party van die eksamens het jy met vlieënde vaandel geslaag, sommige het jy gedínk jy het geslaag, net om agter te kom dat jy die kat aan die stert beetgehad het. Party van die eksamens het jy herhaaldelik gedop en kry dit steeds nie reg nie, maar party het jy tog later wel reggekry, miskien so by die tiende poging, en net-net, maar darem.

Op 55 het jy ook al ‘n hele paar hoofstukke in die lewensboek klaar geskryf en afgehandel. Been there, done that, got the t-shirt. 🙂 Is dit nou nie lekker nie?

Een van die lekkertes van 55 is dat jy kan kies of jy jou aan kaboutergoetertjies gaan steur, watter van hulle jy gaan verduur, selfs al wil nie, en watter jy eenvoudig gaan ignoreer.

Op 55 begin ek tyd kry om soms iets lekkers te doen, goed waarvoor ek vroeër in my lewe nie die geleentheid gehad nie, omdat die geleenthede bloot nie daar was nie, of omdat ek my beurt met klein kinders gehad het en net alles in my vermoë moes doen om kop bo water te hou, en ek belowe julle, ons almal kry ons beurt daarmee, of ons nou wil of nie.

So, op 55 geniet ek die bietjie vryheid wat daarmee saamkom, selfs al is sekere ander probleme weer baie groter as wat dit vroeër was. Gelukkig het ek al op 55 ook geleer om by my Vader se voete te gaan sit en dat Hy versorg en troos.

55 is vir my ‘n vensterperiode, voor die winter van die lewe kom wat ek miskien nie meer so alles sal kan doen nie. Om die waarheid te sê, ek besef alreeds dat daar sekere goed is wat ek nie meer kan doen nie.

Maar intussen geniet ek my 55 jaar voluit en ek brei truitjies presies volgens die patroon, maar stil-stil wonder ek of dit nie ‘n rokkie is nie. Die moutjies lyk ook korterig, maar ek moet onthou dis hangskouertjies

Groetnis

Toortsie

Kameel – spring diepwater in

Op 16 November 2011 het ek op aanmoediging van Toortsie my eerste blog by haar geplaas. Toorts het opgeskuif en vir my plek gemaak… want sy kon sien op my eie sal ek nooit ‘n blog begin nie. Nou amper sewe jaar later neem ek ‘n sprong en begin my eie blog met die hoop dat ek intussen meer selfstandig geraak het 😊 en kan swem sonder bangwees vir verdrink. Ek sal Toorts altyd dankbaar bly vir haar geloof in my, en haar hulp deur die jare. Dankie ook aan julle almal wat gelees en saamgesels het….. en so deel van my lewe geword het.

My nuwe blogadres is https://kameel179438031.wordpress.com

Ek plaas die blog waarmee ek daardie dag 16 November 2011 mee afgeskop het.

Nou ja, die gordyn lig en daar staan Kameel in Toortsie se lig.  Dit het heelwat aanmoediging van Toortsie geneem – en sy moes ‘n slag of twee die leisels stewig vasvat – om Kameel in die kollig te kry.  Kameel sou jou waarlik nog heerlik agter die skerms gesit en kommentaar lewer het, was dit nie vir Toortsie nie.

Die kollig is nou eenmaal nie vir my nie, en die kere dat ek dit wel gehaal het, was definitief nie te danke aan my ywer nie.  Nee, ek is in die kollig ingestamp, of het per toeval daarin gestruikel, of is aangemoedig, en het met my oë styf toe die sprong gewaag… hopende dat die lig intussen verskuif het.  Wat doen ‘n kameel as die lig op jou val?  Jy “perform,” of jy stap kop onderstebo van die verhoog af… terug woestyn toe.  Tot dusver het ek deur genade, nog altyd vasgebyt en eers pad gevat wanneer die gordyn gesak het.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, Toortsie het my nie hardhandig behandel en buite my wil verhoog toe geboelie nie – dit is daardie lig van haar wat in dieper plekke inskyn, om dit wat in die duister is lig toe te bring.  So het haar lig geval op ‘n behoefte diep binne my om miskien – net miskien, iets vir iemand wat ook woestynpad stap, te beteken.

Toortsie, om Kameel ‘n rolverdeling op jou blog te gee mag sy nadele ook hê; met tye gaan die roepstem van die stilte te sterk word om te weerstaan, en ek gaan vir ‘n tyd lank daardie stilte opsoek waar ek alleen met my God kan wees.

Kameel