planttyd

Ek het julle al alles geleer van oestyd en hoe om bale te maak, maar dit help ons alles niks as ons nie die graan geplant het nie!!

April/Mei is planttyd in die Overberg. Op hierdie land was verlede jaar canola gesaai, en die droë canola-stoppels is nog orals te sien.

‘n Sterk trekker trek die planter.

Die plant-aksie van nader bekyk:

Hierdie foto (hierbo) is van agter geneem. Als wat ek nou gaan verduidelik is onder en agter die geel silinders.  ‘n Hak (wat nou diep in die grond is), maak ‘n slootjie.  Uit die voorste pypie agter die hak val die kunsmis uit, en dit word diep in die slootjie geplaas. Die saad val uit die pypie, bokant die kunsmis, maar raak glad nie aan die kunsmis nie. Die wieletjie druk die grond bo-op die saad vas en bepaal die diepte wat die saad geplaas word.

Op die foto hierbo kan jy ‘n geel vloeistof sien wat deur klein spuitjies gespuit word.  Dit is ‘n voor-opkoms onkruiddoder wat op die grond gespuit word.  Wanneer die saad geplant word, maak die hak die slootjie vir die saad om in te val (soos hierbo verduidelik), maar die chemikalieë is net in die walletjies. Dit kom glad nie met die saad, wat in skoon grond geplant word, in aanraking nie.  Die onkruid wat in die walletjies opkom, word doodgebrand. Dit is egter slegs effektief as dit binne sewe dae reën, sodat die chemikalieë inwas in die grond in.

Die volledige planter van agter gesien. Hier is die slootjies, waarin die saad geplant is, ook duidelik sigbaar.

Slootjies. As dit reën, word die water ook makliker opgevang.

Duidelike verskil tussen die geplante en ongeplante deel van die land. Terloops, op hierdie land is koring gesaai.

Baie dankie aan my man vir die mooi verduideliking van elke stap… 😆

En vir ons chemikalieë verteenwoordiger… 😉

Toortsie se faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie by Finesse: Blomme van geluk

18 thoughts on “planttyd

    1. Liefste Kameel. Ek sien jou URL is kameeltjie.wordpress.com. Sover my kennis strek, bestaan daardie blog nie meer nie. Dis mos toortsie.wordpress.com waar jy tuis is!
      Lekker aand!!

      Like

      1. Toortsie, ek werk op ander mense se computer….. en van gister af is dit verniet of ek by my dashboard kan uitkom 😯 Enige raad, of het ek hier ook die pad byster geraak?

        Like

    1. Dit is mooi. Want dit spel HOOP. Al weet die boer nie wat vir hom voorlê nie, al lyk dit of dit ‘n moeilike jaar gaan wees, plant hy steeds, want dis in sy bloed, maar hy plant ook in die geloof dat God sal voorsien.

      Like

  1. Heel interessant. Dankie vir die skrywe! Hoop julle het ‘n voorspoedige seisoen. ‘n Vraag – is daar iets wat grond bo-oor die kunsmis gooi, dat die saadjie nie daaraan raak nie? Ek kan my nie voorstel hoe sit die saad bo, maar nie bo-op die kunsmis nie. Of is hulle skuins langsmekaar, soos in die vlak en diepkant van die swembad?

    Like

    1. My man het so mooi verduidelik, maar ek sal hom weer vra… ek is ook maar net die boodskapper!
      Die saad kom beslis nie in aanraking met die kunsmis nie. Ek dink as die saad klaar ontkiem het, het die kunsmis ook al in die grond ingewas?

      Like

    2. Karen, ek het nou weer vir manlief gevra. Hy het nou mooi verduidelik van gravitasie en omdat die planter beweeg, en daar beweging is, val daar grond terug in die slootjie. Die saad en die kunsmis is direk bokant mekaar, maar daar is defnitief grond tussen-in. Ek is maar dom, jong! Ek wou eintlik sommer net die plantery wys, toe het pappa met moeilike verduidelikings gekom.

      Like

Gesels saam, asseblief!