Ek vat ‘n ruskansie

Ek wou eers skryf, ek het nou eers opgehou. Maar ek het nie regtig opgehou nie. Ek vat ‘n ruskansie. Vat ‘n ruskansie, eet ‘n KitKat. Ja, ek eet die spreekwoordelike KitKat.

By 32592 woorde stop ek nou vir eers. Net vir ‘n rukkie. Nie vir altyd nie, net ‘n rukkie. Want ek wil nie Trauma tot Triomf geforseerd skryf nie. Ek wil dit rustig skryf. Oor tyd. Rustig dink oor die vroue. Sonder druk.

Want daar is mos eintlik nie veronderstel om druk te wees nie. Want eintlik is NaNoWriMo om jou te help om daardie boek te skryf wat jy nog altyd wou skryf.

Al wat ek weet, is dat as jy 30 000+ woorde reeds in die sakkie het, jy dit seker tog wil klaarmaak, of hoe?

Ons sal sien wat die toekoms inhou. Ek wil dit graag klaarmaak.

Maar vir eers … gooi ek nie die handdoek in nie … ek sit hom net op die ys.

Toortsie

Ek word behoorlik uitgedaag

Met dié dat ek na Bybelvroue en hulle trauma en veral hoe hulle met God se hulp hulle trauma in triomf verander het, kom daar groot uitdagings. Eerstens het ek myself uitgedaag met dit. Of nee, nie ek nie, God het my hiermee uitgedaag, want dit was mos Hy wat vir my gesê het dat ek hieroor moet skryf. Hy het selfs vir my gesê wat die naam van die boek ook moet wees.

Die volgende uitdaging lê daarin om die vroue te ontdek. Ja, ek het ‘n hele Bybel vol van sulke vroue, maar vind hulle gou ‘n bietjie vinnig! Daar is die ooglopende vroue van wie ons almal weet: Ragel, Lea, maar oor hulle is daar al baie geskryf. Vir my lê ‘n groot uitdaging juis in die vroue wat minder bekend is, maar soos iemand gesê het, oor hulle is daar ook al baie geskryf.

Dan moet ek die vrou oordink. Die trauma wat sy deurgegaan het. Hoe voel dieselfde tipe trauma in vandag se tyd? Hoe kan ek dit toepas? En dit bring ‘n ander uitdaging, dat daar sekere van die vroue is wat genoem word, wat dieselfde tipe trauma beleef het. Amper dieselfde storie, net ‘n ander naam, dus, as ek oor een geskryf het, wat skryf ek oor die ander een?

Hierdie projek laat my deur ‘n wonderlike, onbekende pad stap. Dit laat my baie meer tyd met my Bybel spandeer. Dit laat my dit oordink. Oplees. Navorsing doen. Maar die wonderlikste is dat ek vriende oral het wat betrokke is. Wat skielik onthou van iemand. Of iemand raaklees. Of trauma raaksien waaraan ek nie gedink het nie.

Soos Petrus se vrou. Watter trauma sou sy nou hê? Sou sy impulsiwiteit dit vir haar moeilik gemaak het? Of het sy dit geniet? Deur na haar te kyk, beteken dat ek met ‘n vergrootglas na myself sal moet kyk, want ek is mos Petrus se tweeling. Genade! Dit beteken ek sal moet dink daaraan hoe dit vir my man moet voel om saam met my te leef! Trauma? Ek dog dan om saam met my te leef het jy ‘never a dull moment’? Soos ons wiskunde onnie van die Voet van Afrika gesê het, dat dit ‘n wonderwedloop is, want jy wonder altyd wat volgende gaan kom? Ek dink nie die een wat dit voorgestel het, het dit besef nie, maar ek het die uitdaging aanvaar. 🙂 Ek giggel al heeldag!

Toortsie

Bieg: Ek het gister nie ‘n woord geskryf nie.

Volg gerus my voorlesings uit my boek, My kinderjare met betrekking tot vandag, by Soundcloud. Hier: https://soundcloud.com/user-39380642

‘n Nie-wenner

Hierdie jaar gaan ek nie ‘n amptelike NaNoWriMo wenner wees nie. Ook nie ‘n verloorder nie. Of ‘n tweedekommer nie.

Ek skryf vanjaar te stadig. Heeltemal te stadig. Ek staan tans op 27400 woorde wat ek fisies vir my boek geskryf het en totale woorde geskryf is amper 30 000. Ek voel gemaklik hieroor. Ek skryf elke dag ‘n bietjie.

Trauma tot triomf is nie ‘n onderwerp wat jy kan afjaag nie. Dit vra heelwat navorsing omdat ek na vroue in die Bybel verwys.

Ek is baie bly dat ek wel ingeskryf het vir Nano, selfs al sien die hele wêreld dat ek nie vanjaar my rofwerk binne die voorgeskrewe tyd voltooi nie. Ek het dit begin, werk daagliks daaraan en sal dalk nog lank daaraan werk.

My brein voel moeg, want ek het hom die laaste tyd kwaai gedruk. Het baie goed ingedruk en gedoen gekry. Ek werk teen ‘n pas wat nou vir my goed en gesond voel. Beslis nie so vinnig soos ek kán werk nie, maar hier swaai geen swepe wat my aanjaag nie. My liggaam vertel my wat gesond is.

Dus, ek is beslis nie ‘n verloorder nie. Ek gaan dalk net heel laaste by die wenpaal uitkom. Soos skilpadjie, sien. Maar wag, skilpadjie het mos juis nie laaste gekom nie! Voetjie vir voetjie het hy geloop … stadig, maar seker wen dikwels die beker. Hou my dop! Wie weet, dalk hou ek nog een dag daardie boek in my hande!

Toortsie

Hoe gaan dit met NaNoWriMo2020?

Môre is November halfpad en as jy met NaNoWriMo2020 besig is, is jy veronderstel om amper halfpad te wees. Veronderstel. Dit beteken dat jy teen vanaand by 23 338 woorde moet wees en môre die 25 000 merk moet haal.

Toortsie het verlede jaar makliker geskryf as vanjaar. Ja, dit ís mos so dat ‘n mens makliker oor jouself skryf. Ek was bang verlede jaar, want ek het gedink dat ek my kinderjare vergeet het. Wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie om dit te skryf en te besef dat daar soveel is wat ek onthou! En weet julle wat? Daar is nog baie meer wat ek nou onthou wat nie in die boek is nie, maar dit is ook reg, want dit is vir my ‘n wonderlike gerusstelling dat ek wel die dinge onthou. Ek is net baie meer sensitief daarvoor danksy NaNoWriMo2019 se skrywery.

Vanjaar is dit ‘n ander storie. Die uitdaging is groot. Regtig groot. Baie groter as wat ek gedink het. My tema is Trauma tot Triomf. Ek het aanvanklik gedink om oor verskillende Bybelfigure te skryf, mans, sowel as vroue. In my voorbereidingstyd was ek besig om Genesis en Eksodus te lees en sou daardie mense gebruik: Josef, Moses, ens. Toe ek egter begin skryf, neig my boek al hoe meer na vroue se kant toe. Ek besef ook dat daar al soveel boeke geskryf is oor Josef en Moses en die Israeliete, ek wonder of ek op die ou end wel oor hulle gaan skryf? Dit sal die tyd moet leer.

Vriende is een van die grootste geskenke wat God ‘n mens kon gee. Toe ek sien dat my boek begin neig na die vroulike kant, het ek dit op Facebook genoem en gevra: Watter vroue in die Bybel het trauma beleef en het die triomfpad met God se hulp begin loop? Die reaksie was wonderlik! Christenvriende wat in die gees hierdie boek saam met my skryf, stuur vir my Bybelverwysings wat ek kan gebruik. Ek wil juis kyk na meer onbekende vroue, die bekendes is ook daar en om skielik, in ‘n maand se tyd al die onbekende vroue in die Bybel sommer net te onthou, is nie een mens se werk nie.

Maar ek skryf nie heeltemal so maklik nie. Ek draai vas. Tans staan my aantal woorde op 18 435 vir gisteraand terwyl dit reeds op 21 671 behoort te staan. Ek spandeer aansienlik meer tyd hieraan as verlede jaar, maar dit gaan stadiger. Baie stadiger. Want ek moet navorsing doen, dit oordink, dit my eie maak en nie net die Bybelstorie oorskryf nie, maar my eie stem daaraan sit, die trauma oordink en beskryf. Wat ook baie keer gebeur is dat as ek ‘n kommentaar daaroor gelees het, my eie gedagtes beïnvloed is. Daarom is dit beter dat ek die verhaal lees, dit oordink, skryf en daarná die kommentare raadpleeg om te kyk of ek darem op die regte pad is en of daar nie dalk nog iets is wat ek moes byvoeg nie. Ek gebruik Die Bybel in Praktyk, Leefstylbybel vir vroue, en Die Bybellennium ‘n Eenvolumekommentaar as primêre verwysings, wat my baie help.

Selfs al het ek al hierdie verwysings, selfs al spandeer ek baie tyd hieraan, is dit ‘n reuse taak waarmee ek tans besig is en wil ek kwaliteitwerk skryf. Die uitdaging bly steeds vir my om by 50 000 woorde teen die einde van die maand te kom, maar dit wil al hoe meer vir my lyk of ek dit nie gaan haal nie. Ek is gemaklik daarmee. Volgens NaNoWriMo se webblad lyk dit of ek teen 6 Desember eers sal klaarmaak. Hierdie projek neem baie tyd, navorsing, wysheid van Bo en mensekrag. Ek raak moeg. Soms voel dit of my brein net eenvoudig gaan stilstaan. soms het ek letterlik net nie lus om verder te dink nie. Dis okay.

Ek druk my nie onnodig nie. Ek het in hierdie jaar al baie vermag, groot uitdagings suksesvol oorkom, met God se hulp onoorkombare hekkies oorkom, groot projekte voltooi. Ek kan net my bes doen, maar op hierdie stadium gaan ek my nie onnodig druk en die gevaar staan om uit te brand nie. Intussen skryf ek moedig voort, doen moedig navorsing, bid moedig elke keer voor ek skryf dat God my sal help en wysheid, insig en woorde gee, gee ek my beste, maar as ek nie vanjaar amptelik ‘n NaNoWriMo wenner is wat die 50 000 merk haal nie, sal ek steeds in my hart ‘n wenner wees wat my bes gedoen het, eintlik meer as my beste. Want intussen is ek ook besig om te brei en te borduur om teen 11 Februarie 2021 dit klaar te hê. My spelery raak nou erg, hoor! Wel, ek geniet dit!

Mooi dag. Dankie vir julle wat my so fantasties ondersteun.

Toortsie

Naskrif. Ek wens hierdie 787 woorde was deel van NaNoWriMo!

My 2020 NaNoWriMo-projek

Ja, ek hét ingeskryf. Ja, is is nog glad nie klaar met alles wat moes klaar wees voor ek mag inskryf nie.

My derde resepteboek se resepte is nog nie klaar getik nie, maar dit lyk darem of ek genoeg resepte bymekaar het. Ek is steeds besig met my Septembervissie, maar as alles goed gaan, behoort ek dit betyds klaar te kry. My NaNo2019-boek is in die hande van die drukkers, so daardie deel is op datum. Ek werk behoorlik daaraan om ’n gratis e-resepteboek die lig te laat sien en hoop om dit nog in hierdie week te voltooi. Dan kan ek begin om die ander boeke ook op e-boek te sit.

Ek het my ingeskryf, soos reeds genoem. Die naam van my projek is Trauma tot Triomf. Dit sal ‘n geestelike boek wees waarin ek na verskillende persone in die Bybel gaan kyk wat van erge trauma na triomf geloop het met God se hulp. Ek glo dat as jy jou trauma met God deurloop, dit in jou grootste triomf kan verander. Natuurlik sal ek dit op ‘n informele, meer persoonlike manier doen soos ek mos maar tipies skryf. Dit is ‘n onderwerp wat my baie ná aan die hart lê omdat ons wêreld so stukkend is deesdae. Niemand loop teleurstellings, seerkry, trauma vry nie. Met God se hulp kan ons egter heling kry.

Toortsie