Die gemene faktor

Wat is die gemene faktor in drie slegte situasies wat so lelik kon uitdraai, maar gelukkig nie het nie?

Ons bly in Suid-Afrika. Verkeerde goed gebeur wat nie moet nie. Terloops, verkeerde goed gebeur ook in ander lande, maar ons is net nie so bewus daarvan nie. Maar dit moenie gebeur nie!

‘n Man se fiets word hardhandig van hom afgevat. Hy kom gelukkig ongedeerd daarvan af.

‘n Ander man sit en werk op sy rekenaar, hy het oorfone op. Op ‘n stadium kyk hy op en maak oogkontak met ‘n inbreker. Gelukkig vlug die inbreker toe hy sien dat hy gewaar is.

‘n Man wat besig is om voer met ‘n oop trekker op die land uit te ry, versteur vermoedelik per ongeluk ‘n bynes en word hardhandig en met passie aangeval deur die swerm. Hy toon allergiese reaksie, maar kom gelukkig betyds by die dokter uit waar hulle hom kan behandel. Sy arms sit wit van die angels. Meer as vyftig angels word slegs op sy kop uitgehaal. ‘n Dag of wat later kom ‘n angel in sy oog los. Oog bloedbelope.

Wat is die gemene faktor dat al drie hierdie manne relatief goed daarvan afgekom het? Net die genade van die Here. Net Sy beskerming, dis al. En daarvoor kan ons Hom net dank, want dit kon soveel anders uitgedraai het. Daar’s niks om oor trots te wees of goed te voel, anders as ‘n stille dankbaarheid dat Hy gekeer het. Aan Hom kom al die lif en die eer toe.

Ek kan nie help om te dink hoeveel keer Hy elkeen van ons op ‘n dag beskerm nie, selfs terwyl ons dit nie eers besef of weet nie. Nes Hy ook Una se dertien eendjies beskerm terwyl dit eintlik amper onmoontlik lyk dat hulle daar, te midde van soveel gevare, oorleef.

En as dit dalk nie so goed afgeloop het nie, sou dit beteken dat Hy hulle nie beskerm nie? Nee, geensins nie? Want ons kan nie ‘n haar op ons koppe verloor sonder dat Hy daarvan weet nie. Ons verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur nie. Ons moet maar net weet en vertrou dat Hy die beste weet. Selfs in uiters moeilike situasies en dat Hy ons selfs in die ergste van erge tye sal vashou en dra.

Toortsue

8 thoughts on “Die gemene faktor

Gesels saam, asseblief!