Borduur ‘n stekelap

Die VLV-uitdaging was: Borduur ‘n stekelap, ook bekend as merklap. In Engels, Sampler. Ek was al verlede jaar so lus vir die borduurwerk, maar tyd het my ingehaal.

‘n Stekelap is ‘n vertoonstuk van vaardighede en word volgens baie spesifieke spesifikasies gemaak. Dit het ‘n verhalende tema en die VLV-stekelap moet ten minste drie borduursoorte uitbeeld. Die tema: Kleurvol, in die kol.

Eers begin die navorsing: Borduursoorte word bekyk. Ook voorbeelde van stekelappe.

Uiteindelik word besluit: Die verhaal sal in kruissteek gedoen word met ander borduursoorte as raam. Die verhaal word in ‘n sirkel vertel (in die kol) en dit beeld ons gesin uit. Verskillende kruissteekontwerpe word bekyk en bymekaargesit. ‘n Borduurkenner gee ook leiding en aanmoediging.

Ek kry my inspirasie by hierdie stekelap. Ek het haar huisie gebruik.

Uiteindelik is die ontwerp klaar.

Lap word gesoek, maar dis so fyn! Waar ek kom, koop ek nog kleure borduurgare. Ek ontdek nog ‘n klompie borduurgare uit my jongdae. Hulle hoef ‘n Toortsie nie om te koop om kleurvol te werk nie, dit kom soos tweede natuur. Hulle het kleurvol gevra, kleurvol sal dit wees, hul moet net nie skrik nie. Dit lyk dan nou vir my of daar hopeloos te min soorte rooi is!

Die materiaal word voorberei vir die borduurwerk. Drade word getel en elke twintig drade word dit geryg om soortgelyke blokke te vorm soos op die grafiekpapier. Stadig, maar seker, raak die ogies die fyn lap gewoond.

Ek begin werk! Die prentjie begin vorm aanneem.

By die VLV-vergadering praat ons entoesiasies en moedig mekaar aan. ‘n Uitstekende en ervare borduurster kyk na my ontwerp en herinner my dat ‘n stekelap ‘n stuk werk is waar jy wys watter soort borduurwerk jy alles kan doen. Ek het ‘n bietjie te veel kruisies en sekere van die soorte werk wat ek wil doen, kan nie op die voorgeskrewe lap gedoen word nie. Ek mag steke meng! 🤪

Ek bekyk my ontwerp en begin opgewonde weer deur my boeke blaai. Hoe kan ek dieselfde ontwerp gebruik, maar meer soorte inwerk? Dís mos kos vir die glad-nie-minimalistiese Toortsie. More is more! 😁

Soos die tyd aanstap, raak ek al hoe waaghalsiger. Later is elke prentjie ‘n speletjie op sy eie waar my kop oortyd werk om verskillende steke te inkorporeer. Ek gebruik kruissteek as basis in elke prentjie, maar speel behoorlik met nog steke. My dogter se prentjie het byvoorbeeld tien verskillende steke!

Iewers kyk ek anderpad en klim my kleinkinders ongesiens in die trekker.

In die proses raak ek ‘n kenner op die gebied van uittrek! Iewers besluit ek om die Switserse huisie te vervang met ons Uitkyk plaashuis, maar nadat ek omtrent twee derdes uitgetrek het, verander die plan en moet ek Switserland herbou. Ek werk stekies oor, probeer iets anders. Dan is die besigheid te bont, dan weer te vaal. Elke kunssinnige vriendin wat verbykom, gee ‘n bietjie raak. Hoe kan ek die bontspul ‘n bietjie bind? Want my borduurwerk kry ‘n naam: Baie Besige Bont Borduurwerk.

Ná baie uittrek, baie speel en probeer, moet my sirkel ‘n vierkant word en ek kies ‘n swartwerk invulpatroontjie. Al wat toe nog oorbly, is die randjie rondom. ‘n Swarte behoort te werk, maar kreatiewe Seegogga vra, wat van bont? Ag hoe lekker!

Solank daar nog tyd oor is kyk ek waar ek nog kan invul en tussendeur raak my prentjie al hoe bonter, besiger en lekkerder.

Dit word gespan en ingestuur vir die kompetisie en kry ‘n tweede plek by ons tak. By die Overbergse konferensie kry dit weer ‘n tweede plek. Die kommentaar?

Artikel voldoen aan vereistes tov grootte, kleur, steke, stof en aanbieding. Tema goed uitgebring. Grys omraming treffend. Die bont kruis omleining kon breër gewees het. Goeie artikel. Steke goed en korrek uitgevoer.

Ongelukkig is vanjaar se kongres afgestel en kan dit nou nie verder in Kaapland ook deelneem nie. Nou kan Seegogga dit vir my raam.

Toortsie

Uiteensetting:

Stekelap

Die storie

Die tema is: ‘Kleurvol, in die kol.’  Die sirkel stel die ‘kol’ voor. Die storie is binne die sirkel, in die kol. 

Die stekelap beeld die Burgergesin uit, sedert 1985 toe Kobus en Madelé getroud is. Die Burgers is lief vir kleur, soos ook duidelik uitgebeeld word in hierdie prent. 

Die Switserse huisie verteenwoordig hulle liefde vir reis. 

Boerdery (trekker) en musiek (musiekstaaf) het ‘n baie groot deel van hulle lewe beslaan en het ‘n groot invloed op hulle lewe. 

Die vyf poppies is van links na regs Kobus (die pa), Pieter (seun), Dewet (seun), Martjie (dogter) en Madelé (die ma). 

Syfers is ook baie verteenwoordig in hele gesin se lewe. Ook die wiskundige tekens tussen die poppies. 

Ebenhaëser – Tot hier toe het God ons gelei, en sal ons ook in die toekoms lei. 

Borduursoorte en -steke gebruik

Borduursoorte: Kruissteekwerk, sorbello, geometriese satynsteek, swartwerk, vryhandborduurwerk, stumpwork, saamtrekwerk

Burger – Sorbellosteek, kruissteek weerskante

Wynrooi lyne: Kruissteek- en regopsteekkombinasie

Hartjies: Kruissteek en holbeinsteek. 

Huisie: Kruissteek. Deur Kruissteek- en regopsteekkombinasie, Holbeinsteek by deur. Deurknoppe Franse Knopies.  Oranje versiering om deur: Ridge filling stitch en Holbeinsteek. 

Rooi malvas in dubbelkruissteek. Blommetjies vryhandborduurwerk. Blombak in satynsteek. 

Trekker: Kruissteek. Twee gesiggies is die kleinkinders, Kobus en Sara, vryhandborduurwerk. Die swart bande is met vlegsteek en kruissteek gedoen. 

Wa: Disselboom in agtersteek. Wiel in vlegsteek en kruissteek. Sessie en blad in geometriese satynsteek.  Vrag strooi in kettingsteek. Rim in gerfsteek (sheaf stitch). 

Grond onder trekker en wa: Vryhandborduurwerk Running stitch. 

Musiekstaaf: Swartwerk donker invulsteek met kruissteek musiekhartjies. Holbeinsteek. Sterretjies star stitch

Mannetjies van links na regs:

Nr 1 (Kobus): Baadjie in baksteensteek; Broek kruissteek; Hempie Roemeense steek; Skoene Sorbello; Hoed Satynsteek

Nr 2 (Pieter): Baadjie in regopkruissteek en holbeinsteek; hemp in Kretense steek; broek in kruissteek; skoene in sorbello 

Nr 3 (Dewet): Baadjie in dubbelkruissteek; T-hemp in satynsteek en holbeinsteek, broek in kruissteek, skoene sorbellosteek

Nr 4 (Martjie): Rokkie in kruissteek, blaarsteek (leaf stitch), chained feather, holbeinsteek, running stitch, kettingsteek, wave stitch, agtersteek. Hare in Franse knopies en colonial knots (stumpwork). 

Nr 5. (Madelé): Kruissteek, saamtrekwerk blokkiesteek, herringbone, kettingsteek, Franse knopies, sorbello

Grys omraming om prent in swartwerk, ligte invulsteek. 

21 thoughts on “Borduur ‘n stekelap

    1. Ja, ek kon dit ook eers nou op my ‘oudag’ aanpak. Aanvanklik kon ek letterlik ‘n halfuur werk en nie meer nie. Later kon ek selfs in swak lig werk. Oë het genadiglik aangepas.

      Like

  1. Terug pieng: 2020 – toortsie.com

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord