2020

Daar word soms goedig gevra of Toortsie ooit rus. Ja, sy rus ook. Die ding is, ander blaker dalk nie so alles uit wat hulle doen nie!

Toortsie hou van ‘n uitdaging en vanoggend was dit juis my gebed vir almal op my lysie, dat ons die uitdagings wat ons gebied word, sal aangryp, maar dat ons ook sal weet wanneer om te rus.

2020 was ‘n uitdagende jaar, soos almal van ons weet. Ek het uitdagings voor my gehad wat ek wens dat ek nooit weer sal kry nie. Uitdagings wat ek slegs met God se hulp kon oorkom. Hy hét my gehelp. Daarom was 2020 vir my ook ‘n hersteljaar, waarvoor ek baie dankbaar is.

2020 was ook vir my adrenalengedrewe. Ek dink ek het myself oortref! Ek was nogal baie kreatief vanjaar.

Vir die VLV-kompetisie het ek ver buite my gemaksone gewaag en ‘n ballade geskryf, wat tweede gekom het by die Overbergsirkel se konferensie. Dit sou na die kongres gaan, maar die kongres is afgestel danksy Corona.

Willemien – ’n Ballade

O, Willemien, jy was die mooiste dogtertjie

met ogies blou en haartjies sag soos sy. 

Maar Willemien, die lewe maak sy draaie

en vasgevang in duiwelsgoed was jy. 

Ai Willemien, jy wil so graag verander

Ja Willemien, jy wil die mooi pad loop

Maar Willemien, met vasbyt en met oorgawe

Kan jy dit maak, o ja, jy kan, ek is vol hoop. 

Jy was maar tien toe jy met wreedheid kennis maak

te skaam, te bang om iewers hulp te vra.

So teen jou sin het ooms jou kindskap weggeroof

En jy alleen moes maar die skande dra. 

Ai Willemien, jy wil so graag verander

Ja Willemien, jy wil die mooi pad loop

Maar Willemien, met vasbyt en met oorgawe

Kan jy dit maak, o ja, jy kan, ek is vol hoop. 

Diep ingetrek deur verwoestende maalkolkhel

van drank en tik en seks tot dob’lary

Die donker web, die engel van die naglewe,

gesellinklubs, die mag van swend’lary.

Ai Willemien, jy wil so graag verander

Ja Willemien, jy wil die mooi pad loop

Maar Willemien, met vasbyt en met oorgawe

Kan jy dit maak, o ja, jy kan, ek is vol hoop. 

Toe, op ’n dag, het jy die braaf besluit geneem:

jou rug te draai op hierdie slawerny.

Met groot sukses, alleen die helleweg laat vaar

oorwinnend oor die helse brassery. 

Ai Willemien, jy wil so graag verander

Ja Willemien, jy wil die mooi pad loop

Maar Willemien, met vasbyt en met oorgawe

Kan jy dit maak, o ja, jy kan, ek is vol hoop. 

O, Willemien, my Willemien, ek het jou lief. 

Geïnspireer deur Verlos deur die liefde van Francine RiversOp wysie van Oh Danny Boy

Ek het ook ‘n borduurstuk gedoen, waarvan die uiteensetting daarvan hier gelees kan word. Ook, hoe dit amper weggeraak het op pad na die kompetisie. Vandag hang my stekelap met ‘n storie trots teen my muur. Hierdie stekelap het ook tweede plek gekry by die VLV Overberg Konferensie.

Vir dieselfde kompetisie het ek ook ‘n kussing gebrei. ‘n Bolster. Dit is ‘n lang, silindervormige kussing. Ná vele probeerslae met garing wat my eeue geneem het, het ek sommer net wol wat ek gehad het, gegryp, en hierdie outydse kussing gebrei. Ek het ‘n baie mooi kommentaar gekry, 77%, maar nie een van die toppersentasies behaal nie. Die kommentaar was dat ek ‘n variasie van steke moes hê. Nou lê kussing steeds en wag dat ek vir hom ‘n ordentlike vulsel insit.

O, en dan het ek my Coronasjaal gebrei en moes twee keer tydens die erge inperking by ‘n wolwinkel ‘inbreek’ om my sjaal te kon voltooi. Lees gerus hier die storie rondom die sjaal en hoe ek dit vergelyk het met die tyd van inperking.

Toortsie het ook baie gewoel met die skryfwerk en het die NaNoWriMo2019-boek voltooi.

Ek het ook my eerste e-boek gepubliseer en dit laat druk om te verkoop by Struisbaai se kersmark vanjaar. Die e-boek is gratis, soos hier aangedui, die gedrukte boek kos R50.

Ek was ook deel van ‘n e-boek wat ons as Goue Vroue saam geskryf het.

‘n Groot uitdaging wat ek voltooi het saam met my gesin, was die Baviaans Camino wat ons bergoor gestap het vanaf Steytlerville tot Kareedow. ‘n Camino was dit gewis! En ja, ek het drie stukkies grond ook gekoop in die proses. Hierdie foto is by die eindpunt geneem.

Ek is vir God dankbaar vir die wonderlike nuwe Bybelstudiegroep wat Hy vir my gegee het. Wat ‘n seën! Ook dat my TPM-droom, of opdrag?, gerealiseer het en ons nou ‘n TPM-kamer het in Bredasdorp. Alle eer aan Hom.

Daar is ook ‘n klomp uitdagings waarmee ek besig is, maar nog nie voltooi het nie. Ek kon nie vanjaar NaNoWriMo2020 voltooi nie en het by 30 000 woorde gestop, Ek vertrou om dit in volgende jaar klaar te maak. Ek is ook besig om my Toortsie 1-boek as e-boek uit te gee, maar kon dit ook nog nie voltooi nie. Ons klasgroep wat in 1980 matriek geskryf het, is besig om ‘n boek saam te skryf oor enige herinneringe wat ons het van ons skooldae. Ek wag nog vir bydraes daarvoor en het self nog nie tyd gehad om dit te redigeer nie. Dit is iets vir volgende jaar. My Toortsie 3-boek is op die hond se stert. Die foto’s is klaar geneem, die resepte is klaar. Al wat nog moet gebeur is dat ek letterlik een resep nog ‘n keer moet toets, ‘n paar woorde skryf, die boek laat redigeer en saamstel en laat druk. Dit is ook volgende jaar se werk. Intussen brei, borduur en hekel ek hard aan volgende jaar se VLV-projekte om dit in Februarie 2021 klaar te kry.

Die jaar het nie net voorspoed gehad nie, ook baie teëspoed, wat ek nie nou hier in detail gaan bespreek nie. Dit is juis wanneer jy ook teëspoed beleef dat jy soveel blyer is oor die voorspoed wat oor jou pad kom. Ek glo dit is ‘n kuns om te midde van moeilike tye ook die mooi raak te sien. Elke donker wolk het mos ‘n silwer randjie, of hoe? Ek het mense in die steek gelaat toe ek weens onvoorsiene omstandighede nie as spreker kon optree by meer as een geleentheid nie, iets waaroor ek baie sleg voel. Maar in 2021 hoop ek dat ek sal kan opmaak daarvoor! Ek het my administratiewe werk vir ons boerdery aansienlik afgeskaal, waaroor ek baie bly is.

Ja, dit was ‘n rowwe jaar, maar ook opwindend. Eintlik dink ek dat, te midde van laer laagtepunte en hoër hoogtepunte, dit by verre ‘n beter jaar vir my was as 2019. Soos ek reeds gesê het, ‘n hersteljaar. Sonder my God sou ek nie deur hierdie jaar gekom het nie. Met my God spring ek oor ‘n muur.

Jip! Ek het baie goed voltooi, baie goed half gedoen, maar nou vertel my lyf my: Ek is moeg. Ek gaan nou rus. En as ek rus, liewe maats, doen ek dit net so voluit soos wanneer ek ‘n uitdaging aanpak. Ek sal wel nog brei en borduur en selfs probeer om ‘n stukkie te hekel as die tyd dit toelaat, maar ek gaan lê en slaap en boeke lees en stap en kuier en slaap tot ek honger is en eet tot ek moeg is en weer slaap tot ek honger is … en eet tot ek moeg is …

Toortsie

25 thoughts on “2020

  1. WOW, Toorts! Dankie vir die link, jy is inderdaad kreatief en ek hou van jou ballade en daardie borduurwerk – kruisiesteek!! Jy het soveel talente! Jy moet dit meer doen – ballades/gedigte.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s