Tóé al

Ons nuwe borduuruitdaging: Maak ‘n klokkestrengel. Minimum 90×15 cm. 6 maal so lank as wat dit breed is. Sorbellosteek moet minstens 60% van die borduurwerk wees, dan nog minstens 3 ander bypassende steke.

En dís waar die probleem lê. Watter drie steke kies jy nou? Soos my dogter destyds net twee instrumente kon kies toe sy universiteit toe is. Hoe moes die ander instrumente nou voel as hulle nie gekies word nie?

Net drie steke. Dit laat my dink aan die borduurwerk wat ek in standerd ses moes doen. Skeppende borduurwerk. Ag, ander het die dinkwerk vir my gedoen. My baie goeie maat, Mabeth, se ma het by die materiaalwinkel gewerk. Sy het gevra of ek saam met haar ‘n stukkie oranje lap sal koop, dan deel ons dit in die helfte. Lap is mos baie breed. Nouja, ek en oranje was nog nooit maats nie, besef ek later jare.

Die juffrou het aanbeveel dat ek ‘n heks daarop appliek. Op die borduurwerk moes daar minstens 3 borduursteke wees …

Ek het die rok van die heks met kombersstekies vasgewerk. En die ander borduursteke gedoen soos die juffrou voorgestel het. En toe was die jaar halfpad en daar nog baaaaie plek op die lap. Toe het ek deur borduurboeke geblaai en stroke geborduur met elke denkbare borduursteek wat ek in die hande kon kry. Nooit iets met die borduurstuk gedoen nie. Weet ook nie of die juffrou daarvan gehou het nie. En ek het dit ook nie meer nie. Ek vermoed dat ek maar gedink het dis nie goed genoeg nie. Bontspul, jy weet? More is more.

Terug by my sorbello klokkestrengel. Watter drie steke sal ek tog nou vat? Wel, behalwe die sorbello’s trek ek noual by addisionele steek nommer 6. Uhm. Ek het nog net 15 van die minstens 90 cm gewerk. Die blomme is in sorbello, takkies en blare iets anders. En verskillende blomme se blare lyk mos verskillend. Hulle kan nie met dieselfde sterk gewerk word nie!

En die sorbello’s? Wel, daar is met 2 drade, 3 stekies. Met 3 drade 3 stekies. Met 2 drade 2 stekies. Met 3 drade 2 stekies. Met 3 drade 4 stekies … die aantal stekies is die klein kombersstekies waarmee jy die sorbello maak.

Wie jy is is wie jy is. Die tekens was reeds in standerd ses daar! Ek vermoed ek was tóé erg buitenstyd. Soos ek vandag nog is.

Maar wie gee om? Ek geniet my gate-uit en geniet veral om my kreatiwiteit totale vrye teuels te gee. Intussen leer ek soveel as moontlik nuwe borduursteke aan.

Hekel en word heel 2

Iewers het ek ‘n resensie gelees van Hekel en word heel 2 wat my aandag getrek het. Ek het ook kennis geneem toe Hekel en word heel, die eerste een, uitgegee is. Die ding is, op daardie stadium is ‘n hele paar bundels uitgegee waarin mense van hulle swaarkry vertel, dis eintlik iets waarin ek belangstel, maar die sak boeke wat nog gelees moet word raak net groter en voller. Ek bedoel, ek het nog van CUM se boeke wat gelees moet word, maar ek het ook ‘n klomp boeke aangeskaf, boeke wat ek bitter graag wil lees, maar nie by uitkom nie. En ek is so besig met my hekelwerk en ander handwerke, ek sal minstens 200 of selfs ouer moet word om alles gedoen te kry voor ek doodgaan en dan is dit nie dat ek nog sommer weekliks ekstras bylaai nie, hoor!

Wat my toe trek van die tweede Hekel en word heel, is dat die hekelpatrone anders benader word. Jy neem jou mates, besluit self watter dikte en tipe wol jy gaan gebruik en volg dan hulle aanwysings. Want sien, ek het ‘n wakis vol wolle, maar as ek ‘n patroon soek, pas dit nie noodwendig by die wol wat ek het nie en koop dan maar nog. Maar hierdie boek se patrone sal ek kan aanpas by my wol wat ek het. Of nie. Al woord wat hulle graag gebruik waarmee ek nog nie gemaklik voel nie, is ‘jaarn’, maar dit is blykbaar al deurgetrap en wel ‘n erkende Afrikaanse woord. Een woord is beslis nie genoeg rede om die boek oor neer te sit nie.

So sit ek en blaai deur die boek, my eie een, sommer om na die mooi patrone te sit en kyk, wat ek begin om die stories te lees. En ek hou aan met lees en hou aan en kan dit nie neersit nie. Want niks is so mooi soos ‘n ware verhaal nie, veral as daar heelword in die proses was nie. Party van die stories is baie nader aan die vel as wat ek sou wou dink, party laat my hart ongemaklik klop omdat dit so bekend voel, net om te besef dat dit iets is wat ek ook al deur is, maar nie net deur nie, ook redelik ver heen verwerk het. Eintlik klaar verwerk het.

En dan is ek dankbaar. Dankbaar vir elke persoon wat deur haar pyn kon hekel of hoe sy dit ookal verwerk het, maar ook vir my eie lewe wat in God se hande is en dat Hy saam met my deur die oppe en awwe van die lewe gaan, dat Hy vir my kreatiwiteit gegee het om my in uit te leef. Ag, sommer vir alles.

As jy lief is vir lees en vir hekel, is dit nogal ‘n boek om aan te skaf, hoor!

Toortsie

Oordra van vaardighede

Terwyl ek nou besig is om my Engelse Toortsie, Toortsie’s Banting Bash, om te skakel na ‘n e-boek en die inhoudsopgawe op te stel, en boekmerke te maak sodat die skakels kan werk en ek trek by zx en zy, kom die gedagte by my op: Dankie dat ek kan tik. Alhoewel, ek moet nogal soms dink waar al daai letters is. Snaaks, nie terwyl ek net een van hulle tik nie, want, soos Die Skim vir ons gesê het in standerd sewe, as hy in die nag kom en sy vinger in ons sy druk en sê T, dan moet ons linkervoorvinger daarheen spring. Maar nou by die zx en die zy en die zz is dit tog of die vinger nie heeltemal so vinnig spring nie.

Een dag, terwyl my dogter nog in die laerskool was, was haar klasonderwyser van daardie jaar ook haar musiekjuffrou. Op die deur was daar ‘n stukkie bladmusiek geplak en daarby was getik: ‘As jy hierdie kan lees, bedank jou musiekonderwyser.’ Ja wel, ek kon verstaan wat daardie vreemde skrif sê en was in my hart so dankbaar vir die musiekonnies in my lewe, veral vir tannie Elza Wessels wat die grootste deel van my skoolloopbaan my musiekjuffrou was en ook vir Elsa Marais wat my musiekjuffrou was toe ek as volwassene musiek geneem het. Daar was net so ‘n spesiale band tussen ons. Later jare, natuurlik weer tussen dieselfde Elsa en my meisiekind ook.

Die oordra van vaardighede. Of dit nou sport is, waarin ek nie eintlik goed is nie, behalwe dat Eps vir ons ‘n liefde vir draf en stap geleer het, en of dit naaldwerk is. Of tik. Of musiek. Of rekenaarvaardigheid. Of visvang. Of kosmaak. Iewers moes iemand dit vir jou geleer het. Selfs al leer jy dit vir jouself deur middel van Youtube, is dit iemand wat die moeite gedoen het om die video te maak en vir jou te demonstreer hoe dit gedoen moet word. Iemand wat lief genoeg was vir sy vaardigheid en dit graag vir iemand anders wil leer. Sodat dit nie verlore gaan nie. Sodat die volgende persoon selfs hoër hoogtes as hy kan bereik. Iemand wat nie omgee om dit wat hy geleer het, vir iemand anders oor te dra nie.

En dit laat my dink, bedank ons so ‘n persoon ooit genoeg? Is ons dankbaar vir ons onderwysers wat vir ons leer op skool, selfs te midde van soveel negatiewe kommentaar van arrogante kinders en ouers? Dink ons ooit daaraan om wanneer ons op die internet vra: “hoe doen ‘n mens watookal”, by daardie youtube video of bloginskrywing net ‘n ‘dankie’ onderaan te skryf? ‘Dankie vir jou moeite. Dit het vir my baie beteken.’

Ek is so dankbaar dat ek kan tik. Dit is eintlik hoekom ek hierdie bloginskrywing begin het. Dankie vir Die Skim wat dit vir my in die sewentigerjare geleer het. Dankie vir die geskenk wat ek gekry het en dat ek amper so vinnig kan tik as wat ek dink. Ek, wat so lief is daarvoor om my gedagtes om te sit in regte woorde. Wat ‘n frustrasie sou dit wees as ek met twee vingers die letters moes soek. Wel, ek doen dit met een vinger op my selfoon! Maar selfs daar kry ek dit vinniger reg omdat ek die sleutelbord so goed ken. Omdat iemand jare gelede die moeite gedoen het om dit vir my te laat inoefen met ‘The yellow rose of Texas’.

En terwyl ek nou aan die dankie sê is, dankie vir my oumas wat my leer hekel het en vir tannie Mags wat my leer brei het en vir my ma wat my leer kosmaak en naaldwerk doen het en gedink het daaraan dat ek musiek moet neem. Wat my die liefde vir hierdie goed geleer het. En juffrou Paula wat my leer lees het. En my pa wat my die liefde vir mense en die natuur geleer het. Julle maak my lewe ryker.

Toortsie

Wees kreatief en word heel

In die eerste deel van Die Kern het ons almal bladsye wat ons in ons lewens uitgeskeur het, teruggeskryf. Nou is die deel twee en gaan ons vertel waar kreatiwiteit ons gehelp het om seer te oorkom. Ons gaan nie noodwendig in diepte na die seer self kyk nie, ons kan dit ook doen as ons wil, maar ons gaan kyk hoe kreatiwiteit ons gehelp het, na aanleiding van Hekel en word heel.

Enige persoon kan hieroor skryf op haar eie blog of Facebook en dit by die ander soortgelyke stories voeg op Inlinkz sodat ander dit ook kan lees.

…………………………………………………….

Hekel en word heel. Brei en word heel. Skryf en word heel. Daarvan het ek ook my eie ervaring. En natuurlik, bid en word heel. Sit by my Here se voete. Huil voor Sy troon. Wag op Hom. Maar hierdie bloginskrywing gaan juis oor fisiese kreatiwiteit. Wat het ek gedoen?

‘n Keer toe ek deur die put van die hel is en ek net wou sit en staar, toe my brein aan niks anders wou dink nie, my liggaam nie krag gehad het om enige ding te doen nie, het ek gebrei. Dis wat ek kon doen terwyl ek sit: brei. Stekie vir stekie. Want al wat dit van my gevra het is om te konsentreer op my breiwerk. Om die patroon te volg. Niks meer nie as net dit. En saam met elke ry wat voltooi was kon ek vordering sien. Groei ervaar. Het ek positiewe hormone afgeskei wat vir my siel goed was. Kon ek uitkoms sien. Kon ek heel word.

‘n Ander keer wat ek ook in ‘n diepe gat was en nie geweet het watter kant toe nie, was net mooi toe die Here vir Gerda van Finesse Goedvoel Blogs gestuur het om vir my te nooi om vir hulle te skryf. En toe ek te moeg was om selfs my hande op te tel, ek geen kreatiwiteit denkbaar gevoel het nie, het die opdrag gekom: Teen die einde van die week moet daar vier stories ingehandig word asseblief. Genoeg om ‘n maand vooruit te kan publiseer, een per week. En daardie dwang om te skryf, dwang om aan iets anders as my krisis te dink, want daaroor kon ek nie op daardie stadium skryf vir die hele wêreld om te sien nie, dwang om verder as my seer te kyk … het ek begin skryf. Want ek wou nie daardie geleentheid mis nie. Want ek het so geëerd gevoel dat ek genooi was om dit te doen. God het daar vir Gerda gebruik om my te dwing om ligter te dink, om my letterlik aan my groottone uit die modder te sleep. En so het my skrywery my al uit baie hartseer gehelp.

Ek het al gehekel deur moeilike situasies, al hoe vinniger. Dit het my gehelp om my mond te hou, om iets te hê om op te fokus, iets om my senuwees te kalmeer.

En toe ek so siek was van Covid en regtig niks anders kon doen as om te lê en slaap en as ek wakker was, te sit nie, kon ek die seebodem van my borduurwerk doen. Al daai goetertjies, sandkorreltjies. En het dit my aandag van my siekte afgetrek. En het die wete dat ek nog kan produseer, kan kreatief wees, my help fokus op gesond word eerder as om die siekte nog ‘n groter kans te gee.

Hekel en word heel. Brei en word heel. Borduur en word heel. Skryf en word heel. Dit is my storie. Wat is joune?

Toortsie

Kreatief – Die Kern Deel 2

In die eerste deel van Die Kern was die Goue Vroue uitgedaag om hulle hartsgeheime terug te skryf. Om dit wat hulle letterlik uit hulle lewe geskryf het, terug te skryf. Dit kan HIER gelees word. Sommige van ons het ons ware stories kom vertel. Diep stories. Hartseer stories. Ander het fiktief geskryf rondom Rebusfontein.

Elke persoon het ‘n storie. Almal van ons het al goeie én swaar tye beleef. Al hoe meer bundels met verskillende mense se ware stories sien die lig. Dalk het jy ook ‘n behoefte om jou storie te vertel, selfs al is jy nie een van die Goue Vroue nie. Daarom, as jy lus voel om ook jou storie te skryf, die bladsy wat jy uit jou boek geskeur het, terug te skryf, wil ek jou nooi om dit te doen. Skryf dit op jou blog of op facebook, verwys na die Inlinkz skakel waar die ander persone ook hulle stories geskryf het en heg jou storie daar aan by die Inlinkz sodat ons daarvan kan weet. Kom heg die skakel ook by die kommentare aan van hierdie bloginskrywing, of ‘tag’ hierdie bloginskrywing asseblief.

Dit is die deel een.

Met ‘Hekel en word heel’, wat nou al ‘n tweede bundel uitgegee het, kom my deel twee van Die Kern Uitdaging. In hierdie deel van die uitdaging hoef jy nie so in diepte van jou krisis te vertel nie, behalwe natuurlik as jy wil. Die doel van hierdie uitdaging is: Hoe het kreatiwiteit jou gehelp om heel te word? Watter kreatiewe dinge het jy gedoen? Hoe het jy dit gedoen? Vertel vir ons asseblief. Wys selfs foto’s as jy het. Stories van hoop sodat ons vir ander wat deur moeilike tye gaan, ook hoop kan bring.

Hierdie uitdaging is vir enige persoon wat wil deelneem.

Toortsie