Roetine – NaNoWriMo2019

Nou, nadat ek al ‘n hele lewe geleef het en baie oor menslike gedrag gelees het, verstaan ek myself beter. Ek pas swaar in in die normale roetine wat almal volg. Tog beteken dit nie dat ek nié ‘n roetine het nie, my roetine lyk egter heeltemal anders as die standaardpersoon s’n en dis ook baie aanpasbaar by enige gebeurlikheid. 

As kind het ek dit redelik reggekry, ek het selfs my oudste kinders nog in ‘n mate daarin gedwing, met streng dissipline. Te streng dissipline. Met groot gesukkel het ons onsself in die boksies ingedwing. Ek besef nou eers watse harde werk dit was!

Nou weet ek dat ek ‘n skoenlapperpersoonlikheid het wat nou hier besig is en netnou daar en dan nog op ‘n ander plek ook. ‘n Tipiese voorbeeld hiervan is my inskrywing vir NaNoWriMo2019. Sowat twee jaar gelede het ek op blogs raakgelees dat daar iets soos NaNoWriMo bestaan en dat dit jaarliks in November is. Dit was reeds in November, dus heeltemal te laat om in te skryf. 

Novembermaande is ook vir my ‘n moeilike maand van die jaar om so iets te doen, want ons jaar sluit die einde van die kalenderjaar af. Gewoonlik het ons oestyd in November en alles moet klaar kom vir die jaar. November is nie ‘n goeie maand om so ‘n uitdaging aan te pak nie. Alles is ‘n gejaag. 

Verlede jaar het twee van my Afrikaanse blogmaats deelgeneem aan NaNoWriMo en ek het ‘n bietjie meer belang gestel daarin, steeds met die gedagte dat November nie ‘n goeie maand is om dit te doen nie. 

So kom 30 Oktober 2019. Vuurvliegie en Scrapydo skryf weer in en rapporteer dit op hulle blogs. Hierdie keer is Hester ook by. Ek gaan lees ‘n bietjie op die NaNoWriMo webblad om te sien wat dit behels en voor ek my kom kry, kliek ek op Enter Here. Sonder ‘n sekond se oordenking is ek ingeskryf vir NaNoWriMo2019. Heeltemal binne my karakter. 

Dit is vir my moeilik om ‘n roetine te volg. My kop onthou altyd al die ander goed wat ek nou kan doen en moet doen, behalwe dit wat ek nou regtig moet doen. Genadiglik was ek in die koshuis en het klokke my gedwing om sekere goed te doen. Ek sou graag nog ‘n bietjie langer wou slaap en hét baie oggende nog ‘n bietjie gelê en enkele minute voor die stiltetydklok uit my bed gevlieg en met ‘n vreeslike vaart my dinge klaargekry. 

Om programme te volg was moeilik. Is steeds moeilik. Om elke dag dieselfde ding te doen, is sieldodend. Daarom is NaNoWriMo vir my ‘n baie groot uitdaging, om elke dag weer met ‘n hele nuwe 1667 woorde te begin. 

Op skool het die onderwysers baie klem gelê op hersiening. Lank voor ‘n eksamen sou ek ‘n pragtige eksamenrooster uitwerk. Te mooi. Ek sou dit vir een dag volg, dalk ‘n tweede en dan het ek al lankal weer agter geraak. Of daarvan vergeet. 

Skooltake was gelukkig nie aan die orde van die dag nie, maar ook dit was vir my ‘n geweldige uitdaging. Ek moet ‘n ding doen en kry klaar, nie ‘n langdradige besigheid wat die onderwyser vandag vir ons vertel van die taak wat oor drie maande in moet wees nie. 

In standerd ses het ons oor brondokumente ‘n taak gedoen. Die naweek voor ons dit moes ingee, het my pa my gehelp om al die nodige dokumente bymekaar te sit. Pragtige outydse fakture. Ek dink nogal dit was heel besonders. Wat die onderwyser daarvan gedink het, kan ek nie meer onthou nie. 

In standerd agt rond moes ons een of ander taak vir biologie doen. Die kinders het die mooiste goed gemaak: ‘n oor of ‘n oog of wat ook al is uit gips gemaak. Uitgekerf oor maande. Madelé wil ‘n sekere dier se skelet te bou. 

Die onderwyser het aanbeveel dat ek ook ‘n bietjie oor die dier navorsing moet doen en daaroor skryf. Dalk het hy meer geweet as ek oor watter mal plan ek in gedagte het. Ek hoor die woord is ‘opportunisties’. Nou die dag, toe ek verskonend vir die vrou wat my raad gee met my borduurwerk, sê dat ek opportunisties is, toe sê sy vriendelik, ‘maar dis reg, jy móét opportunisties wees.’

Kort daarná laat weet my oom dat daar by hulle in die kloof een dood is. Die Saterdag is ek en my pa en werksmense kloof op om dit te gaan haal. Die hele dag hou ek my besig met die dier. In ‘n groot swartpot word vleis gekook, die bene moet afgekook word. 

Iewers gaan daar skielik ‘n liggie op. Hoe op aarde gaan ek weet watter been is watter been en hoe om die hele toetie weer inmekaar te sit as dit almal afgekook is? Net daar los ek die hele projek! Ek was in ‘n angstoestand. Wat gaan ek maak? Toe ek die volgende week noem dat ek die oor wil doen, hoor ek dat iemand anders reeds die oor maak. Ook die oog. En die neus. Ensovoorts.

Daardie naweek help my pa my en op ‘n stuk harde bord sit hy vir my met draad vas: Koedoehorings, ‘n bobbejaan se kopbeen, ek weet nie wat nog alles nie. Die Maandag het ek my taak ingegee. Dit waaraan ek die meeste gewerk het, was ongedaan. 

Intussen het ek geleer om vir myself uitdagings te stel, om buite die boks te dink, om projekte te voltooi. Ek het ook geleer dat ek baie meer dinge het wat ek wil doen as wat daar voor tyd is en dat dit nie die einde van die wêreld is dat ek nie by alles uit kom of heeltemal alles voltooi nie. Dit gaan ook nie saakmaak as ek in my lewe nie alles doen wat ek graag wil doen nie, solank ek dit wat ek wel doen, voluit doen en geniet. 

Op my manier wat vir ‘n erg geroetineerde mens baie deurmekaar lyk, kry ek dinge gedoen, kry ek dit voltooi. Soms het ek ‘n helpende hand nodig, soms moet my man of iemand anders my net ‘n bietjie red van myself, maar eintlik moet hulle my maar net toelaat om my ding op my manier te doen. My roete lyk dalk heelwat anders as ander mense s’n, maar op die ou end kom ek by die eindpunt uit en is ek baie trots op myself. 

Dis eintlik vir my so wonderlik hoe my gesin my deurmekaarkop aanvaar en hanteer. Een dag was daar ‘n vriendin by ons dogter. Almal sit om die kombuistafel, ek froetel soos ‘n mier op steroïde. My oog vang net my dogter wat vir die vriendin saggies paai en sê alles is reg, sy kan maar ontspan. Ek vermoed die vriendin wou my seker help.

Een keer skou ons ons beeste op Swellendam. Beesskoue is maar stowwerig en misserig. Ek kom sit op die pawiljoen met my handsak en ‘n sak met breiwerk. En ek brei daar op die stowwerige pawiljoen. Dan is daar altyd een wat my wil help op een of ander manier. Ek is so dankbaar dat ek die vaardigheid aangeleer het om dan vriendelik te sê dat hulle maar my gefroetel net moet ignoreer. Gewoonlik ontspan hulle dan, en ek natuurlik ook! Want, as ek die mense om my gespanne maak, raak ek meer gespanne en froetel en praat net al hoe meer!

Vandag is dag elf van NaNoWriMo. Ek hou nog mooi by. Ek probeer om daagliks ‘n bietjie meer woorde as 1667 te skryf sodat ek dit kan klaarkry voordat my gedagtes te ver wegdwaal. Ek is dankbaar dat ek dit doen. Soos reeds gesê, is en bly dit vir my ‘n groot uitdaging. Op die ou end maak dit nie saak hoe ek dit reggekry het nie, maar dat ek probeer het en dit voltooi het. Op hierdie manier werk ek aan myself en ontwikkel ek as persoon. Dis tog waaroor dit gaan, of hoe?

Toortsie

Vrydagaand 22 November 2019 – 40 161 woorde! Op ‘n stadium vandag wou ek moed verloor, 40 000 woorde bly net buite bereik en daar is net 8 dae oor! Ek kry ‘n tweede asem en skryf – 40 008! Ek onthou nog ietsie wat ek wil bysit en kom by 40 161. Dankbaar, dankbaar, dankbaar! Ek is in die pylvak. Nou net fokus, Toortsie, selfs al is die aandagafleibaarheid ‘n realiteit. Amper daar! 🙂

7 thoughts on “Roetine – NaNoWriMo2019

  1. 10 uit 10 vir jou roetine met d November boek! Ek sukkel ook so met dissipline en roetine. Ek sal
    bv n taak kry, en n maand lank uitstel en in my agterkop daaroor worry. Die die dag voor hy moet klaar, spring ek in ek skryf soos n besetene, dwarsdeur d nag, en d volgende oggend is hy klaar- net betyds. Die paar keer wat ek dit lank voor die tyd begin het en stelselmaties deurgewerk het, het ek nooit so goed gedoen soos die adrenalien rush take nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!