‘n Kroegstorie

Ons het die aand oorgeslaap in Grabouw en stap sommer deur die dorpie. Sommer net vir ‘n bietjie oefening en om te kyk wat in die dorpie aangaan. Daar sien ons toe ‘n regte outydse hotelletjie, ons sien die kroeg is oop en daar is lewe. Hy stel voor dat ons ‘n drankie gaan drink.

Ons stap in die kroeg in en ek kyk rond, kroeë is nou nie regtig plekke waar ek gewoonlik rondhang nie. Dit lyk effens rokerig, die meeste tafeltjies is leeg, daar sit seker so vier of vyf mense rond. Twee sit by die kroegtoonbank en agter die toonbank staan John, reg om ons te bedien. ‘n Gesellige outjie.

Manlief bestel vir hom ‘n brandewyn en Coke en ek vra vir ‘n Passion Fruit, Cane en soda. Nou kry ek kans om ‘n bietjie rond te kyk. Daar is allerhande plakkate teen die muur, maar niks wat my aandag trek nie. Die mense lyk heel rustig.

Die volgende oomblik kom daar so ‘n jongerige man in, om en by drie-en-twintig, as ek moet skat. Baie ekkerig. Arrogante houding. Sy hele houding vertel dat hy weet wie sy pa is en ook wie hy self is. Praat baie en hard. Almal moet hom hoor. Dis ‘n belangrike man dié.

Ek kyk so om my en sien dat die ander mense ook ophou gesels het, hom stil dophou. Ek besef hier gaan iets gebeur.

“En kyk wie is almal hier?”, sê die jongman, “al die ou fossiele van die dorp, nes altyd. Niks het verander nie. Hier sit julle nog, soos altyd, en probeer die sorge van die lewe wegdrink. Asof dit nou sal help. Plaas dat julle vir julle behoorlike werk loop soek in die stad, maar nee, julle wil mos hier sit en vergaan. Eweso wil julle op die welsyn staatmaak om vir julle te sorg. Maar die geld wat julle kry, kom sit julle en uitsuip hier in die kroeg, plaas dat julle dit gebruik en julleself ophef. Kyk na my, ek het die sleutel wat vir my uitgehou is destyds, gebruik en vir my ‘n ordentlike lewe loop maak. Kyk nou maar vir ou lomerige Adoons, die ou kanniedood, hier sit jy ook nog, die geleenthede het oor jou pad gekom, maar een vir een het jy hulle van die tafel afgeskuif. Dat oom Piet jou nog nooit weggeja het nie, kan ek ook nie verstaan nie.”

Ek sit asof versteend na die jongman voor my en kyk. Wie dink hy is hy? Het hy nie ‘n tikseltjie respek vir die mense wat hier sit nie? Hulle is almal ouer as hy en ken die swaarkry van die lewe. Verstaan hy nie waaroor dit gaan nie, die essens van die lewe nie? Ja, dit klink my hy gryp die geleenthede wat oor sy pad kom, aan, maar besef hy nie hoe gelukkig hy wel is nie? Dit gaan swaar in die land, die ekonomie sukkel? Dit lyk my hy dink hy het in die botter geval, maar weet nie van groeipyne wat nog iewers in sy lewe sal kom nie?

John, die kroegman staan ook doodstil, hy knip nie ‘n oog nie, terwyl hy egalig sy een arm met die ander staan hand en vryf. Links van my sien ek ‘n beweging. Daar staan ‘n man op. ‘n Groot man. ‘n Gespierde man. Nie iemand met wie ek wil moeilikheid maak nie.

Hy stap stadig en afgemete na die jongklong. “Koos Koekemoer,” sê hy, “nog net so ‘n rammetjie uitnek soos altyd. Weet nie wanneer om te praat en wanneer om stil te bly nie. Geen respek vir ander mense nie. Wat ‘n klug om ander so te probeer verneder net sodat jy kan beter voel. Vandag gaan ek hierdie houding vir eens en vir altyd uit jou smoor. “

Die man vat vir Koos Koekemoer om sy nek. Toe gee hy hom ‘n behoorlike oorveeg. En nog een. Sommer ‘n vuishou in die maag ook. Koos vou dubbeld.

“Mooi man! Ou Gert, jy is my held! Ek wou al lankal die mannetjie sy les geleer het, maar ek het nooit die moed gehad nie. Nou lê hy hier op die vloer soos ‘n nat snoek met blertse bloed oral om hom. Ou Gert, dit was nou net die doepa wat ons almal nodig gehad het. Kroegman, die volgende rondte is op my!,” praat een uit die hoek van die vertrek.

Ek sit steeds versteend, verbouereerd, maar toe ek die verandering in die atmosfeer sien, hoe lekker die mense lag en gesels, besef ek dat dit hier oor baie meer gaan as wat ek ooit sou besef, dat dit tyd was dat hierdie outjie sy les geleer word, selfs al is dit op ‘n manier wat ek nie voorstaan nie. Daardie aand kuier ons tot laat en stap rustig huis toe.

En as julle wonder oor hierdie storie en oor my, wil ek net sê, dit is deel van ‘n bloguitdaging wat ons lekkervurige vuurvliegie uitgedink het. Dit moes humoristies wees, waaroor ek nou nie so seker is nie, maar die woorde in swart gedruk is die woorde wat ons moes gebruik. Dankie Vuurvliegie vir nog ‘n lekker uitdaging en dat jy ons druk om buite ons gemaksone te dink en ons verbeelding te gebruik.

Hierdie storie is 100% suiwer verbeelding van die Toortsie.

44 thoughts on “‘n Kroegstorie

          1. Toortsie jok – sy was daar. ek het eenkant gesit in die kroeg en haar en gebeure sit en dophou ek wou self opspring toe die knaap homself begin verhef maar my klappe sou van ‘n verbale aard gewees het. Gelukkig het iemand anders begin klap en kon ek steeds ongesiens vir Toortsie dophou.

            Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s