Nadat ons so heerlik gekuier het by die see die afgelope naweek het ek die heeltyd die behoefte om te skryf oor gasvryheid. Ek sê altyd ons volg ‘n oopdeurbeleid waar enige iemand wat lus het om te kom hello sê, welkom is. Op so ‘n manier het Sondag absoluut ontwikkel in ‘n kuierdag toe mense net ingeloer het en ons heerlik saamgekuier het. Onbepland. Heerlik. Heilsaam.
Gasvryheid.
Met die heerlike kuier steeds in my agterkop, die gedagte aan al die goedvoelhormone wat afgeskei is, die gevoel van behoort, van saamwees, lees ek vanoggend in die Leefstylbybel vir Vroue by 2 Johannes. Het julle geweet dat hierdie boek aan ‘n vrou geskryf is? Die Uitverkore Vrou? Natuurlik is hulle nie seker of dit wel ‘n vrou was aan wie die brief gerig was nie, maar dalk ‘n gemeente was wat ‘n vrou voorgestel het.
Onderaan die brief staan daar in my Leestylbybel ‘n stukkie: ‘n Mite oor vroue, dat ‘n vrou se werk nie juis belangrik is nie. Natuurlik is ‘n vrou se werk in die huis belangrik. Hul noem dat dit gewoonlik die huisvrou se taak is om gaste te ontvang, dat sy ‘n atmosfeer in haar huis skep waarin al die huismense tuis en belangrik voel, dat haar huis ‘n plek vir geselligheid en waarde is, ‘n plek waar die Here hoort.
Gasvryheid is ‘n Bybelse beginsel, ‘n Bybelse opdrag en daardie opdrag word op baie plekke in die Bybel beskryf. God hou daarvan as ons gasvry is en mense ontvang en dit vir hulle lekker maak om by ons te kuier. Natuurlik verhoog die lekkerte as die gaste positief reageer op die gebaar van gasvryheid.
Wanneer ons gasvry was en die mense dit met liefde ontvang en daarop reageer het, dan is nie net hulle geseën deur jou optrede nie, maar voel ook jy geseënd daarná.
Toortsie

Stem volmondig saam. “Open heart open home” was ons motto vir ons huis.
LikeLiked by 1 person
Ag, dis nou pragtig geskryf, en tog so waar, Toortsie.
LikeLiked by 1 person
Weet jy, wat ek nie geskryf het nie, maar eintlik moes, is dat my ouers sulke gasvrye mense was. Ek het nou geleer dat ek, as ek vir my ma gaan kuier, beslis koffie moet drink, anders ontspan sy net glad nie. Sy bly vashaak op koffie aanbied. Drink ek koffie, kan sy rustig ‘n bietjie gesels.
LikeLike
🤗🌹
LikeLike
Is seker so Toorts, dit klink reg, maar ai! … ek moet bieg dat ek nie juis hou van mense in my huis nie. My kinders ook nie. Dis vir hulle belangrik om familietyd te hê en ons kuier lekker saam, maar vriende ontmoet ons liewer op die strand of by ‘n restaurant.Die ander kant van die munt is dat ek ook nie by ander mense kuier nie. Ek raak skoon op wanneer ‘n mense aandring dat ons moet kom kuier.
LikeLiked by 1 person
Dis dalk ‘n persoonlikheidsding? Ek lees tog raak dat jy deesdae julle kompleks se mense geniet. 😊
LikeLiked by 1 person
So “at arms length”, ja. Ek dink die kluisenaar in my bly maar altyd sluimerend.
LikeLike
Dis heeltemal reg. Jy hoef nie buite jou persoonlikheid op te tree nie. Jy kan natuurlik soms ‘n tree buite jou gemaksone waag as jy wil. 😊
LikeLiked by 1 person
Waarheid, maar nou moet ek byvoeg dat ek 40 jaar lank elke weeksdag en sommige naweke buite my gemaksone beweeg het. Dit was die heerlikste, saligste gevoel van bevryding toe ek uiteindelik afgetree en getrek het na ‘n kusdorpie wat net-net op die landkaart is. Die twee jaar wat ons daar hoog op die koppie gewoon het, met ons naaste bure buite sig, was salf vir my siel. Ek klou met alle mag vas aan hierdie vryheid wat ek vir myself geskep het.
LikeLike
Geniet dit ten volle. ❤️😊
LikeLiked by 1 person
Wel ek geniet dit baie as mense by my kuier , maar ek nooi baie min. Ek het eenvoudig nie altyd krag vir al daardie skoonmaak en kosmaak ni. Met n vorige verjaardagete het ek die mense by die see onthaal( die huise is vanself netjies, sonder my persoonlike clutter) en n caterer het heerlike kos gemaak.
LikeLiked by 1 person
Klink heerlik!
LikeLike