Gasvryheid – Bybelstudiegroepe

Ons gemeente se tema vir die jaar is gasvryheid. Ek weet dat ons in hierdie jaar sekerlik uitgedaag gaan word om gasvryheid te betoon op elke denkbare manier, ook oor grense heen. Die dominee praat van straatbraaie, bybelstudiegroepe, kuier by die bure. Kuier is ‘n lekker woord. Ek hou daarvan.

Ons bybelstudiegroep kom al van 1992 af bymekaar. Dis nou ons ag-en-twintigste jaar! In die vroeë neentigerjare het Ds Stan baie moeite gedoen en mense geïnspireer om bybelstudiegroepe te begin. Verskeie groepe is in daardie tyd begin met goeie gevolge. Mense het ‘n oplewing in hulle geloof beleef. Gegroei oor jare. Party van daardie groepe bestaan steeds, ander het met tyd doodgeloop. Danksy baie genade van God bestaan ons groep steeds.

Elke groep het sy eie identiteit bepaal. Ons groep het oor jare soms gegroei, ander kere gekrimp. Ons het steeds ses van ons stigterslede in ons groep en natuurlik nog ‘n paar mense wat intussen aangesluit het.

In daardie jare het ons almal nog klein kindertjies in die huis gehad. Soms het hulle stil kom sit en luister, ander kere het hulle die huise behoorlik omgekeer solank ons bybelstudie hou. Wat verblydend is, is dat soveel van ons groep se kinders nou self aan bybelstudiegroepe behoort as volwassenes.

Oor die jare het groepe se manier van doen, verander. Bybelstudiegroepe het selgroepe geword en omgeegroepe, Amosgroepe, elkeen met sy eie reëls. Ons het sommer net ‘n bybelstudiegroep gebly en klaar.

Ons groep volg steeds maar omtrent dieselfde patroon as destyds: Ons begin deur saam te sing, dan doen die gasheer of -vrou ‘n gebed. Ons doen bybelstudie uit ‘n boek wat deur ‘n kundige geskryf is. Sluit af en kuier tog te lekker saam daarná.

Ons maak dit nie ingewikkeld nie. Ons doen nie ingewikkelde boeke wat bó ons vuurmaakplek is nie, maar gebruik eerder maklik verstaanbare boekies. Ons verwag ook nie dat groeplede ‘n klomp voorbereiding moet doen nie, alhoewel dit beslis aan te bevele is om voor te berei.

Ons moedig spontane gesprek aan en beklemtoon dat geen antwoord ‘reg’ of ‘verkeerd’ is nie. Ons gee ook glad nie om as daar soms ‘n bietjie van die onderwerp afgedwaal word nie. Op die ou end gaan dit oor goeie gesprekvoering rondom die Bybel.

Ons is nie rigied nie. Kan iemand dit ‘n keer nie bywoon nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Kan ‘n hele paar mense dit nie bywoon nie, stel ons dit uit tot ‘n volgende keer.

Ek is dankbaar om aan so ‘n groep te kan behoort waar ons deel in mekaar se vreugde en pyn. Mag ons groep nog lank bymekaar kom en mag hier in hierdie jaar sommer ‘n klomp nuwe groepe begin wat die vreugde van saamkuier leer ken.

Toortsie

Gasvryheid

Nadat ons so heerlik gekuier het by die see die afgelope naweek het ek die heeltyd die behoefte om te skryf oor gasvryheid. Ek sê altyd ons volg ‘n oopdeurbeleid waar enige iemand wat lus het om te kom hello sê, welkom is. Op so ‘n manier het Sondag absoluut ontwikkel in ‘n kuierdag toe mense net ingeloer het en ons heerlik saamgekuier het. Onbepland. Heerlik. Heilsaam.

Gasvryheid.

Met die heerlike kuier steeds in my agterkop, die gedagte aan al die goedvoelhormone wat afgeskei is, die gevoel van behoort, van saamwees, lees ek vanoggend in die Leefstylbybel vir Vroue by 2 Johannes. Het julle geweet dat hierdie boek aan ‘n vrou geskryf is? Die Uitverkore Vrou? Natuurlik is hulle nie seker of dit wel ‘n vrou was aan wie die brief gerig was nie, maar dalk ‘n gemeente was wat ‘n vrou voorgestel het.

Onderaan die brief staan daar in my Leestylbybel ‘n stukkie: ‘n Mite oor vroue, dat ‘n vrou se werk nie juis belangrik is nie. Natuurlik is ‘n vrou se werk in die huis belangrik. Hul noem dat dit gewoonlik die huisvrou se taak is om gaste te ontvang, dat sy ‘n atmosfeer in haar huis skep waarin al die huismense tuis en belangrik voel, dat haar huis ‘n plek vir geselligheid en waarde is, ‘n plek waar die Here hoort.

Gasvryheid is ‘n Bybelse beginsel, ‘n Bybelse opdrag en daardie opdrag word op baie plekke in die Bybel beskryf. God hou daarvan as ons gasvry is en mense ontvang en dit vir hulle lekker maak om by ons te kuier. Natuurlik verhoog die lekkerte as die gaste positief reageer op die gebaar van gasvryheid.

Wanneer ons gasvry was en die mense dit met liefde ontvang en daarop reageer het, dan is nie net hulle geseën deur jou optrede nie, maar voel ook jy geseënd daarná.

Toortsie