Lank leef die koningin!

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar ‘n koningin. Sy was nie ‘n regte koningin wat stam uit die adel met die blou bloed nie, maar sy was ‘n koningin uit die boere-adel met bloedrooi, liefdevolle bloed in haar are. Sy was my koningin.

Die liewe tannie was ‘n baie goeie vriendin van my se ma, en tipies Toortsie, kon ek nie haar naam onthou nie. Ek wonder in elk geval of iemand ooit vir my haar naam gesê het, ‘n mens stel mos soms iemand so voor: ‘Dis my ma.’, en op ons goed opgevoede boeremanier, is haar naam dan Tannie. Tannie voor, tannie agter, tot een dag wat ek wonder, wat is hierdie lieflingtannie, wat amper vir my ‘n ma is, se naam?

Ek vra haar en kon sien dat sy half teleurgesteld voel dat ek nie haar naam ken nie. Sy antwoord dat haar naam Juliana is, soos die Koningin van Holland. Wel, of Koningin Juliana nou nog aan bewind is, weet ek nie, wag, ek vra gou vir Google, sy sal weet!

Ag, hoe bly is ek dat ek gaan loer het! Kyk wat sê Google van haar:

Juliana of the Netherlands Queen of the Netherlands:


Juliana was Queen of the Netherlands from 1948 until her abdication in 1980. Juliana was the only child of Queen Wilhelmina and Prince Henry. From birth she was heir presumptive to the Dutch throne. She was educated privately.

So het die jong en jeugdige Juliana in die 1930’s gelyk. Ek wonder of daardie volstruisveer uit Oudtshoorn se wêreld gekom het?

En hierdie is die koningin in 1949.

Sy was die moeder van Beatrix of the Netherlands. En toe ons verlede jaar in Amsterdam was, was ek bevoorreg om in die koninklike woning te gaan rondstap. Hulle gebruik dit steeds wanneer hulle in Amsterdam is. Dis baie, baie mooi.

Terug by my koningin. Tannie Juliana. Sedert daardie dag wat ek haar naam gevra het, was sy my koningin. Ons gesin se koningin. Ons het haar so genoem, en sou ek vir haar ‘n kersgeskenk neem, was daarop net aangedui dit vir die koningin is.

Hoekom dink ek nou aan haar? Want Google het vir my herinner dat sy een van die dae sou verjaar. As sy nog gelewe het.

Ag, maar dis lekker herinneringe aan ons eie koningin.

Toortsie

12 thoughts on “Lank leef die koningin!

Gesels saam, asseblief!