My Swart Vrydag Storie

Hierdie bloginskrywing is oorspronklik geskryf op 27 November 2015, toe ek nog baie meer aktief betrokke was by ons plaaswerkers.

Vandag is Swart Vrydag. Daar is ‘n beroep op ons gedoen om swart klere aan te trek in simpatie met soveel vrouens en kinders wat in hulle huise geslaan en gemolesteer word. Die ergste van alles is dat dit nie net mans is wat vroue slaan nie, daar is ook baie mans wat deur vroue geslaan en gemolesteer word.

Soos ek ‘n vorige keer geskryf het, kan ek alleen hier op die plaas regtig nie eintlik ‘n impak maak nie. Dis me, myself and I.

‘n Vorige keer het ek ‘n swart rok aangetrek en toe ons die oggend saam met die werkers Bybel lees, sê ek vir hulle:  ‘Ek het vandag ‘n swart rok aan omdat ek gekant is teen mans wat vroue slaan en verkrag. Baie mense dra vandag swart oor hierdie rede. Geen man wat sy vrou slaan en verkrag, is ‘n ware man nie en ek hoop dat niemand wat by ons werk dit ooit doen nie. As daar so iemand is, vra ek dat hy daarmee sal stop.”  Ek het gevoel dat, sou dit net één persoon se hart aanraak, dit die moeite werd was.

Twee of drie maande later het ek weer een dag die swart rok aan. Daardie oggend bid die plaaswerker dat God sal help dat mans nie hulle vroue sal slaan en mishandel nie! Ek glo tot vandag toe dat dit die swart rok was wat hom herinner het! 🙂

Dis klein saadjies wat ons saai. Ek verwag nie aardskuddende gevolge nie, om sulke gewoontes te breek gebeur nie in een dag nie, maar dalk, net dalk val die saadjie tog in goeie grond en ontkiem. Dalk is daar één persoon wat dit hoor en onthou en besluit om op te hou daarmee, of as dit ‘n jongman is, om dit dalk nooit te doen nie.

Saai daardie saad, selfs al voel ons dis ‘n onbegonne taak, ons weet nooit waar dit opkom nie! Praat oor die veldtog met jou kollegas, as jy swart klere aanhet, noem dit terloops vir iemand, praat in julle personeelkamers daaroor. Kry ‘n gesprek aan die gang. Maar moenie iemand direk aanval of beskuldig nie, saai die saad in liefde en geduld, dan kry jy baie meer reg.

Groetnis

Toortsie

Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekosboek Faceboekblad.

 

9 thoughts on “My Swart Vrydag Storie

  1. Dis te kostelik dat die werker weer bid daaroor! 🙂

    Ek dink dis so mooi ding wat julle doen om in die oggende saam julle werkers bybel te lees. Min mense doen dit nog.

    Terloops, tot my oorbelle is swart vandag!

    Like

    1. WOW vir jou swart oorbelle. 🙂
      Ja, ek dink toe hy die rok sien, onthou hy die storie, dis die enigste keer wat een van hulle daarvoor gebid het, en hoekom die dag wat ek die rok aanhet.
      Ons saamlees en bid soggens is ook maar saadjies wat ons saai, ons hoop dit val iewers op goeie grond en kom op. Ek wens elke lkewer firma, organisasie, werksplek wil dit doen. Aanvanklik voel ‘n mens ongemaklik, maar dis verby binne 3 dae. Elkeen kry iewers ‘n beurt om te bid, slegs een per dag. Dit het al gebeur dat een NEE sê as ek sy naam noem, en dan bid hy die mooiste van mooi gebede. Op ‘n Maandag deel ek die beurte uit vir die res van die week, so dit kom nie onverwags nie.

      Liked by 1 person

  2. Dis baie goed dat jy teen huishoudelike geweld praat!

    Dis ook goed om by te vertel dat geweld nie net slaan is nie. Geweld gaan daaroor om ‘n ander person te wil beheer, en dit kan dikwels net so goed met emosionele mishandeling, verkleinering, oorheersing, isolasie, ens. gebeur.

    Waarom los ‘n vrou nie ‘n slaner nie? As ‘n slaner ‘n vreemdeling was wat ewe skielik begin slaan het, sou ‘n vrou net wegstap en ‘n saak maak. Maar geweldenaars isoleer vroue van hulle vriende en families, laat haar wanhoop in die idee dat enige beter lewe bestaan of dat sy iets beter verdien, dreig vroue en laat hulle glo dat, sou hulle weggaan, hulle opgespoor kan word… Al daardie goed is ewe veel deel van die mishandeling as die hou wat ‘n blou kol los.

    Like

    1. Absoluut. Die mishandelde persoon, wat baie keer ‘n man ook kan wees, word geestelik, liggaamlik en emosioneel so afgetakel, hul glo later hul het geen heenkome nie, dat dit hul skuld is, dat die wêreld teen hulle is. Hul het geen moed om weg te breek nie. Die probleem is dat hul dalk nie ‘n werkbare oplossing het nie wn vasgevang bly in diesituasie.
      Die probleem is baie groter as wat in een bloginskrywing genoen kan word.
      Dis egter ook so dat so ‘n mishandelde persoon ‘n groot kans het om weer daardie tipe persoon te trou. Dis ‘n baie gevaarlike posisie om in te wees.

      Like

Gesels saam, asseblief!