My Swart Vrydag Storie

Hierdie bloginskrywing is oorspronklik geskryf op 27 November 2015, toe ek nog baie meer aktief betrokke was by ons plaaswerkers.

Vandag is Swart Vrydag. Daar is ‘n beroep op ons gedoen om swart klere aan te trek in simpatie met soveel vrouens en kinders wat in hulle huise geslaan en gemolesteer word. Die ergste van alles is dat dit nie net mans is wat vroue slaan nie, daar is ook baie mans wat deur vroue geslaan en gemolesteer word.

Soos ek ‘n vorige keer geskryf het, kan ek alleen hier op die plaas regtig nie eintlik ‘n impak maak nie. Dis me, myself and I.

‘n Vorige keer het ek ‘n swart rok aangetrek en toe ons die oggend saam met die werkers Bybel lees, sê ek vir hulle:  ‘Ek het vandag ‘n swart rok aan omdat ek gekant is teen mans wat vroue slaan en verkrag. Baie mense dra vandag swart oor hierdie rede. Geen man wat sy vrou slaan en verkrag, is ‘n ware man nie en ek hoop dat niemand wat by ons werk dit ooit doen nie. As daar so iemand is, vra ek dat hy daarmee sal stop.”  Ek het gevoel dat, sou dit net één persoon se hart aanraak, dit die moeite werd was.

Twee of drie maande later het ek weer een dag die swart rok aan. Daardie oggend bid die plaaswerker dat God sal help dat mans nie hulle vroue sal slaan en mishandel nie! Ek glo tot vandag toe dat dit die swart rok was wat hom herinner het! 🙂

Dis klein saadjies wat ons saai. Ek verwag nie aardskuddende gevolge nie, om sulke gewoontes te breek gebeur nie in een dag nie, maar dalk, net dalk val die saadjie tog in goeie grond en ontkiem. Dalk is daar één persoon wat dit hoor en onthou en besluit om op te hou daarmee, of as dit ‘n jongman is, om dit dalk nooit te doen nie.

Saai daardie saad, selfs al voel ons dis ‘n onbegonne taak, ons weet nooit waar dit opkom nie! Praat oor die veldtog met jou kollegas, as jy swart klere aanhet, noem dit terloops vir iemand, praat in julle personeelkamers daaroor. Kry ‘n gesprek aan die gang. Maar moenie iemand direk aanval of beskuldig nie, saai die saad in liefde en geduld, dan kry jy baie meer reg.

Groetnis

Toortsie

Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekosboek Faceboekblad.

 

Swart? Oranje? Rooi?

Ek was nog nooit een vir die feesdae nie. As kind het ons nie deelgeneem nie. Dalk was dit net dat ons 40 km met ‘n slegte grondpad van die dorp af gewoon het en ontsien het om dit by te woon?

Om ‘n dag ‘n sekere kleur te dra om my simpatie te betoon met die menigtes, het ek ook nog nooit gedoen nie.  Want ek woon alleen, wie gaan dit in elk geval sien?

Nou is dit vandag Swart Vrydag, so het die epos gelui. Sal dit help as ek swart dra? Watter impak kan dit regtig maak? Dis net ek en ek alleen hier op my mishoop? In elk geval, ek verkies om op die positiewe te konsentreer en die lewe te vier!

Vandag het ek besluit om deel te neem. Ek het my gunsteling swart rok aan. Want dis nie net “hulle” wat verkrag word nie. Genadiglik is ek dit nog tot nou toe gespaar, maar watter versekering het ek dat ek of my dogter of skoondogter nie ook dit kan oorkom nie? Al wat ek kan doen is om te bid daarvoor, maar wat meer? ‘n Vriendin is op ‘n Woensdagmiddag half een in ‘n groot winkelsentrum verkrag, ‘n plek waar ‘n mens tog dink jy is veilig? ‘n Ander een is deur haar eie pa in haar eie huis verkrag toe sy klein was. Nog een deur ‘n oupa, ook in haar eie huis. Ek kan nie in apatie net my skouers optrek en met my lewe aangaan nie.

Hoe maak ek, alleen op die plaas, my verskilletjie? Deur dit op facebook te skryf, nie omdat ek ‘n klappie op die skouer soek nie, maar om my vriende ook bewus te maak daarvan. Vanoggend 7 vm het ek tussen ons werkers gestaan en vir 15 mans gesê: “Ek het vandag ‘n swart rok aan omdat ek gekant is teen mans wat vroue slaan en verkrag. Baie mense dra vandag swart oor hierdie rede. Geen man wat sy vrou slaan en verkrag, is ‘n ware man nie en ek hoop dat niemand wat by ons werk dit ooit doen nie. As daar so iemand is, vra ek dat hy daarmee sal stop.” As net EEN van hulle dit onthou, was dit die moeite werd. Ek vertrou dat hulle dalk vandag daaroor gaan praat met mekaar, en dalk die boodskap vir ‘n volgende een oordra. Ons het ‘n massiewe opvoedingstaak op ons hande. Ons kan dit nie ignoreer terwyl daar elke hoeveelste sekonde ‘n vrou in SA verkrag word nie. Terwyl ek hier tik is daar seker 5 of 6 vroue verkrag.

Ek vra jou: Of jy swart dra of nie, sal jy dalk vandag net vir iemand daarvan bewus maak? Dalk net ‘n klein stukkie opvoedingswerk doen? Of dalk net vir iemand wat apaties staan, ook betrokke kry? Ons MAG nie hierdie probleem verder ignoreer nie.

genadigliknieverkragnietoorts

Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad.