Skryf ‘n opstel: Hoe ek my beste vriendin ontmoet het

Die laaste kwartaal van die jaar het begin en die mense skryf opstelle! Dit lyk my Sondagaande is die tyd wanneer die navorsing op die internet gedoen word vir opstelskryf.

Skryf ‘n opstel: ‘Hoe ek my beste vriendin ontmoet het’. Dit kan natuurlik ook wees, ‘hoe ek my beste vriend ontmoet het’.

As jy nou al 55 jaar oud is, soos hierdie tannie, het jy dalk al ‘n paar beste vriendinne in jou lewe bymekaargemaak, maar dit is dalk ook moontlik vir jou as tiener. Jy is dalk deel van ‘n groep. So die eerste vraag is, oor WIE gaan jy skryf? Selfs al is jy in ‘n groep van vriende, is daar een van hulle wat nader aan jou is as die ander? Iemand met wie jy jou hartsgeheime kan deel?

Dus, wanneer jy besluit het WIE jy as onderwerp gaan gebruik, kan jy jou opstel begin deur te skryf: Ek wil graag skryf hoe ek my beste vriendin, Ronel (vul self naam in), ontmoet het.

Dan kan jy dalk ‘n bietjie uitbrei oor hoekom jy juis vir haar gekies het. Wat maak haar spesiaal? Hoekom kliek julle twee juis meer as van die ander kinders? Aanvaar sy vir jou vir wie jy is? Kraak sy jou nie af nie? Is dit juis haar rustigheid waarvan jy hou? Wat is julle raakpunte?

Jy kan ook vertel of sy saam met jou in die skool is, of woon sy op ‘n ander dorp? Hoe gereeld sien julle mekaar?

En dan, die rede vir hierdie opstel: Hoe het julle mekaar ontmoet? Elkeen van ons se storie sal heeltemal anders wees, want die lewe gebeur nie met almal op dieselfde manier nie. Waar het julle die eerste keer met mekaar gesels? Was dit by die skool? Het julle mekaar toevallig op sosiale media raakgeloop? Wat het gebeur dat julle twee aan die kommunikeer geraak het? Vertel die storie soos wat jy dit vir ‘n ander goeie vriend van jou vertel? Wees opgewonde oor jou beste maat, want sy ís jou beste maat, wat genoeg rede is om oor opgewonde te raak. Brei uit daaroor.

Jy kan jou opstel afsluit deur te vertel oor dinge wat julle saamdoen en dalk ‘n laaste iets spesiaals oor haar sê, sommer net bevestig hóé spesiaal sy regtig vir jou is en hoeveel jy haar waardeer.

(En hier is nou sommer ‘n lekker bloguitdaging vir my blogmaats: Kom ons skryf oor ons beste maats. Dié van ons wat meer as een beste maat het, mag meer as een blog ook skryf. Onthou om elke keer hierdie bloginskrywing te ‘tag’.) En liewe skoolkind, as jy hierdie inligting gebruik het, sal dit nogals oulik wees om te verwys na hierdie blog.

Groetnis

Toortsie

Vir nog opstelonderwerpe kan HIER gekliek word.

11 thoughts on “Skryf ‘n opstel: Hoe ek my beste vriendin ontmoet het

Gesels saam, asseblief!