Skryf ‘n opstel: Familietroue

Sjoe! Dis ‘n lekker onderwerp!

‘n Familietroue is ‘n lekker ding en ek glo altyd dat familie ‘n troue heeltemal anders beleef as vriende van die bruid en bruidegom. Dis ‘n bymekaarkomslag van mense wat mekaar ‘n leeftyd ken, met ‘n leeftyd se stories agter hulle.

Waar is die troue gehou? Vertel van die plek. Wat het dit spesiaal gemaak? Was dit naby ‘n rivier? Watter tierlantyntjies het die bruid gebring om die troue uniek te maak?

Het julle eers met die kerkdiens daar aangekom, of was dit ‘n hele naweektroue? Naweektroues raak al hoe gewilder waar die hele familie al van die Vrydag af saamkuier. Het julle die Vrydagaand gebraai? Watter lawwighede het tydens die braai gebeur?

Dan kan jy die troue beskryf, of sommer die gaste. Skinder lekker oor die familie, op ‘n mooi manier natuurlik, sonder om iemand af te breek.

Vertel van die komieklike tannie in julle familie wat ook op die troue was. Vertel wat sy hierdie keer al weer aangevang het, en, as jy wil, sommer van haar ander vreemdhede. Is haar hare groen gekleur? Het sy soos ‘n tropiese woud gelyk in haar kleredrag? Het haar hare soos die troukoek gelyk?

En wat van die oom in julle familie waarvoor julle altyd stilletjies glimlag? Vertel hoe hy altyd kiertsregop loop, bokbaardjie en al. Netjies, ernstig. Vertel hoekom hy vir jou vreemd is.

Vertel van jou slim neef wat die hele tyd net vertel van alles wat hy vermag, of die niggie wat heeltyd giggel oor alles. Of wat van die oom wat dieselfde ou afgesaagde grappies vertel as die familie bymekaar kom. Dalk is daar ‘n oom of twee wat ‘n bietjie diep in die bottel kyk, en ‘n tannie wat onophoudelik praat.

By so ‘n familiebyeenkoms kom daar altyd ‘n paar familiegeheime ook uit. Staaltjies wat al oor geslagte heen kom. Skryf daaroor. Vertel van jou oupa wat die draairoomys vir agt persone moes loop haal, stokalleen, en watter fiasko dit was. (Dit is ons familiegrappie, maar ek is seker julle het ook sulke grappies.)

Wat van jou neefs en niggies wat in Australië bly wat spesiaal vir die troue Suid-Afrika toe gekom het. Vertel ‘n bietjie hoe lekker dit was om weer die bande op te tel na al die jare. Hoe julle net nie uitgekuier kon raak nie omdat julle nog altyd maats was.

Watter poetse het julle dalk op die troue vir van die familielede gebak?

Het jy ‘n spesiale takie op die troue gehad? Moes jy help met die versiering van die saal? Was jy die persoon wat hulle rondgestuur het en moes jy net bontstaan? Het jy dit geniet, of was dit vir jou sleg? Wat moes jy alles doen? Moes jy sewentig ballonne opblaas en het jou kop toe gedraai, of moes jy help tafels dek? Of was jy een van die skoonmakers ná die tyd?

Die meeste van alles, geniet dit wat jy skryf. Lees dit oor en vra: Bring dit ‘n glimlag op my gesig? En, wat kan ek verander sodat dit ‘n glimlag op my gesig bring as ek dit lees, want, dan gaan dit ook ‘n glimlag op jou leser se gesig bring.

Vir nog opstelhulp, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Musiek in die Bybel

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie