Toortsie se voelgoedstorie 22 – Malgas se pont

Soos gepubliseer by die Finesse Goedvoel Blogs lank gelede.

Toe ons by die pont stop, is my eerste gedagte: ‘In my kinderjare het oom Moksie Dunn hierdie pont alleen getrek, deesdae is daar drie manne wat die werk doen.

Malgas se pont het nog altyd ‘n besonderse plek in my lewe. Kleintyd as daar mense kom kuier het, het ons klomp kinders ‘n draai gaan ry, en gewoonlik het dit ‘n rit oor die pont ingesluit. By Malgas is die enigste manier om oor die Breërivier te gaan ná al die jare steeds ‘n pont wat met mensekrag gesleep word.

Elke keer is dit ‘n belewenis. Drie manne bring die pont in beweging en sleep hom tot aan die ander kant met kettings. Dag in en dag uit, drie motors op ‘n slag. Ons wag vir die pont wat sy vrag van die ander kant af sleep, en toe ons weer aan die ander kant kom, staan die volgende drie motors alreeds en wag.

Maar hierdie drie manne besoedel nie hulle gedagtes met verkeerdhede nie. Hulle gesels met die kliënte, vertel ‘n grappie, beantwoord die vrae. Dit kan voorwaar nie ‘n maklike werk wees nie, maar hulle doen dit met ‘n glimlag op die gesig, hanteer elke persoon beleefd.

Net een rit met die pont is nodig om te besef: Ek het die wêreldse respek gehad vir oom Moksie wat dit man-alleen gedoen het, maar ek het ook die wêreldse respek vir hierdie drie manne wat hulle dagtaak met soveel vreugde verrig.

Wát ‘n les om te leer: Dit maak nie saak wat ons doen nie, solank ons dit met vreugde, asof vir die Here doen, maak ons ‘n verskil. En daardie drie manne maak beslis ‘n verskil. Nie net ten opsigte van die gerief van soveel mense nie, maar ook aan gesindhede. Hulle is beslis ‘n voorbeeld! ‘Do what you do, do well, boy.’

Mooi loop

Toortsie

Toortsie by Finesse: Toe kom die reën

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

8 thoughts on “Toortsie se voelgoedstorie 22 – Malgas se pont

  1. Ek wonder of dit die pont is wat my kinders en hulle vriende oor is toe hulle Desember die Kaap gaan toer het. Sal moet uitvind. Dink hoe trots Jesus is as ons, ons dagtake met vreugde doen!!! Ek kry nie volpunte in hierdie vak in God se Leerskool nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!