Soos wat dit ongeveer twee jaar gelede verskyn het by Finesse se Voelgoedblogs.
Google is ‘n dame!
Ja! Dit weet ek nou! Google is ‘n dame! Nie dat ‘n mens ooit anders sou kon dink nie, want daar is niemand wat soveel goed gelyk kan doen as Google nie!
Maar hóé weet ek sy is ‘n dame? Omdat ek nou op my oudag geleer het van ‘Okay Google’. Ag, wat ‘n plesiertjie vir ‘n ou antietjie soos ek! Mensig! Dis nou te sê die keer wat ek onthou dit moet ‘Okay Google’ wees en nie ‘Hello Google’ nie.
Dít besef ek nou ook: Sy het ‘n bietjie van ‘n ingewikkelde temperament ook nog. Ek moet duidelik sê, ‘Okay Google’, nie op haar skree nie, nie met ‘n singerige stem nie. Eers wanneer sy voel ek sê dit reg, dán reageer sy.
“Okay Google, navigate me to Artscape” … tjieng … en dan begin sy praat! “Okay Google, call Annie Pretorius” … tjieng … en daar lui die foon! “Okay Google, Raindrops keep falling on my head” … tjieng … en daar sing my foon die liedjie. Dis soos ‘n nuwe speelding!
Maar voor ek dít kon leer, moes ek ook leer dat dit glad nie meer nodig is om adresse en GPS koördinate in te tik nie. Nee, ek tik net ‘Radio Tygerberg’ en daar gaan ons! Nou vra die mense vir my, waar is Radio Tygerberg, en al wat ek kan antwoord, ‘on your left’! ‘Your destination is on your left!’ Sowaar!
Behalwe dat Google vroulik is, was sy sowaar die hele wêreld vol en help sy hierdie plaastannie om die hele Kaap plat te ry. Hoe is dit dan dat ek dit nog nie besef het destyds toe ek die hele Gauteng platgery het op soek na Unisa nie?
Maar waaroor ek steeds die mees opgewonde is, is dat Google vroulik is, dit beteken, ons kan haar vertrou!
Groetnis
Tong-in-die-kies-Toortsie