Paddaboutjies en slakke

Ek is baie braaf as ek by vreemde kosse in vreemde lande kom. Daardie mense kom dan niks daarvan oor nie, hoekom sal ek?

Maar is ek regtig so braaf?

In Egipte het die span regtig op my gereken om die vreemde kosse te proe. Die duif was heerlik, net klein en ek het hom nog gedeel ook met iemand anders wat wou proe. Van die glibberige groen soppies gaan ek nou nie uitpraat nie.

Maar sal ek regtig slang eet? Mopaniewurms? Padda? Hond? Kat?

Aan slakke het ek al gewoond geraak, pragtig in ‘n bakkie met ‘n holtetjie vir elke slakkie, in die heerlikste knoffelbotter. As ek regtig daaroor dink, vermoed ek die knoffelbotter is die lekkerste deel van die storie en noudat ek bant, eet ek dit met ‘n lepeltjie, omdat ek mos nie dit kan opsuig met ‘n broodjie nie.

In Parys was die uitdaging toe paddaboudjies. Daar was ook slakke, en as ek die foto reg verstaan, word dit in die doppe bedien. Ek wonder darem of ek regtig daarvoor kans sien! Gelukkig was daar ook ander kosse om uit te kies!

In ons groep was wel die brawes wat paddaboudjies bestel het en dit toe met graagte uitgedeel het.

Ja, ek het ook ‘n bo-beentjie afgeëet!

Dit smaak NIE soos hoender nie, hulle jok! Die taai sous het aan jou hande bly kleef en die reuk en smaak het gebly … en gebly … en gebly! Dalk was die prentjie van ‘n brulpadda net té duidelik in my kop, maar nee! Regtig nie! Ek is nié só honger nie, prys die Here!

Ek vermoed die storie van paddaboudjies is baie dieselfde as die storie van die Keiser se nuwe klere. Dalk het een of ander slinkse ou vir Napoleon vertel dat dít nou die kos is wat mens eet as jy vernaam wil voorkom en net dalkies het die koning vir die grap geval.

Maar ek? Ek het oë en verstand in my kop en laat my nie sommer só vang nie. Wel, as dit al vleis is wat jy kan bekostig, kan ek dit seker verstaan.

Paddagroete

Toortsie

Toortsie by Finesse: My geselskap

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

10 thoughts on “Paddaboutjies en slakke

Gesels saam, asseblief!