My vrese

Ek deel graag ‘n bybelstudie wat ek aangebied het oor my vrese. Dit was ‘n groepstudie, maar ‘n mens kan dit ook op jou eie doen. Dis my wens dat ons almal iets hieruit sal kry, dat ons sal groei in ons geloof in God.

In ‘n groep wil ek graag hê dat mense spontaan sal saampraat en sê wat in jou hart opkom. Daar is nie ‘n verkeerde en ‘n regte antwoord nie. Dis die Heilige Gees wat die woorde in ons gedagtes laat opkom en deur dit vir ons ander te sê, word ons almal daardeur gevoed en groei ons.

(Die vrae is in gewone skrif, my eie antwoord in ITALIC.)

  1. Raak julle ook soms bang? Raak julle ook angstig? Vang die gejaagdheid van die lewe julle ook soms? Voel dit soms of julle net nie weet watter kant toe nie? Dis hier vat en daar los, maar dit wil net nie reg werk nie? (Ek is aandagafleibaar en laai heeltemal te veel hooi op my vurk. Ek jaag van punt A na punt B en soms kan ek net nie by myself byhou nie.)
  2. Vertel ‘n bietjie. Wat maak julle dan? Wat werk vir jou as jy bang is? Hoe kan jy dit vir jouself rustiger maak? Wat moet jy vermy? Wat moet jy eerder doen? Wat werk vir jou? (Gaan stap langs die see, draf, kuier saam met iemand. Die grootste fout wat ek kan maak, is om my stiltetyd sulke tye af te skeep. Al wat vir my werk is ‘n goeie stiltetyd waar ek net rustig raak by die Here.)
  3. Kom ons praat oor stiltetyd. Hoe hou julle stiltetyd? Wat werk vir jou? Watter tyd van die dag? Vir hoe lank? Wat doen jy tydens jou stiltetyd? (Vir my werk dit nie om net gou vinnig ‘n paar sinne te bid en Bybel te lees nie. Ja, ek doen dit baie keer, maar dit is eintlik maar oneffektief. Wat vir my werk is om iewers deur die dag, later in die dag wanneer al die ander goed wat my aandag aftrek, uitgesorteer is, rustig te raak by die Here. Dan bid ek ‘n paar sinne en skryf ‘n A4 bladsy in my joernaal vol. Ek skryf daar alles wat in my hart aangaan. Dit help my om te fokus en soms skryf ek daar dinge wat ek nooit gedink het in my hart is nie, net omdat ek rustiger raak. Ek bid vir my gesin en ons predikante. Dan lees ek ‘n stuk uit die Bybel, daar waar my merk is. En as daar tyd is, doen ek ‘n stukkie bybelstudie uit ‘n boekie.) Ek raak net stil wanneer ek stil raak by God. Net Hy kan my rustig maak. As ek onrustig raak, het ek ‘n ‘goeie stiltetyd’ nodig. Dis ál manier wat ek deur ‘n dag sal kom.
  4. Terug by bang. Wil enige van julle vertel van ‘n keer wat julle bang was/moedeloos was/met jou rug teen die muur, wat julle met God deurloop het? Wat het julle gemaak? Wat het God gedoen? Hoe het jy daardeur gekom? (Die afgelope tyd het God weer behoorlik ‘n pad met my geloop. Hierdie Swart Maandag ding het my geruk. Ek het dit ondersteun, maar nie gedink daaraan dat die veglustiges aan beide kante van die spektrum dit weer sal misbruik nie. Daardeur is ons boere net weer baie meer blootgestel as voorheen. Ek is bang!)  Ek wil dit baie sterk beklemtoon dat hierdie studie nie gaan oor ras of geslag of enige so iets nie. Dit gaan oor my verhouding met God en ook Sy verhouding met Sy kinders, ongeag wie en wat hulle is. 
  5. (Lees saam met my deur Jesaja en kyk ‘n bietjie hoe God met my gepraat het. Neem ook die verse vir jou daar in jou onsekerhede. )

Jes 16:4(b)-5

Jes 17:7

Jes 19:19-22 (God wil hê dat almal Hom moet ken, ook hulle wat Sy vyande is)

Jes 22:11(b) (God praat ook met ons as Christene. Ons moet ons bekeer. Nie net die Here aanneem as ons Saligmaker nie, maar ons werklik bekeer van dit wat ons verkeerd doen. God wil hê ons moet ons lewens ondersoek en kyk waar ons steeds sondig en ons moet regmaak. Ons moet ophou sonde doen en nie maar net dink dit is okay nie.)

Jes 25:1, 4 (Ja, God is vir ons ‘n toevlug in ons nood, en dit is Hy wat my bang hart gehoor het. Dit is Hy wat my elke dag wat die bang maar weer wil kom, kom kalmeer en troos.)

Jes 26:2-7 (God kyk na Sy kinders. En hier wil ek baie duidelik sê, ongeag ras of kleur of nasie. Hy kyk na Sy kinders wat Hom ken en dien. Dit beteken natuurlik nie dat ons dit altyd maklik sal hê of dat daar nie iets met ons kan gebeur nie, ons leef immers in ‘n sondige wêreld. Maar ek weet dat, maak nie saak wat met my gebeur nie, selfs al gebeur die dinge waarvoor ek bang is met my, kan niemand my uit Sy hand ruk nie. En ek WEET dat Hy my soveel keer beskerm wat ek nie eers daarvan bewus is nie. Hy doen dit sommer net. Hy doen dit ook vir jou.)

Jes 27:2-3 (Dink ‘n bietjie, hoe sorg God elke dag vir ons? Sommer in die klein dingetjies, waarin sien jy God se sorg raak? Waarin het jy VANDAG Sy sorg gesien?)

Jes 28:26, 29 (God gee ons kennis. Hy rus ons toe. Deur tyd met Hom te spandeer, rus Hy ons toe vir Sy werk.)

Jes 29:13 (Weer spreek God ons aan. Ons moet Hom ernstig opneem.)

Jes 30:15 (b) (Ons moet stil raak en vertroue in Hom hê. Hier dink ek sommer aan die opswepery wat in die media en veral op Facebook en ander sosiale media gebeur. Dis nie vir ons goed om alles te post wat die mense waarvan ons nie hou nie. Daardeur gee ons vir hulle mag en help ons hulle in hulle veldtog teen ons. Ons saai vrees. Dis beter om daardie posts te blok sodat ons dit nie sien nie. Moenie daarop reageer nie. Ons weet mos daar is mense wat ons haat, ons hoef dit nie by onsself in te vryf nie.)

Jes 30:18-19

Jes 35:3-4 (Dis ons roeping. Ons moet mekaar bemoedig. Ons moet mekaar ophelp.)

God is ons redding. By God kan ons skuil. Nee, ons het nie mag oor mense wat wil verwoes en verniel nie, maar ons weet dat, ongeag wat, ons veilig is in Hom, en sou ons iets oorkom, ons dan vir ewig by Hom sal wees.

Groetnis

Toortsie

 

7 thoughts on “My vrese

  1. Dankie Toorsie, baie goeie stuk en ons kan bladsye volskryf ne. Soms dink ek anders, ek lees soms my Bybel in die oggend as ek kan. Ek en my vrou bid elke oggend saam voor ons die huis verlaat. Ek praat die hele dag met God en Hy praat met my. Ek hoor nie fisies Sy stem nie, maar in my werk en in die son se strale hoor ek Sy stem. Ek is nie ‘n mens wat myself in ‘n kamer kan toesluit om stiltetyd te hou nie, of om 3 ure in gebed te gaan nie. Ek kry dit nie reg nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!