Toortsie se Toeka Tokkel oor Besoekers

In opdrag van Scrapydo.

Gasvryheid is ‘n eienskap van ons boerenasie. Ons is gewoonlik baie bly oor besoekers.

Vandag wil ek skryf oor die Struisbaai Vibe. Dís hoe ek Struisbaai leer ken het as kind in my ouers se strandhuis en dis hoe dit steeds is. 

Een oggend toe ek wakker word, hoor ek my kind in die kombuis wat vir hom koffie maak en staan toe op en gaan drink tee saam met hom. Ons albei nog in pajamas en elkeen onder ‘n kombers. Soos die huislede ontwaak het, het die pajamabrigade onder komberse groter geword. 

Toe klop iemand aan die voordeur. En die volgende. Sommer vriende wat op die rondloop is en kom inval by ons. Daar word koffie gedrink en gekuier en so een vir een glip ons weg en gaan trek ons dagklere aan. So by besoeker nommer drie is almal darem al aangetrek! 

Op ‘n stadium, gewoonlik rondom middagete raak die besoekers minder en so by 4 uur, half 5 se kant kan dit weer begin. Iemand sal net onder by die voordeur roep,  ‘Is julle hier?’ en met die trap opkom. 

In die aand se kant begin ons vuurmaak, en op die ingewing van die oomblik kan die besoekers sommer bly vir braai. 

Netso val ons ook ongenooid by ander in, dis hoe dit werk! En sou daar ‘n dag verbygaan wat niemand opdaag nie, verval ek in ‘n depressie. Wat gaan dan nou aan dat niemand kom kuier nie?

Struisbaai! Jou lekker ding!

Toortsie

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Toortsie se Toeka Tokkel stories. Bookmark the permalink.

8 Responses to Toortsie se Toeka Tokkel oor Besoekers

  1. AWETHENTIQ sê:

    Meer as veertig jaar gelede het Oom Henk Dokter gevra toe ons kom kuier: “Wat gaat julle drenk? Tay? Kaffay? Een rondgedonderde melk?” Tot vandag toe nog die Struisbaai-kuier wat ek die beste onthou. Die oom het ‘n regte milkshake-masjien in sy kombuis gehad en dit het seker van batterykrag of met ‘n jinneryter gewerk want Eskom se liefde was toe nog nie so wyd verspreid nie. Dan die groepe kuiergaste wat saans na ete gaan stap het, sommer kaalvoet soms, in die grondstrate. So asof daar mos nie adders was nie. Die dambord- en kaartspeel by paraffien- en gaslampe. Toe het kuier nog gesels beteken. Kuier was meesal sonder drank in sig. Dit was mos lekker op daardie Struisbaai.

    Liked by 1 person

  2. Sune Mans sê:

    Daar’s niks so lekker soos kuier en saamwees nie! Dis mos waaroor die lewe gaan. Ek meen, as jy al die ander lekker dinge eenkant toe skyf, is dit net verhoudings en saamwees wat in mens se gedagtes bly.
    Groete
    Sune

    Liked by 3 people

  3. Kameel sê:

    Dit is soos ek ook die lewe geken het, val sommer by iemand se huis in want jy is in die omgewing of eweskielik net lus vir kuier. Hierdie hedendaagse geafsprake maak is vir my so formeel. Ai, wat het van al die lekker kuiery geword?

    Liked by 1 person

  4. Dis darem nog heerlik as die besoekers so net inval as daar vakansie gehou word. Vandag werk dit ongelukkig nie sommer so nie. Dankie vir jou lekker vertelling

    Like

  5. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 35 : Hande – I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s