Skryf ‘n opstel, of praat mondeling oor krag spaar. Noudat Eskom weer soms beurtkrag toepas, is krag spaar weer skielik ‘n realiteit. Dis darem wonderlik hoe gou ons vergeet en weer in ons ou gewoontes verval. Dieselfde met water spaar: Is die water min, werk ons spaarsamig, maar sodra dit weer gereën het, mors ons maar voort.
Jy kan jou opstel begin deur te skryf hoekom jy dink dit is nodig dat krag gespaar moet word: Beurtkrag, te min energie word opgewek vir die behoeftes, om die aarde te help, omdat ons baie onnodige krag gebruik sonder dat ons selfs bewus is daarvan.
Hoe kan ons krag spaar? Vertel eerstens wat julle in julle huise doen om krag te bespaar. Hier is nog idees: Sit af. Sit al daardie ligte af wat onnodig brand. Ja, dit gebruik min krag, maar al die liggies wat oral onnodig brand in ons land, maak ‘n groot verskil. Sit die rekenaar af as jy dit nie gebruik nie. Ontkoppel al die laaiers en elektroniese toerusting wat liggies het wat brand. Moenie die warm kraan oopdraai as jy net koue water nodig het nie. Tap net genoeg water in die ketel soos wat jy benodig, nie die hele ketel vol nie. Gebruik ekstra komberse in plaas van ‘n elektriese kombers. Hang wasgoed uit in die son, of selfs binneshuis op ‘n droograk in plaas van om die tuimeldroër te gebruik. Pak jou skottelgoedmasjien vol voor jy dit aansit, dit, terloops gebruik minder water en elektrisiteit as wanneer jy dit met die hand sou was. Moenie elke koppie een vir een was in die wasbak nie. Gebruik lae-energie gloeilampe. Gaan slaap vroeër in die aand. Trek jou gordyne oop in die dag dat jy eerder natuurlike lig gebruik. Maak kos in grootmaat gaar en vries dit in klein bakkies, wat in die mikrogolfoond warm gemaak kan word.
Ons kan baie elektrisiteit spaar deur doelbewus dinge te doen, maar ons kan ook elektrisiteit op ‘n ander manier spaar, deur ‘n spaarsamige kultuur aan te kweek, deur goed te hergebruik, nie sommer net alles weggooi en nuwes koop nie, want deur dit te doen, hoef daar nie elektrisiteit gebruik te word om nuwes te vervaardig nie. ‘n Joghurtbakkie kan weer vir iets anders gebruik word, ens. In plaas van goed sommer net weggooi, gee dit vir ‘n behoeftige persoon in jou omgewing, daar is so baie van hulle.
Ek is seker dat jy sommer nog baie ander idees sal hê hoekom ons krag moet bespaar en ook hoe. Dink ‘n bietjie innoverend en skryf jou eie opstel. Julle kan ook van die idees by die kommentare noem.
Die blogmaats kan ook hieroor skryf as hulle wil en net onthou om hierdie bloginskrywing te ‘tag’. Sou jy hierdie inligting gebruik in jou opstel of mondeling, sal dit goed wees as jy toortsie.com as bron noem.
Kliek HIER vir nog opstelonderwerpe.
Lekker skryf!
Toortsie