Toortsie se Toeka Tokkel: Afsluiting

Nie in opdrag van Scrapydo.

Hoekom nie in opdrag? Want Scrapydo het die reeks afgesluit en daar was geen opdrag dat ons nog daaroor moet skryf nie. Tog wíl ek graag daaroor skryf!

Vir twee volle jare het Scrapydo ons weekliks aan die gang gehou met ‘n Toeka Tokkel opdrag. Ek het elke keer geskryf en kan nie dink dat ek een oorgeslaan het nie.

Vir my is die skryfwerk op my blog nie moeilik nie. Die woorde kom in my kop, en solank dit daar is, moet ek dit neerskryf. Sou die woorde in my kop kom terwyl ek iewers anders is, is dit verby, dan kan ek dit nie neerskryf nie.

Danksy Scrapydo het ek ‘n heel nuwe veld betree: Opdragwerk. Sommige onderwerpe was maklik, ander was heeltemal buite my ervaringswêreld. Sommige van die ‘vreemder’ onderwerpe was ook nie moeilik om oor te skryf nie, maar by ander moes ek behoorlik dink, was dit ‘n behoorlike uitdaging. Danksy Scrapydo het ek geleer om buite my gemaksone te beweeg en oor goed te skryf waaroor ek soms nie eers in privaatheid wil praat nie, wat nog te sê skryf daaroor vir die hele wêreld om te lees.

Dankie, Scrapydo, jy het my gehelp om my horisonne te verbreed. Jy het my uitgedaag om verder te waag as wat ek altyd sou wou. Waaroor ek vir jou die heel dankbaarste is, is dat jy my gehelp het om my verbeelding te ontsluit. Vir my is dit nog ‘n heel nuwe wêreld, ek het altyd geglo ek kan net met harde feite werk, maar ek vang myself nou gereeld dat ek verbeeldingstories in my kop begin vorm, soos gister op die vliegtuig toe ons bokant die wolke vlieg, die wolke het toe nes bondels watte gelyk, en ek het in my verbeelding kindertjies sien hardloop op die wolke, uitbundig, laggende, spelende met ‘n bal. Daarvoor sê ek vir jou dankie dat jy die sleutel in my hand gegee het.

Die lewe loop aan, ons prioriteite verander, ons omstandighede verander. Dinge waaraan ons voorheen baie aandag kon gee, skuif op die agtergrond omdat ander belangrike dinge op die voorgrond tree. Geniet die nuwe vooruitsigte. Ons hou dop om te sien watter nuwe planne jy op jou blog gaan uitvoer.

Mooi loop!

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekos Facebook page

Toortsie se Facebook page

Finesse Blogger van die week

Finesse: Eerder ‘n foto asseblief

Toortsie’s LCHF Journey 

Toortsie se Toeka Tokkel oor Besoekers

In opdrag van Scrapydo.

Gasvryheid is ‘n eienskap van ons boerenasie. Ons is gewoonlik baie bly oor besoekers.

Vandag wil ek skryf oor die Struisbaai Vibe. Dís hoe ek Struisbaai leer ken het as kind in my ouers se strandhuis en dis hoe dit steeds is. 

Een oggend toe ek wakker word, hoor ek my kind in die kombuis wat vir hom koffie maak en staan toe op en gaan drink tee saam met hom. Ons albei nog in pajamas en elkeen onder ‘n kombers. Soos die huislede ontwaak het, het die pajamabrigade onder komberse groter geword. 

Toe klop iemand aan die voordeur. En die volgende. Sommer vriende wat op die rondloop is en kom inval by ons. Daar word koffie gedrink en gekuier en so een vir een glip ons weg en gaan trek ons dagklere aan. So by besoeker nommer drie is almal darem al aangetrek! 

Op ‘n stadium, gewoonlik rondom middagete raak die besoekers minder en so by 4 uur, half 5 se kant kan dit weer begin. Iemand sal net onder by die voordeur roep,  ‘Is julle hier?’ en met die trap opkom. 

In die aand se kant begin ons vuurmaak, en op die ingewing van die oomblik kan die besoekers sommer bly vir braai. 

Netso val ons ook ongenooid by ander in, dis hoe dit werk! En sou daar ‘n dag verbygaan wat niemand opdaag nie, verval ek in ‘n depressie. Wat gaan dan nou aan dat niemand kom kuier nie?

Struisbaai! Jou lekker ding!

Toortsie

Toortsie se Toeka Tokkel oor Eienaardig

In opdrag van Scrapydo.

As ek aan eieaardig dink, dan dink ek aan vreemd, amper snaaks. Anders. Die HAT sê: “Wat ‘n eie, besonderse aard of karakter het; vreemd, snaaks, buitengewoon, ongewoon.

Gister, toe ek stap met my hond, toe loop my gedagtes sommer oor hierdie woord. Ek het sterk gene gekry van ‘n paar eienaardighede in ons familie, vreemdhede, en ek het dit vir baie jare onderdruk. Wat ‘n bevryding om uiting te gee daaraan! 🙂 Dis baie vreemd vir ander mense, maar ek is gelukkig in my vel. God maak nie duplikate nie, Hy het ons elkeen uniek geskape, so elkeen van ons sal eienaardighede hê, goed wat eie aan onsself is, goed wat anders is as wat die trop van ons verwag.

My gevolgtrekking is dat dit juis sterk mense, mense wat gemaklik in hulle vel is, wat die moed het, die gutz het, om hulle uniekheid uit te leef, om ‘n tree weg van die trop te staan en te sê, dit is wie ek is en ek is gelukkig daarmee! Ja, die gemeenskap kyk jou dalk vreemd aan, brom onderlangs dat jy aandag soek, verwerp jou selfs omdat jy nie 100% inval by die trop nie, by wat húlle sê die mode is nie!

Vir sommige mense is dit eienaardig om gehekelde klere in al die kleure van die reënboog te dra. Vir ander is dit eienaardig om jou geloof uit te leef, wat nog te sê te erken dat jy in Jesus glo.  Vir party is dit eienaardig (eintlik aards, platvloers) om sonder grimering te loop, terwyl dit vir ander eienaardig is dat jy wel jouself mooi maak met grimering en haarkleursel. So verskil ons maar almal.

Ek glo dat ‘n mens jou uniekheid moet uitleef, solank jy nie ander daardeur benadeel nie. Die lewe gaan nie net om my en my belangstellings nie, ons moet ook ander mense in ag neem.

Die opdrag was: ‘n Eienaardige gebeurtenis. Op ‘n stadium het ek telkens gedroom van ‘n mannetjie wat my wil kwaad aandoen. Ek het een nag wakker geword  van my eie stem wat sê: “In die naam van Jesus Christus, gaan net weg!” Hy het my nie verder geteister in my drome nie en kort daarná ook nie meer in my lewe nie. Eienaardig, né?

Toortsie

Toortsie se Toeka Tokkel oor KOS!

In opdrag van Scrapydo.

Kos! Wat ‘n WONDERLIKE ding om oor te skryf!

Vir soveel jare is ons gekondisioneer om so REG te eet dat ons amper nie kos GENIET nie. Vir meer as 30 jaar het ek ‘n styd met my gewig gehad, en saam met dit dan ook ‘n stryd met kos. Vir meer as 50 jaar het ek probeer om ‘gebalanseerd’ te eet, net om vetter en vetter te word, meer selfbewus oor my lyf, ongemaklik te voel, te hoor as daar onderlangs onvleiende dinge gesê word oor vet mense, moes hoor uit die plaaswerkersvroue se monde: ‘Mevrou het darem nou dik geword.’ Skaam voel omdat ek alewig lus voel om iets te eet, wat is dan fout met my, is ek ‘n VRAAT? Hoekom hunker ek so na kos?

Kos is ‘n WONDERLIKE ding wat God vir ons gegee het om te geniet, voluit te geniet. Dis lekker om in die kombuis te vroetel (asseblief nie heeldag nie, ek is ‘n lui kok), dis heerlik as die geure jou kombuis en huis begin vul. Dis lekker om saam om ‘n braaivleisvuur te sit terwyl daar gebraai word, dis lekker om saam om ‘n tafel te sit en elke happie te geniet. Dis lekker om te gaan uiteet saam met familie en vriende. Kos is LEKKER. EET is lekker! En nee, dis geen skande om dit voluit te geniet nie!

Die probleem is wel dat soveel van ons nie weet waar om te stop nie, dit was vir jare ook mý probleem. Ek was kosverslaafd. Maar eintlik was dit nie kosverslaafd wat ek was nie, maar suikerverslaafd. Soos met enige verslawing het ek geen beheer daaroor gehad nie. Dit het meegebring dat ek altyd honger was, altyd lus was vir nog, altyd plek gehad het vir nog iets, selfs al het dit vir my gevoel my oë peul al uit. Ek kon net nie nee sê vir kos nie en het altyd ongemaklik gevoel tussen die gesondheidsguru’s wat so fyntjies eet. Wat is fout met my?

Daarom is ek só dankbaar vir Banting (LCHF) wat oor my pad gekom het. Danksy Banting kan ek my suikerverslawing in toom hou. Ek het steeds ‘n kosverslawing, ek wil steeds meer gereeld eet of knibbel as wat nodig is, maar dit maak nie meer saak nie, want omdat ek nie meer stysels of suikers inneem nie, is dit binne beheer! Is ek gesond! Voel en lyk ek goed! Kry ek komplimente, nie net oor my lyf nie, maar oor ek so gesond lyk.

Danksy Banting mag ek kos geniet in sy volheid en rykheid. Wat ‘n genade!

Toortsie

Toortsie by Finesse: Ek en die sosiale media

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie op die radio

Toortsie se Toeka Tokkel oor opgewonde, opwinding

In opdrag van Scrapydo.

Scrapydo skryf hoe opgewonde die kinders by haar skooltjie soggens is om mekaar te sien, om hulle stories vir mekaar te vertel. Kinderlike opgewondenheid is iets wat ek nog baie voel.

Ek is opgewonde as my kinders iets ouliks of groots of sommer net regkry. Dit hoef nie noodwendig groot te wees nie, soos toe my dogter se koor vir haar boetjies ‘Veels geluk’ sing en die lawwe, opgewonde gesiggies opneem. As my seun sy spilpunt vir my aansit, is ek opgewonde daaroor.  As ek mooi dinge van my kinders hoor, maak dit my opgewonde. Maar nie net my eie kinders nie, enige persoon wat iets regkry wat hulle opgewonde maak, maak my ook opgewonde.

‘n Nuwe baba,  of iemand wat tot bekering gekom het, maak my opgewonde. Soms maak dit my stil bly, soms wil ek jubel en juig. As een van die sendelinge wat ek ondersteun, vertel van ‘n deurbraak, is ek saam met hulle opgewonde.

Groot opwinding in my lewe is natuurlik om die wêreld vol te reis. Min ding is so opwindend soos die klank van ‘n koffer se wieletjies nie! Niks kan die borrel van die bloed in jou are beskryf as jy daar in Kaïro in die stad ry en die volgende oomblik troon die drie piramides bo alles uit nie, of as jy die aand moeg in Parys geland het, deur die strate ry en skielik staan die Eiffel massief en groot daar, meester oor die stad. Ek raak opgewonde as ek die fantastiese kunswerke in die groot, ou geboue sien in Europa, ek kan dit nie help nie, en om nié opgewonde te raak nie, is om ondankbaar te wees. Ek raak opgewonde as ons nie weet hoe die trem of die ondergrondse treine of die busstelsel werk nie en skielik kry ons dit reg en ons is op die trem/trein/bus, iewers heen op pad. Natuurwonders maak my opgewonde, soos die pienk mere in Australië, of die baie water by die Victoria Valle.

Reën maak my opgewonde. As dit goed gaan met ons land se boere, is ek bly.

Ek raak opgewonde as ek die gootheid van die Here ervaar: In die see, in die wind, in die wolke, in die stilte, in die woestyn. Ek raak opgewonde as ek in ‘n droë rivierloop te voet is en sit en kyk hoe twee swartrenosters verwoed voor my baklei, of op die rug van ‘n kameel langs die Rooi See.

Sef 3:17: “Die Here jou God is by jou. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Ek en die sosiale media

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie op die radio