Trudie

Hello, ek is Trudie. Ek hou nie van inmeng nie, ek gun elke ou sy spasie, as ek iets organiseer, is ek nogals lief om die helpers vryheid te gee om hulle eie inisiatief te neem. Eintlik het ek ‘n heel ander naam, maar noem my sommer Trudie.

Ek besef ons is almal verskillend. Wat die een as ‘n liefdesdaad beskou, sien die ander een as inmeng. Intrude. Noem my sommer Trudie. Trudie Intrude.

Want ja, ek sien myself regtig nie as die inmengerige soort nie, ek dink nie ek is heeldag en aldag in ander mense se spasie nie, ek neem ander mense in ag, tog sal mense oor tyd my hier en daar op ‘n ding kan wys waar ek ingemeng het. Trudie.

My ‘probleem’ is dat ek maklik ‘n ‘verontregte’ raaksien. Ek sien iemand raak wat seerkry. En omdat ek ‘n ‘insluitende’ mens is, eerder as ‘n ‘uitsluitende’ een, omdat ek eerder iemand wat eensaam of seer buite die kring staan, wil innooi in die kring, want wat vat dit nou régtig van jou om een ekstra persoon in te sluit, mag dit gebeur dat ek ‘inmeng’. Trudie.

Sê nou maar ons neem ‘n familiefoto en daar is ‘n nie-familielid wat saamkuier, sal ek sommer daardie persoon ook saamnooi om op die foto te kom, eerder as om te sê hy hoort nie saam nie. Trudie.

Of, hou ons kersfeesete en ek hoor van iemand wat alleen is, vra dit niks van my om daardie persoon in ons kring in te nooi nie. Trudie.

Onreg kan ek nie verduur nie. Word iemand te ná gekom, verg dit al my selfdissipline om níé iets te sê nie. Ek stap eerder saam met jou deur die modder as om op die rand te sit en te sien hoe jy verstik in die modder. Veral die modder sal dit as inmeng sien, want die modder wou jou verstik! Dalk sien jyself dit as inmeng want jy sal mos self regkom! Maar kán jy? Trudie.

Is daar ‘n olifant in die huis? Trudie is die een wat deur die olifant getrap word omdat sy hom aanspreek!

Dit bring my in die moeilikheid, maar dis heeltemal reg met my. Ek weet dat wanneer Trudie Intrude optree, dit altyd is uit liefde, met mense vir wie sy lief het en vir wie sy wil help.

Troetnis,

Trudsie!

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

2 thoughts on “Trudie

  1. Kan myself in baie van hierdie dinge insien. Haat onregverdigheid… en is geneig om die swakste se part te vat… en daarvoor te veg. Moes deur jare leer ek kannie net inloop en alles probeer regmaak nie. 😦 Moet spasie maak vir God se Gees om te werk. Ai, Trudie 😦

    Like

Gesels saam, asseblief!