Trudie

Hello, ek is Trudie. Ek hou nie van inmeng nie, ek gun elke ou sy spasie, as ek iets organiseer, is ek nogals lief om die helpers vryheid te gee om hulle eie inisiatief te neem. Eintlik het ek ‘n heel ander naam, maar noem my sommer Trudie.

Ek besef ons is almal verskillend. Wat die een as ‘n liefdesdaad beskou, sien die ander een as inmeng. Intrude. Noem my sommer Trudie. Trudie Intrude.

Want ja, ek sien myself regtig nie as die inmengerige soort nie, ek dink nie ek is heeldag en aldag in ander mense se spasie nie, ek neem ander mense in ag, tog sal mense oor tyd my hier en daar op ‘n ding kan wys waar ek ingemeng het. Trudie.

My ‘probleem’ is dat ek maklik ‘n ‘verontregte’ raaksien. Ek sien iemand raak wat seerkry. En omdat ek ‘n ‘insluitende’ mens is, eerder as ‘n ‘uitsluitende’ een, omdat ek eerder iemand wat eensaam of seer buite die kring staan, wil innooi in die kring, want wat vat dit nou régtig van jou om een ekstra persoon in te sluit, mag dit gebeur dat ek ‘inmeng’. Trudie.

Sê nou maar ons neem ‘n familiefoto en daar is ‘n nie-familielid wat saamkuier, sal ek sommer daardie persoon ook saamnooi om op die foto te kom, eerder as om te sê hy hoort nie saam nie. Trudie.

Of, hou ons kersfeesete en ek hoor van iemand wat alleen is, vra dit niks van my om daardie persoon in ons kring in te nooi nie. Trudie.

Onreg kan ek nie verduur nie. Word iemand te ná gekom, verg dit al my selfdissipline om níé iets te sê nie. Ek stap eerder saam met jou deur die modder as om op die rand te sit en te sien hoe jy verstik in die modder. Veral die modder sal dit as inmeng sien, want die modder wou jou verstik! Dalk sien jyself dit as inmeng want jy sal mos self regkom! Maar kán jy? Trudie.

Is daar ‘n olifant in die huis? Trudie is die een wat deur die olifant getrap word omdat sy hom aanspreek!

Dit bring my in die moeilikheid, maar dis heeltemal reg met my. Ek weet dat wanneer Trudie Intrude optree, dit altyd is uit liefde, met mense vir wie sy lief het en vir wie sy wil help.

Troetnis,

Trudsie!

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

Advertisements

Gertrude

Goeiemôre almal! O vandag lyk dit of dit ‘n lekker dag gaan wees. Ai, ek is bly! As dit so onweer is en dit reën en die wind waai is dit regtig nie lekker by die padwerke nie. En nou in die winter is dit nog erger. Die karre ry verby en spat ‘n mens nat en dis so bitter koud.

Maar vandag lyk dit of die son gaan skyn, dan het ek sommer moed vir die dag ook. In die winter is dit mos lekker hier in die Kaap as ons ‘n sonskyndag het, maar dis eintlik ‘n geheim wat ons nie vir die Transvalers vertel nie. Hulle kom mos gewoonlik in Desember as die Suid-Oos op sy beste waai. Súlke tye is dit NAG hier langs die pad, hoor!

My werk is om die voertuie te help beheer by die STOP/RY. Die meeste mense werk goed saam, maar sommiges! Sjoe! Mense kan ONGESKIK wees! En Ongeduldig! Genade, ons doen maar net ons werk, en die karre wat aan die ander kant wag, wil ook mos maar graag ry. Sjoe, nou die dag het hier amper ‘n GROOT fout gekom! Iewers was die kommunikasie nie reg tussen ons en die STOP/RY-stasie aan die ander kant nie en toe ons weer sien, toe kom daar karre van die ander kant af terwyl dit nog nie hulle beurt was nie! Gelukkig was daar nie ‘n ongeluk nie, dit kon ‘n lelike ding gewees het!

So ‘n dag kan lank raak hier langs die pad. Ons pak maar altyd vir ons kos en water in, maar soms is die dag net te lank. Ons waardeer dit altyd so baie as van die motoriste vir ons iets lekkers aangee, ons is mos ver van die winkels af, so ons kan nie gou hardloop en iets gaan koop as ons honger raak nie.

Ek verkies om dagskof te werk, dan is hier meer motors. Met nagskof is ek maar baie bang soms. Die meeste van die tyd gaan dit goed, maar mens kry orals kansvatters en as ons net so ‘n paar vroue hier langs die pad staan is dit regtig gevaarlik.

Ek is so dankbaar vir hierdie werk. Party mense maak asof dit sommer net so ‘n ou joppie is, maar dis ‘n werk met groot verantwoordelikheid, hier mag nie foute kom nie!

……………………………………………

100% verbeelding van Toortsie

Ursula

Ek hoor ou Toortsie is besig om te skryf van 26 Kaapse vroue wat sy uitdink. Ja, ek weet ek woon nie in die Kaap nie, maar soos ek haar ken sal sy totaal van mý vergeet! Ek, Ursula, haar Alter Ego, wat al haar dinge vir haar moet regtrek. Mensig, julle weet nie van die helfte van haar dinge nie. Ek hét al in die verlede my hart kom uitpraat hier, maar regtig, ek dink ek verdien baie meer krediet as wat sy gee. Ek moet nogals sê, ek hoor deesdae sy praat so af en toe ook darem iets goeds van my.

Hier kom mos ‘n troue aan en dis juis sulke tye wat ek weer sal bontstaan. Ek raak skoon gespanne. Met Toortsie weet ‘n mens mos nooit, ek dink sy verras haarself! Soos met haar kamtige boekskrywery. Regtig, as sy nie ‘n klomp mense gekry het wat haar gehelp het nie, wou ek nie die eindproduk sien nie, dit sou ‘n ramp gewees het! Intussen moet ék natuurlik die leisels help vashou.

Maar van die troue gepraat. So ‘n trouery van ‘n kind behels ook ‘n roksoekery. Die heel eerste keer, toe haar een seun getrou het, was my én haar maag later ontsteld. Gaan lees ‘n bietjie hoe het sy gesukkel om uiteindelik die regte uitrusting te kry en op die ou end het sy vir nóg 4 jaar haarself bekommer dat haar rok nie reg was nie! Weet julle dat sy glad een nag flou geval het oor die roksoekery? Sý sê natuurlik dit was van ‘n etery, maar ek en haar man weet baie beter! Gmf.

Met haar tweede seun se troue het dit baie makliker gegaan, tog hoor ek sy sê dat, 17 kg later, dit nog steeds nie reg sit nie!

Nou ja, nou gaan haar dogter trou en ek hoor sy het gróót planne vir ‘n rok. Maar ek wonder darem. So ‘n roksoekery is altyd ‘n besigheid. En weet julle wat? Ek vang haar nou die dag dat sy op die internet sit en rondkrap! ‘N MENS KAN NIE VIR JOU DOGTER SE TROUE JOU OUTFIT OOR DIE INTERNET BESTEL NIE! Sy kry toe wat sy soek!, maar genadiglik is dit in Amerika en daardie plek lewer nie in SA af nie. (Sug van verligting!) Maar die ergste het julle nog nie gehoor nie. Ek wil HISTERIES RAAK.

Gistermiddag raak sy verveeld en begin weer krap en krap en krap, sy en haar vriendin wat ook ‘n Ursula of twee nodig het … en … sy … bestel … ‘n … rok … !!!

Julle! Hier lê ‘n rowwe tyd vir my voor! Ek dink ek sal hulp moet loop soek iewers! Dan praat ek nie eers van die trougeskenk waarmee sy besig is nie! Alweer te groot gehap, eat anders kan jy verwag van haar? Maar as sy my vang dat ek vir julle vertel, skop sy my sweerlik uit, en dít kan ons nie waag nie! Wie gaan dán die leisels vashou?

Ursula

Toortsie by Finesse: Verrassing!

Toortsie se faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekpage

Rhona

Rhona laat my baie aan Raponsel dink. Kom ek vertel julle die Raponsel verhaal soos ek dit sien, dalk verstaan julle vir Rhona beter.

Raponsel was ‘n prinses met ‘n verskriklike mooi geaardheid. Almal was baie lief vir haar en wou graag by haar wees. Daar was egter ‘n baie groot probleem: Sy het in die toring van die paleis gebly. Haar woonplek was hoog bo in die toring. Daarvandaan kon sy ver uitkyk oor die mooiste landerye. Sy het vir ure sit en kyk wat almal doen. Sy het gewens sy kon deel wees van die geselligheid en werkery, maar sy het net nie geweet hoe om by hulle uit te kom nie.

Daar was net een manier om by haar uit te kom: Sy moes haar lang hare laat afsak deur die venster en dan moes die kuiergaste daarteen opklim. Dit het haar baie seergemaak en hoe ouer sy geword het, hoe minder het sy kans gesien om haar hare te laat sak.

Dit het meegebring dat sy al hoe meer in haarself gekeer geraak het. Sy het al hoe minder van mense gehou en het dit al hoe meer verwens as mense wou kom kuier, sy het net te seer gekry.

Sy het al hoe meer kieskeurig geraak oor wie wel by haar mag kuier en sou enige persoon slegs een keer optree op ‘n manier waarvan sy nie hou nie, het sy net nie weer haar hare laat sak vir daardie persoon nie.

Nou verstaan julle vir Rhona. Met tyd het sy die mure om haar net hoër en hoër gebou, dit het onmoontlik geraak om haar te bereik. Sy het totaal vereensaam omdat haar binnekring net kleiner en kleiner geword het.

Ek wens ek kon die arme Rhona help! Het julle dalk raad?

Toortsie

Produk van Toortsie se verbeelding.

Ragel

Ragel is die dogter van oom Koos en tant Ella. Hulle woon in ‘n klein, armoedige huisie in Langstraat in die Kaap. Ragel se pa, oom Koos, is ‘n wielmaker, wat koetswiele maak. Hy is seker die beste wielmaker in die Kaap. ‘n Mens sal hom altyd in sy groot waenhuis kry, besig met koetswiele. Tant Ella is ‘n naaldwerkster. Al die jare het sy nog haar geldjie gemaak met klere wat sy vir mense gemaak het. Hulle is maar arm aan goed wat geld kan koop, maar geestelik is hulle baie ryk. Hulle is Christene.

Ragel moes al op ‘n baie vroeë ouderdom haar ma met die naaldwerk begin help het. Sodra haar lees- en telwerkies klaar was, moes sy help ryg, of knope aanwerk. Soos sy ouer geword het, moes sy ook met die strykwerk help. Dit was vir haar baie lekker en hoe vaardiger sy geraak het, hoe meer het haar ma vir haar die geleentheid gegee om an die fyner dinge aan die klere te maak.

Ragel het ‘n besonderse talent. Sy is besig om groot naam te maak onder die Kaapse vroue, veral hulle wat daarvan hou om iets besonders aan te trek. Wanneer Ragel ‘n tabbert ontwerp en maak, kan jy maar weet daar is iets besonders daaraan, iets anders, iets wat nie alledaags is nie. Soms ‘n bietjie gewaagd, soms net ‘n verandering aan die neklyn, of die kant wat sy op ‘n ander manier vaswerk. Al hoe meer mense kom na Ragel vir tabberts vir spesiale geleenthede, soos balrokke of trourokke. Dit raak al hoe meer prestige om te kan sê Ragel het jou rok gemaak.  Sy is vol bespreek, ‘n mens moet ‘n hele ruk voor die tyd al met haar ‘n afspraak maak as jy net sou dink dat sy jou rok sal maak.

Ragel het ‘n blink toekoms voor haar, dis verseker.

………………………………………………….

Suiwer verbeelding van Toortsie

Toortsie by Finesse: Wanneer God Homself herhaal