In tye van erge trauma

In tye van erge trauma weet ek nie watter kant toe nie. Ek wil net op ‘n hopie lê. My hele lyf pyn. Ek is angstig. My hart klop. Die een oomblik slaan sweet op my lyf uit, die volgende oomblik bibber ek van die koue. Om te werk is vir my moeilik, inspanning. Ek wil huil.

In tye van erge trauma roep  ek tot my God, ek weet Hy is die enigste wat uitkoms kan gee. Ek doen alles wat ek kan, maak foute, sê verkeerde dinge. Tree verkeerd op. Vra vir vriende om te bid. Praat dieselfde storie oor en oor, want deur te praat, werk ek hierdeur.

In erge trauma kan dit gebeur dat ek nie meer weet wát om te bid nie, het ek nie meer woorde nie, is selfs praat met God vir my ‘n inspanning.

In erge trauma voel dit soms of ek heeltemal kop gaan verloor. Op hierdie ouderdom wéét ek daar sal weer ‘n anderkant van die storm kom, tye wat dit sal beter gaan, tog is ek bang vir dit wat ek gaan verloor.

In tye van erge spanning help dit vir my  om buite te kom. Buite my huis, buite in die natuur. Dit help my as ek gaan stap, selfs al is dit swaar. Om sulke tye langs die see te kan stap help baie, veral as ek sommer ‘n rukkie op ‘n bankie kan sit en net na die see staar. Dit help my om in ‘n bos te kan stap waar ek net bome sien, niks meer nie, waar ek sommer net op ‘n boomstomp kan sit en dink. Dit help as ek sommer net plat op die gras kan lê met toe oë. So ‘n bietjie in die buitelug help my om ‘n bietjie ontslae te raak van die opgekropte energie, dit gee my moed vir die volgende een tree.

In erge trauma besef ek: Geen storm wil ek tegemoed gaan sonder my Here nie. Geen. Dankie vir ‘n God wie se hand ek kan vashou.

In tye van erge trauma skryf jy hierdie dinge neer, maar publiseer dit eers heelwat later wanneer jy weer die lewe in die oë kan kyk.

Toortsie

Toortsie se Faceboekpage

15 thoughts on “In tye van erge trauma

  1. In tye van erge trauma help dit om te weet God gee krag na kruis, envom hierdie wete vas te hou en te herhaal en te herhaal. Al is dit hoe swaar, ons kom daardeur saam met ons Vader wat ons krag gee. Sterkte.

    Like

      1. en die lewe gaan voort, sleep jou deur die trauma, maar as jy Sy hand vashou, kom jy op ‘n dag op ‘n plek waar jy kan se: ek is daardeur, dis verby….tot die volgende trauma natuurlik tref! Maar so is die lewe. Ek is bly dit gaan beter.

        Like

  2. Jy het al vêr pad gekom. Dit is soos Paulus sê wanneer hy swak is is Jesus sterk in hom. Met die terugkyk weet jy net dis nie jy wat jouself daardeur gesleep het nie, maar God se sterk hand, en groot genade.

    Like

  3. Snaaks, ek vlug ook weg van mense af en reguit na buite in die natuur wanneer my gemoed begin oorkook. Selfs wanneer die probleme opgelos en agter die rug is, voel ek nog steeds die vrede en verligting van die gemoed wat ek ervaar het.

    Liked by 1 person

  4. Dis vreeslik mooi geskryf, ek kan sooo hiermee identifiseer. So het elkeen van ons ons eie manier om deur ‘n “ding” te kom. Ek het ook nou al besef dat ek my huil moet huil, tot dit voel of ek gaan ontwater, want as dit eers klaar is, voel ek ligter. En ‘n paar dae later, as mense eers daarmee ge”deal” het, is dit nie so erg om vir die wereld te vertel nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!