In tye van erge trauma

In tye van erge trauma weet ek nie watter kant toe nie. Ek wil net op ‘n hopie lê. My hele lyf pyn. Ek is angstig. My hart klop. Die een oomblik slaan sweet op my lyf uit, die volgende oomblik bibber ek van die koue. Om te werk is vir my moeilik, inspanning. Ek wil huil.

In tye van erge trauma roep  ek tot my God, ek weet Hy is die enigste wat uitkoms kan gee. Ek doen alles wat ek kan, maak foute, sê verkeerde dinge. Tree verkeerd op. Vra vir vriende om te bid. Praat dieselfde storie oor en oor, want deur te praat, werk ek hierdeur.

In erge trauma kan dit gebeur dat ek nie meer weet wát om te bid nie, het ek nie meer woorde nie, is selfs praat met God vir my ‘n inspanning.

In erge trauma voel dit soms of ek heeltemal kop gaan verloor. Op hierdie ouderdom wéét ek daar sal weer ‘n anderkant van die storm kom, tye wat dit sal beter gaan, tog is ek bang vir dit wat ek gaan verloor.

In tye van erge spanning help dit vir my  om buite te kom. Buite my huis, buite in die natuur. Dit help my as ek gaan stap, selfs al is dit swaar. Om sulke tye langs die see te kan stap help baie, veral as ek sommer ‘n rukkie op ‘n bankie kan sit en net na die see staar. Dit help my om in ‘n bos te kan stap waar ek net bome sien, niks meer nie, waar ek sommer net op ‘n boomstomp kan sit en dink. Dit help as ek sommer net plat op die gras kan lê met toe oë. So ‘n bietjie in die buitelug help my om ‘n bietjie ontslae te raak van die opgekropte energie, dit gee my moed vir die volgende een tree.

In erge trauma besef ek: Geen storm wil ek tegemoed gaan sonder my Here nie. Geen. Dankie vir ‘n God wie se hand ek kan vashou.

In tye van erge trauma skryf jy hierdie dinge neer, maar publiseer dit eers heelwat later wanneer jy weer die lewe in die oë kan kyk.

Toortsie

Toortsie se Faceboekpage