Rhona

Rhona laat my baie aan Raponsel dink. Kom ek vertel julle die Raponsel verhaal soos ek dit sien, dalk verstaan julle vir Rhona beter.

Raponsel was ‘n prinses met ‘n verskriklike mooi geaardheid. Almal was baie lief vir haar en wou graag by haar wees. Daar was egter ‘n baie groot probleem: Sy het in die toring van die paleis gebly. Haar woonplek was hoog bo in die toring. Daarvandaan kon sy ver uitkyk oor die mooiste landerye. Sy het vir ure sit en kyk wat almal doen. Sy het gewens sy kon deel wees van die geselligheid en werkery, maar sy het net nie geweet hoe om by hulle uit te kom nie.

Daar was net een manier om by haar uit te kom: Sy moes haar lang hare laat afsak deur die venster en dan moes die kuiergaste daarteen opklim. Dit het haar baie seergemaak en hoe ouer sy geword het, hoe minder het sy kans gesien om haar hare te laat sak.

Dit het meegebring dat sy al hoe meer in haarself gekeer geraak het. Sy het al hoe minder van mense gehou en het dit al hoe meer verwens as mense wou kom kuier, sy het net te seer gekry.

Sy het al hoe meer kieskeurig geraak oor wie wel by haar mag kuier en sou enige persoon slegs een keer optree op ‘n manier waarvan sy nie hou nie, het sy net nie weer haar hare laat sak vir daardie persoon nie.

Nou verstaan julle vir Rhona. Met tyd het sy die mure om haar net hoër en hoër gebou, dit het onmoontlik geraak om haar te bereik. Sy het totaal vereensaam omdat haar binnekring net kleiner en kleiner geword het.

Ek wens ek kon die arme Rhona help! Het julle dalk raad?

Toortsie

Produk van Toortsie se verbeelding.

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in 26 Kaapse vroue. Bookmark the permalink.

4 Responses to Rhona

  1. Die mure was dus nie meer op getrap nie want sy het nie haar hare enigsins laat sak nie. Daarom het die mure begin groen raak. Rangplante het daarop gegroei siende dat niemand daar was om die bloeisels af te trap nie. Met tyd was die vergroeisels so dig dat sy daarteen kon op en af soos sy wou. Seer en isolasie het toe vir haar baie nuwe geleenthede en uitdagings voort gebring. Daarsonder sou sy nooit haar eie roete heen gehad het nie. Sy moet nou net besluit. “Klim ek uit of bly ek in die donker stilte.”

    Like

  2. Kameel sê:

    Moeilik as sy toegelaat het dat die mure om haar, haar heeltemal afsny van die buitewêreld. Maar nie onmoontlik nie. Daar is ‘n Herder wat haar ontsettend lief het, en hy weet presies hoe om haar hart te verower. Hy gaan nie deur die venster klim en haar seermaak nie. Nee, hy gaan by die deur klop en met sy pragtige stem haar roep; “Maak vir my die deur oop my geliefde.” Rhona mag haar ore toedruk en glo dat sy nie die sleutel vir daardie deur het nie, maar sy sal nie vir lank daardie stem vol liefde kan ignoreer nie. Op ‘n dag staan sy op en steek haar hand huiwerig uit, sy vat saggies aan die deur sonder sleutel. Haar hart klop in haar keel. Alhoewel sy hom nie kan sien nie ruik sy die lieflike geur van sy teenwoordigheid, en sy begin smag daarna om sy gesig te sien. Maar dan onthou sy die seer en dat sy nie ‘n sleutel het nie, en gaan sit weer in haar hoekie. Maar sy besef dat die mure om haar hart besig is om te kraak. Sy begin fyn luister vir die stem wat so vol liefde geroep het, “sê nou hy roep nooit weer nie!!!” Trane begin oor Rhona se wange loop. Maar dan hoor sy weer daardie geliefde stem. Sy hardloop deur toe; tot haar verbasing sien sy ‘n sleutel in die deur. Sy was al die jare te blind om dit raak te sien. Sy sluit die deur oop en werp haar in die Herder se wagtende arms. Hy druk haar styf teen sy bors vas en met oë vol liefde glimlag hy vir haar. In haar tyd van seer het Rhona nie veel aandag aan haar versorging gegee nie, en skaam wonder sy meteens of sy ooit aanvaarbaar geklee is vir die Herder met sy voorkoms vol majesteit. Sy kyk af en tot haar verbasing sien sy dat hy sy eie pragtige spierwit kleed oor haar gehang het, en dat sy soos ‘n prinses lyk. Sy neem sy stewige hand en laat toe dat hy haar uitlei na waar groen weivelde en waterstrome wag. Rhona voel so gelukkig, en haar hart so lig en dan besef sy dat sy geen wrok meer koester teenoor die mense wat sy geglo het daarop uit was om haar seer te maak nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s