Salomo

 

Blog van A-Z

Vanwaar hy op sy troon sit hou Salomo die twee vroue voor hom dop. Hulle buig laag voor hom, en kom dan regop. Die vrou aan sy linkerkant se oë is dikgeswel, dit is duidelik dat sy gehuil het. Soos hy van een van sy amptenare verstaan het is albei prostitute. Hy knik sy kop as teken dat hulle mag praat, en dit is dan ook die een aan sy linkerkant wat met gevoel begin praat, en kort-kort sluk aan die trane wat in haar opwel. “U Majesteit, ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek ‘n kind in die wêreld gebring het. Drie dae daarna het sy ook ‘n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar. Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê. Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer. Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk is dit nie my baba nie.” Voordat sy verder kan praat val die ander vrou haar in die rede. Haar geelbruin oë blits toe sy sê “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!” Die trane wat sy tot dusvêr gesukkel het om in te hou begin vrylik oor die eerste vrou se wange vloei. “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne,” snik sy. Niks ontgaan Salomo se oë terwyl hy na die twee se gestryery luister nie, en met sy vermoë hom van God gegee om te kan onderskei, is hy seker hy weet wie die ma is. Hy besluit egter om nie dadelik ‘n uitspraak te lewer nie, maar eers die twee vroue deur ‘n toets te sit. “Bring vir my ‘n swaard!” beveel hy. Mense kyk vraend na mekaar; ‘n ongemaklike stilte vul die troonsaal. Een van die wagte treë nader met ‘n swaard in sy hand. Salomo wys na waar een van sy amptenare met die baba in sy arms staan. “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ‘n helfte,” Die troonsaal kom in beroering. Asems word hoorbaar ingetrek, en onderlangse gemompel word gehoor. ‘n Rou kreet weerklink deur die vertrek, en met haar geelbruin oë wydgesper, en arms smekend na die kind toe uitgestrek, werp die vrou haarself op die grond neer. “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom net nie doodmaak nie,” soebat sy. Met die trane van vroeër skoon vergete staan die ander vrou nader, “As ek hom nie kan kry nie, kry jy hom ook nie,” sê sy smalend. As teken dat die wag moet stop hou Salomo sy hand omhoog, “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dāār, sy is die ma!” en hy wys na die vrou op die grond. Die troonsaal kom in beroering.  Met gretige arms vat die vrou die baba, en druk hom aan haar bors.  Dan kyk sy met dankbaarheid na Salomo wat die gebeure met ‘n glimlag dophou.  Kort voor lank het die hele Israel gehoor van diè uitspraak wat Salomo gelewer het, en hulle het hoë agting vir hom as hulle koning gekry.

15 thoughts on “Salomo

    1. Sê ek ook. Nou kom die wysheid eers met die grysheid. My dogter sê nou die aand oumense het waarde, want hulle kan vir jou die pad na wysheid aanwys. Sy wou wat gee om nou by haar ouma en oupa te hoor waste raad hulle vir haar sal gee oor die lewe.

      Like

  1. Kameel hierdie kon net so wel deel van Toortsie se 26 vroue uitdaging gewees het. Indien dit vanuit die perspektief van die 2 vroue geskryf word is dit 2 (verskillende) stories. Die een storie kan die slegte motiewe en selfsug van die een wat wil he die baba moet sterf eerstehands weergee en die ander storie die tragedie dat haar kind wat gaan sterf, maar ook die skok hoe die verteenwoordiger van die God van liefde – die Koning – so ‘n besluit kan neem.

    Like

    1. Dankie seegogga. Sou wonderlik gewees het was ons vroeg-vroeg in die lewe met wysheid bedeeld!! Dis altyd vir my jammer om te dink dat hy nie die wysheid om sy koninkryk te regeer in sy persoonlike lewe toegepas het nie….. en deur sy toedoen, Juda van Israel afgeskeur is. Mooi dag vir jou!!!

      Liked by 1 person

  2. Uitstekend geskryf. Jy het my geroer van die eerste sin af. Al het ek die punchline geken was dit ‘n plesier om dit met jou woorde te kon sien. Baie dankie. Ek gaan dit moreoggend vir my kollegas lees by die opening.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!