Ussia

Blog van A-Z

Ussia, koning van Juda se oë dwaal met welbehae oor sy wingerde. Op die ingewing van die oomblik buk hy, tel ‘n handvol grond op en laat dit stadig deur sy vingers gly. Hy glimlag; hy is lief vir die grond, en is trots op sy lande, wingerde en kleinvee. “Pluk vir my daardie tros druiwe,” sê hy, en wys na ‘n spesifieke tros druiwe aan die prieël. Daar word onmiddelik aan sy versoek voldoen. Die tros druiwe word in sy hande gelê; hy byt deur die eerste korrel en die soet smaak trek behaaglik deur hom. Saam met die soet smaak kom daar ook ‘n gevoel van genoegdoening. “Ek het voorwaar goed vir myself gedoen,” dink hy trots. Hy was maar net sestien toe hy koning geword het. Hy is dankbaar vir Sagaria wat insig in die openbarings van God gehad het, en hom in sy beginjare in die wil van God gelei het. Sy veldtogte teen die Filistyne, Arabiere, en Meüniete was almal suksesvol, en sy naam het so in mag toegeneem dat hy tot in Egipte bekend geword het. ‘n Bediende bring ‘n nat lap, en vee Urria se taai hande daarmee af. Urria draai na die amptenare wat saam met hom gekom het om sy landerye en wingerde te inspekteer. “Julle kan net hier vir my wag,” sê hy en met sy hande agter sy rug gevou stap hy weg. Sy gedagtes bly draai om dit wat hy deur die jare bereik het, sy groot leërmag met kragtige vegters wie hy met helms, harnasse, pyle, boë, en klippe vir hulle slingervelle toegerus het. Die stede en forte wat hy laat bou het. “Tot die Ammoniete dra vir my geskenke aan,” prewel hy. Die saadjie van hoogmoed wat al vir jare in Urria se binneste lê en ontkiem, breek deur, “Ek is voorwaar ‘n magtige man!!” sê hy hardop, “kyk wat het ek alles vermag.”  Terug by die paleis kan hy nie tot rus kom nie. Die besef van sy eie magtigheid het iets in hom wakker gemaak. Hy is koning, en ‘n goeie een daarby; hy het nog nooit soos sy voorvaders offerhande en wierookoffers aan ander gode gebring nie. Nee, hy dien nog al die jare die lewende God van Israel, waarom kan hy nie ook aan God wierookoffers brand nie? Die volgende oggend gaan hy tempel toe, en stap vasberade en met groot waardigheid verby die priesters wat besig is om diens te doen. Hulle kyk verbaas hoe hy die Heiligdom waar net priesters mag ingaan, betreë. Hoëpriester Asarja, met tagtig priestersoldate volg hom haastig na binne en is net betyds om te sien hoe hy voor die wierookaltaar met die wierookpan in sy hand staan. “Dit kom u nie toe om vir die Here wierookoffers te bring nie, Ussia!” roep Asarja ontsteld uit. Hy gaan staan by Ussia en kyk hom direk in die oë. “Om wierookoffers te bring, is die voorreg van die priesters, die nageslag van Aāron. Hulle is daartoe gewy. Gaan liewer uit die heiligdom uit. U magtig u dinge aan, en u sal daarvoor geen waardering kry van God die Here nie.” Diè woorde het egter geen impak op Ussia nie, inteendeel hy is briesend kwaad. Die vermetelheid om hom wat Ussia is te probeer keer om wierookoffers aan God te bring!! Hy begin teen hulle uitvaar, maar stop toe hy vrees in hulle oë sien wat niks met sy slegsê woorde te doen het nie. Die manier waarop hulle na hom staar laat hom senuweeagtig voel. “Melaatsheid,” roep Asarja uit, en Ussia word sonder teëstribbeling by die heiligdom uitgedrywe. Ussia is haastig om by die veiligheid van die paleis terug te kom. Hy vat aan sy voorkop waar die melaatsheid uitgebreek het, maar trek sy hand weer vinnig terug. Miskien is dit nie eers melaatsheid nie, dink hy hoopvol. Op daardie oomblik het hy nie besef hoe groot die impak was van die ramp waarmee God hom getref het nie. Melaats, en verban uit die huis van die Here moes hy vir die res van sy lewe in afsondering gaan woon. Sy seun Jotam het die paleis bestuur, en oor die mense van die land regeer.

Advertisements

Salomo

 

Blog van A-Z

Vanwaar hy op sy troon sit hou Salomo die twee vroue voor hom dop. Hulle buig laag voor hom, en kom dan regop. Die vrou aan sy linkerkant se oë is dikgeswel, dit is duidelik dat sy gehuil het. Soos hy van een van sy amptenare verstaan het is albei prostitute. Hy knik sy kop as teken dat hulle mag praat, en dit is dan ook die een aan sy linkerkant wat met gevoel begin praat, en kort-kort sluk aan die trane wat in haar opwel. “U Majesteit, ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek ‘n kind in die wêreld gebring het. Drie dae daarna het sy ook ‘n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar. Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê. Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer. Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk is dit nie my baba nie.” Voordat sy verder kan praat val die ander vrou haar in die rede. Haar geelbruin oë blits toe sy sê “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!” Die trane wat sy tot dusvêr gesukkel het om in te hou begin vrylik oor die eerste vrou se wange vloei. “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne,” snik sy. Niks ontgaan Salomo se oë terwyl hy na die twee se gestryery luister nie, en met sy vermoë hom van God gegee om te kan onderskei, is hy seker hy weet wie die ma is. Hy besluit egter om nie dadelik ‘n uitspraak te lewer nie, maar eers die twee vroue deur ‘n toets te sit. “Bring vir my ‘n swaard!” beveel hy. Mense kyk vraend na mekaar; ‘n ongemaklike stilte vul die troonsaal. Een van die wagte treë nader met ‘n swaard in sy hand. Salomo wys na waar een van sy amptenare met die baba in sy arms staan. “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ‘n helfte,” Die troonsaal kom in beroering. Asems word hoorbaar ingetrek, en onderlangse gemompel word gehoor. ‘n Rou kreet weerklink deur die vertrek, en met haar geelbruin oë wydgesper, en arms smekend na die kind toe uitgestrek, werp die vrou haarself op die grond neer. “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom net nie doodmaak nie,” soebat sy. Met die trane van vroeër skoon vergete staan die ander vrou nader, “As ek hom nie kan kry nie, kry jy hom ook nie,” sê sy smalend. As teken dat die wag moet stop hou Salomo sy hand omhoog, “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dāār, sy is die ma!” en hy wys na die vrou op die grond. Die troonsaal kom in beroering.  Met gretige arms vat die vrou die baba, en druk hom aan haar bors.  Dan kyk sy met dankbaarheid na Salomo wat die gebeure met ‘n glimlag dophou.  Kort voor lank het die hele Israel gehoor van diè uitspraak wat Salomo gelewer het, en hulle het hoë agting vir hom as hulle koning gekry.

P, Q, R

Blog van A-Z

Petrus

Môre word Petrus voor die Joodse volk gebring om verhoor te word. Nadat Herodus vir Jakobus – een van die seuns van die donder, soos Jesus hom en sy broer op ‘n keer genoem het – met ‘n swaard laat onthoof, en gesien het hoeveel byval dit by die Jode gevind het, het hy Petrus gevange laat neem, en opdrag gegee dat hy deur vier afdelings van vier soldate elk bewaak moet word. Petrus heel bewus daarvan dat hy heel moontlik die volgende dag tot die dood veroordeel gaan word, lê rustig tussen twee soldate en slaap. Sy lewe behoort nie aan homself nie maar aan Jesus, en nie Herodus of die Joodse volk nie, maar God is in beheer. Die donker sel word meteens deur ‘n helder lig verlig, maar dit wek Petrus nie uit sy diep slaap nie. Iemand vat aan sy sy, deur die slaap maak hy sy oë oop, en sien ‘n engel voor hom staan. “Staan gou op,” sê die engel vir hom. Die boeie val van Petrus se hande af, maar hy beweeg nie. “Maak jou gordel vas, en trek jou skoene aan,” sê die engel. Soos ‘n outomaat gehoorsaam Petrus hom, en eers toe die engel vir hom sê om sy bokleed ook aan trek doen hy dit. “Volg my,” sê die engel. Soos ‘n slaapwandelaar stap Petrus agter die engel aan. Hulle stap verby die eerste, en die tweede wag sonder enige insidente, en toe hulle by die ysterdeur kom wat na die stad toe lei, gaan diè vanself oop. Met vinnige treë stap hulle straat af, en dan vou donkerte Petrus toe; hy is alleen – die engel het verdwyn. Petrus gaan staan en kyk verwonderd om hom rond. Daar waai ‘n ligte windjie, maar verder is alles stil, die stad slaap. Tot op hierdie oomblik het hy geglo hy sien ‘n gesig, en die gebeure van die laaste paar minute was nie werklik nie, maar nou besef hy dat die Here sy engel gestuur het om hom te bevry. Hy verspeel nie tyd nie, maar stap vinnig deur die nou straatjies na Maria – Johannes se ma – se huis toe. Dat daar gelowiges daar sal wees wat besig is om vir hom te bid, betwyfel hy glad nie. By die wit huisie aangekom, klop hy dringend aan die voordeur. “Wie is daar?” vra ‘n vrouestem van binne. “Dit is ek Petrus…” maar voordat hy verder kan praat hoor hy haar voetstappe wegbeweeg. Stemme praat deurmekaar, en dan roep iemand uit “Jy is mal!” Petrus klop weer, hierdie keer nog harder. Voetstappe kom nader, “Dit is sy gees,” sê iemand, en die deur word op ‘n skrefie oopgemaak. Petrus druk die deur wyer oop, en sien ‘n klomp verbaasde gesigte na hom staar. Met sy hand beduie hy vir hulle om stil te bly, en vertel hulle vinnig hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. “Vertel dit vir Jakobus, (Jesus se broer) en vir die ander gelowiges ook, maar ek sal nou moet vertrek.” Hy groet hulle, en stap die nag in.

Q

Geen verwysing.

Rispa

Haar trane het weke gelede al opgedroog. Aan die begin het sy geglo sy sal nooit weer ophou huil nie, maar trane het plek gemaak vir ‘n rou seer in haar binneste wat besig is om haar van binne te verteer. Vir weke sit sy nou al en kyk hoe die sewe liggame wat voor Gibea van Saul, opgehang is in die warm son verrot, en laat nie toe dat roofvoëls bedags, of roofdiere in die nag aan die lyke vreet nie. Twee van die liggame is diè van Armoni, en Mefiboset, haar twee seuns wat sy as koning Saul se byvrou, vir hom in die wêreld gebring het. Die ander vyf lyke is Saul se kleinseuns wat sy oudste dogter Merab by Adriël gehad het. Rispa hou die roofvoëls wat in die lug ronddraai fyn dop, wanneer hulle te naby kom spring sy op en verjaag hulle, dan gaan sit sy weer op die rots waaroor sy rouklere oopgegooi het. Vir haar twee seuns om te sterf soos hulle gesterf het was hartverskeurend; sy het geen beheer gehad oor die bevel van koning Dawid dat haar seuns, en Merab se vyf seuns aan die Gibeoniete uitgelewer moet word om doodgemaak, en in Gibea opgehang te word nie. Wat sy wel kon verhoed is dat haar seuns se liggame verskeur en opgevreet word. Dit word as die mees skandelik en vernederendste dood gesien, en sy wat Rispa is gaan haar seuns die vernedering spaar. Nee, almal moet sien dat haar seuns nie vir hulle eie sonde nie, maar vir diè van Saul hier hang. Sy sal nie rus voordat hulle ordentlik begrawe word nie. ‘n Galbitter smaak kom sit in haar mond toe sy aan Saul dink. Hoe geeërd het sy nie gevoel toe hy haar skoonheid raakgesien, en haar as byvrou geneem het nie. Die twee seuns wat sy vir hom in die wêreld gebring het, het haar beker van geluk laat oorloop, en sy het al die liefde in haar hart op hulle uitgestort. Min het sy toe geweet hoeveel smart daar vir haar in haar ouderdom wag. Rispa laat sak haar kop in haar hande, “Saul,” prewel sy “alles hierdie is jou skuld, jou skuld, die nagevolge van jou skewe dade. Hoekom het jy die verbond wat Israel met die Gideoniete gesluit het verbreek, en van hulle doodgemaak?” Rispa verwag geen antwoord nie; Saul is al jare gelede oorlede en vergelding vir sy misdade het nou op sy nageslag neergekom. As hierdie driejaar lange droogte breek, sal Israel weet God het vergewe. Rispa rig haar gesig na bo en prewel ‘n woordelose gebed. So het sy oor die liggame bly waak totdat net die bene oorgebly het. Koning Dawid het daarvan gehoor; Hy het Saul, en Jonatan se bene van Gilead laat haal, en saam met die bene van Rispa, en Merab se seuns na Sela in Benjamin laat bring, waar hulle in Kis, Saul se pa se graf begrawe is.

 

M, N, O

Blog van A-Z

Mikal

Onbewus van haar omgewing stap Mikal rusteloos op die paleisdak rond. Daar is ‘n onvergenoegde trek om haar mond, terwyl haar gedagtes soos ‘n maalkolk in haar woel. Sy dink terug aan Dawid, die aantreklike jongman van Betlehem wat oornag ‘n held geword het toe hy Goliat verslaan het. Haar pa, koning Saul, het hom eers omhels en in die paleis laat bly, maar hom begin wantrou, en weggestuur slagveld toe deur hom hoof van ‘n leërmag te maak. Sy was so verlief of Dawid, en het in stilte gehoop dat haar pa haar as vrou aan Dawid sou gee. Maar die hoop het begin kwyn toe Dawid so geliefd in Israel en Juda geword het dat haar pa uit jaloesie, Dawid se dood gesoek het. Sy was in ekstase die dag toe sy hoor haar pa het haar aan Dawid belowe as diè vir hom ‘n honderd Filistyne se voorhuide as bruidsprys sou bring. Alhoewel haar pa se wispelturigheid soos ‘n swaard oor Dawid se kop gehang het, was hulle dolgelukkig na hulle huwelik. Dit was wonderlik om hom met soveel oorgawe op sy lier te hoor speel, terwyl hy in sy mooi stem psalms tot eer van God sing. Sy het nie sy liefde vir God gedeel, of verstaan nie; maar dit het haar nie gekeer om Dawid se elke beweging dop te hou, en sy nabyheid in te drink nie. En toe in een dag verbrokkel alles. Dawid het uitasem by die huis aangekom. Hy was by haar pa om vir hom op sy lier te speel; koning Saul het boosaardig geraak, en probeer om Dawid met sy spies teen die muur vas te pen. Dawid het huistoe gevlug; haar pa het manne agterna gestuur om die huis te bewaak, en daar is opdrag gegee om Dawid die volgende oggend dood te maak. Sy was vreesbevange en hartseer, maar het Dawid oorreed om te vlug. Daardie nag het sy hom deur ‘n venster laat afsak, en in sy plek op die bed ‘n afgodsbeeld, wat sy in ‘n kombers toegevou het, neergelê. Vir maande daarna het sy oor hom getreur, maar toe haar pa haar as vrou aan Palti gegee, het sy dit gedweë aanvaar. Deur die jare het Dawid se beeld verdof en hulle saamwees het vervaag tot ‘n vae herhindering. Na haar pa se dood is Dawid as koning oor Juda gekroon. Die nuus het vir haar niks beteken nie, maar dinge het verander toe Abner – die bevelvoerder van Israel se leër – sewe jaar later by haar opdaag, met die bevel dat sy saam met hom moet vertrek. Hy was oppad om met Dawid te gaan onderhandel om die koningskap oor Israel te aanvaar; Dawid was egter net bereid om te onderhandel as sy wat Mikal is aan hom as sy vrou terugbesorg word. Sy was nie meer die verliefde jong meisie van vroeër jare nie, maar ‘n volwasse vrou, en het dadelik besef hoeveel voordele dit vir haar inhou. Vererg skud Mikal haar skouers asof sy so die gedagte aan Palti wat al huilend agter haar aangeloop het, kan afskud. By Bagurim het Abner hom beveel om pad te gee en terug te gaan huis toe. “Dwaas,” sê Mikal hardop, en kom tot stilstand. Sy kyk om haar rond. Die dag is al vêr gevorderd. Dawid is saam met die hele Israel na Obed-Edom se huis toe om die ark van die Here na die Dawidstad toe te bring. Sy was nie verbaas oor Dawid se opgewondenheid om die ark – wat God se nabyheid en heiligheid in Israel verteenwoordig – na ‘n sentrale plek van aanbidding toe te bring nie. Die ark het ‘n generasie lank in ‘n obskure plek gestaan het. Na haar terugkeer onder Dawid se dak was dit vir haar gou duidelik dat sy liefde vir God nie deur die jare verflou het nie, maar in krag toegeneem het. Wat haar wel verbaas het was dat hy – wat intussen soveel vroue en kinders bygekry het – haar nie vergeet het nie, maar nog lief was vir haar. Mikal draai vinnig om en stap die paleis binne; sy wil nie nou daaraan dink dat sy nog nie vir Dawid ‘n seun in die wêreld gebring het nie. Heelwat later hoor sy ‘n rumoer, en beweeg venster toe. Onder die geklank van ramshoring- en trompetgeskal, simbaalslae en die musiek van harpe en liere, beweeg mans in wit klere al dansende voor die ark uit. Die lug is gevul met musiek, en sang en feeskrete. Dit is ‘n gesig om te aanskou, maar dan verstar Mikal. Sy het verwag dat Dawid in volle glorie – met sy koninklike mantel, en kroon op sy kop – die optog sou lei, maar hier sien sy hom aangetrek soos ‘n Leviet met ‘n wit skouerkleed aan, in volle oorgawe voor die ark uit spring en dans. Met minagting hou Mikal vir Dawid dop, en in haar hart verag sy hierdie man wat hom nie soos ‘n koning nie, maar soos ‘n gewone onderdaan gedra. Toe Dawid later vol vreugde inkom om sy huisgesin te seën, loop Mikal hom tegemoet. “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos ‘n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot,” sê sy smalend. Vir ‘n paar oomblikke kyk Dawid haar stil aan, en dan antwoord hy, “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans. Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederiger wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.” Met diè woorde draai hy om en stap van Mikal af weg.

Naāman

Naāman is woedend; “Besef hierdie profeet uit Samaria nie wie hy Haāman is nie?” Hy was tot in die grond toe verneder toe Elisa nie eers die moeite gedoen het om uit sy huis uit te kom nie, maar ‘n slaaf met ‘n boodskap na hom toe gestuur het, asof hy sommer ‘n gewone “hier jy” is. Hy Haāman hoof van die leër van die koning van Aram is nie net ‘n gesiene man nie, maar is die koning se regterhand, en geniet die koning se agting. Vir Elisa om hom voor al die hoë amptenare wat hom op diè reis na Israel toe vergesel het so te verneder, is onvergeeflik. Die hele reis was ‘n mislukking dink Haāman bitter. Dit het begin die dag toe sy vrou hom vertel het dat haar bediende – ‘n jong Israelietiese dogter wat hulle in een van hulle strooptogte ontvoer het – aan sy vrou gesê het dat daar ‘n profeet in Samaria is wat hom van sy melaatsheid kan genees. Hy het dit aan die koning gaan vertel, en die koning het hom nie net toestemming gegee om te gaan nie, maar ‘n brief aan die koning van Israel geskryf aangaande die saak. Vol hoop is hy en sy gevolg met drie honderd twee en veerig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere as geskenke vir die profeet, uit Aram weg. In Israel aangekom het hy die brief van sy koning aan die koning van Israel gegee om te lees. Die brief het gelees: “Ek het my dienaar Naāman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Net daar skeur die koning toe sy klere, en roep uit, “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak?” en voeg toe by dat dit duidelik is dat die koning van Aram net met hom skoor soek. “Dit was ‘n fout om te kom,” het Haāman aan sy manne gesê, maar voordat hulle na Aram toe kon terugkeer het die profeet Elisa vir koning Joram laat weet dat hy vir Haāman na hom toe moet stuur, sodat Haāman kan weet dat daar ‘n profeet in Israel is. Haāman klem sy kake opmekaar, en sy oë spoeg vuur toe hy dink aan hoe hy sy ontvangs by die profeet voorgestel het, en hoe sake verloop het. Al het die profeet hom dan nie met eerbied ontvang, soos waaraan hy gewoond is nie, het hy gedink hy sou darem uitkom, gaan staan en die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek van die melaatsheid beweeg en dit so wegneem. Maar nee, hy stuur ‘n slaaf met ‘n boodskap dat hy homself sewe maal in die Jordaan moet gaan was, dan sal hy gesond word en rein wees!!! Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die water van Israel nie.? waarom kan hy hom nie daarin was nie? Toe hulle ‘n rukkie later stop nader ‘n paar van sy amptenare hom. Dit is duidelik dat hulle iets op die hart het. “Meneer,” begin een versigtig praat, “as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy vir u gesê het was jou, en jy sal rein wees.” Hulle woorde laat Haāman afkoel. Soos sy gewoonte is wanneer hy diep dink trek hy aan sy bokkiebaard. Het die profeet gesê hy moet ‘n duisend beeste aan die Here offer sou hy dit nie gedoen het nie? Natuurlik sou hy as hy geweet het dit sal hom genees; hoekom hom dan nie in die Jordaanrivier bad soos die profeet gesê het nie? Verligting spoel oor Haāman, en hy gee opdrag dat hulle na die Jordaanrivier toe moet gaan. Heelwat later stop hy weer voor Elisa se huis; rein, en met ‘n vel soos diè van ‘n klein seuntjie s’n, stap hy ligvoets tot voor Elisa, en sê; “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie van my,” en met ‘n swaai van sy hand wys hy na die vragte vol geskenke. Elisa skud sy kop, en maak dit gou duidelik dat hy nie die geskenke wil hê nie. Toe sê Haāman; “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander gode nie. Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!” Elisa glimlag, “Gaan in vrede,” sê hy, en stuur Haāman van hom af weg.

Orpa

Haar voete beweeg langsaam met die stofpad langs, maar haar hart is in Moab waar sy grootgeword het, leer liefkry het, en vir tien wonderlike jare saam met haar man, en sy familie geleef het. Orpa knip haar oë om die trane te keer wat so vlak sit. Sy wil nie haar skoonma onnodig ontstel nie; Naomi is deur genoeg – om twee seuns so kort na mekaar aan die dood af te staan – het haar kwesbaar, en verbitterd agtergelaat. Toe Naomi gehoor het dat daar nie meer hongersnood in Israel is nie, het sy besluit om na haar eie land toe terug te gaan, en haar skoondogters saam met haar te neem. Rut het die nuus gedweë aangehoor, en gereed gemaak vir die reis, maar Orpa was platgeslaan. Vrees vir die vreemde het haar hart in ‘n ystergreep beet. In die jare wat sy saam met Naomi gebly het, het Orpa van Johovah, die God van Israel geleer, maar sy kon nie in haar hart afstand doen van die gode van Moab nie. Sy verwonder haar dat haar skoonsuster Rut so maklik die nuwe geloof aangeneem het. Naomi het hulle gewaarsku dat net Jehovah in Israel aanbid mag word. Orpa sug, Het sy en Kiljon net ‘n kind gehad sou haar hart, en haar arms nie nou so leeg gevoel het nie. Miskien sou sy as heiden dan ook meer aanvaarbaar gewees het vir die mense in Juda, waarheen hulle nou oppad is. Dit is Naomi wat die stilte tussen die drie vroue verbreek. Sy gaan staan en kyk haar skoondogters direk aan. Die pyn in haar oë is onmiskenbaar toe sy sê, “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer ‘n goeie man en ‘n heenkom gee.” Sy steek haar arms uit om hulle te groet; die trane wat Orpa so lank probeer inhou het begin vrylik vloei, en haar hart pyn toe sy dink dat sy diè vrou, vir wie sy so lief geword het nie weer gaan sien nie. “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe,” snik sy. Naomi slaan haar arms om haar huilende skoondogters en trek hulle moederlik nader. “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by ‘n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kan weerhou om weer te trou?” Terwyl sy na Naomi luister bedaar Orpa. Dit gaan swaar wees om afskeid te neem, maar Naomi is reg; haar toekoms lê in Moab. Met die agterkant van haar hand vee sy die trane van haar wange af. “Dit is reg so ma, ek sal teruggaan.”  Sy groet Naomi, en Rut en draai om terug na haar volk en haar gode toe.

 

J, K, L

Blog van A to Z

Jael

Haar hande is besig met hulle daaglikse werk, maar haar gedagtes is by die Kisonspruit waar haar man Geber vertel het Sisera – hoof van koning Jabin se weermag – opgetrek het teen die Israeliete. Hy het vertel dat ‘n man met die naam Barak in bevel staan van die Israeliete. Die nomadiese Keniete (waarvan sy en Geber deel is) staan neutraal teenoor Israel en Kanaān, maar sy is bekommerd oor Geber wat as metaalsmid gaan kyk het of hy van nut vir die Kanaāniete kan wees. Jael kom stadig regop, en met haar hande in haar sye strek sy haar moë rug na agter. Haar oë dwaal oor die vlaktes, in die rigting van die berge. Geber het ‘n rukkie terug besluit om weg te trek van die Keniete af, en hulle tent hier onder die groot boom in Saānannim naby Kedes te kom opslaan. Dit kan met tye eensaam raak, maar oor die algemeen geniet sy die stilte. ‘n Beweging na links trek haar aandag. ‘n Man kom na die tent toe aangehardloop; aan die manier waarop hy bly omkyk is dit duidelik dat hy op vlug is. Jael draf nader; “Kom hierheen Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!” roep sy uit. Uitasem kom die man by haar tot stilstand. Hy is vuil, en natgeweet, maar dit is die vrees in sy oë wat Jael die meeste opval. Sy herken Sisera, en verstaan hoekom hy juis na hulle tent toe gevlug het. Haar man se familie, en die Kanaānietiese koning Jabin verkeer op goeie voet. Vinnig neem sy hom die tent in, laat hom lê, en gooi hom toe, dan trek sy ‘n gordyn om hom toe. Net toe sy wegstap hoor sy hom roep, “Ek is dors, gee my ‘n bietjie water om te drink.” Jael gaan haal die melksak, en stap terug na waar Sisera lê. Sy help hom regop sit, en hou die melksak voor sy mond. Hy sluk so gulsig dat die melk in straaltjies by sy ken afloop. Met die agterkant van sy hand vee hy die melk af, en sê, “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!” Woordeloos knik sy haar kop. Terwyl sy hom toegooi sien sy hoe hy in ‘n diep slaap wegsink. Jael gaan staan by die tentdeur, soos hy haar beveel het, maar sy voel nie gerus nie; onsekerheid het van haar besit geneem. Toe die man so vinnig op haar afgekom het, het haar instink om te beskerm dadelik in werking getreë; maar nou begin sy twyfel aan die wysheid van haar optrede. Wat gaan met haar gebeur wanneer die man wat Sisera agtervolg hier opdaag? Geber mag ook enige oomblik terugkeer, en dan het sy hom ook in gevaar gestel!! Met elke minuut wat verby tik word die wroeging in Jael groter. Dan asof daar vir haar ‘n lig opgaan weet sy presies wat sy moet doen. Die taak voor haar vul haar met afsku, maar sy verspil geen tyd nie. Met ‘n tentpen en hamer in haar hand stap sy suutjies na Sisera toe, buk by die slapende man, en met ‘n paar vinnige bewegings slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan. Vinnig kom sy regop, en hardloop na buite. Sy is naar, maar kom vinnig tot haar sinne toe sy ‘n man nie vêr van die tent af nie, sien rondkyk. Sonder huiwering hardloop sy na hom toe, “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.” Barak stap saam met haar die tent binne, en kyk verbaas na die dooie man op die grond. Onbewus van dit wat op daardie oomblik deur Barak se kop gaan, kyk Jael vol afwagting na die man hier by haar. Maar Barak se oë bly vasgenael op Sisera se liggaam. Hy onthou Debora die profetes se woorde aan hom nadat hy te bang was om sonder haar die slagveld te betreë. Sy het gesê, “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir hierdie veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer.”

Keturah

Met oë vol liefde kyk Keturah na Abraham, nou al so oud in leeftyd, en hulle ses seuns wat om hom sit. Hulle luister aandagtig terwyl hy vertel van die dag toe God aan hom gesê het hy moet uit die land waar hy gewoon het trek, na ‘n land toe wat God vir hom sal aanwys, en dat God van hom ‘n groot nasie sal maak. Sy glimlag stilweg; die lewensverhaal van diè man wat in so ‘n diep verhouding met God staan, is voorwaar mekwaardig. Dit is nie die eerste keer dat die seuns dit hoor nie, maar dit is nodig dat hulle dit so goed sal ken sodat hulle dit weer aan hulle nageslag kan oorvertel. Die seuns geniet hierdie tye saam. Tot groot genot van almal sing hulle met tye dele uit die verhaal saam. Sy hoor kort-kort Sara se naam, maar Keturah voel geen jaloesie nie. Sy weet dat Abraham en Sara ‘n liefde gedeel het wat haar nie beskore is nie. Sara was die vrou van sy jeug, diè een wat vir hom in haar ouderdom Isak die verbondskind, gebaar het. Sy Keturah is die vrou met wie hy in sy gryse ouderdom getrou het omdat hy na Sara se dood, en Isak se troue, eensaam was. Sy het deur die jare lief geraak vir die man soveel jare ouer as sy, en versorg hom met tye soos ‘n dogter haar pa sal versorg. Dat sy vir hom ses seuns in die lewe gebring het is vir haar ‘n groot troos. Sy lag byna hardop toe sy onthou hoe verbaas, maar tog verheug Abraham was toe sy hom die eerste keer vertel het sy is swanger. “En om te dink ek het al daardie jare terug – toe God my van Isak vertel het – gewonder hoe daar vir ‘n man ‘n honderd jaar oud ‘n kind gebore kan word,” het hy kopskuddend gesê.

Lea

Lea lê en luister na die rustige asemhaling van die slapende man hier langs haar. Die nag is al vêr gevorder maar sy het nog nie ‘n oog toegemaak nie. Sy herleef weer die nag van passie en die liefdeswoorde wat Jakob in haar oor gefluister het. Maar dit was nie haar naam wat hy genoem het nie, nee hy het haar Ragel sy geliefde genoem. Sy vrees die daglig wanneer Jakob gaan wakker word en besef die vrou met wie hy homself so totaal gedeel het is nie die beeldskone Ragel wie hy lief het nie, maar haar ouer suster Lea, die onaansienlike een. Lea beweeg onrustig; die slapende man trek haar stywer teen hom vas, en slaap weer rustig voort. Lea dink aan die sewe jaar wat Jakob vir haar pa gewerk het om Ragel as sy vrou te verkry. Van ‘n distansie af het sy hulle dopgehou; gesien hoe sterk hierdie man se liefde vir haar suster is, en hoe die reeds beeldskone Ragel onder dit geblom het. Hoe het sy wat Lea is nie gesmag daarna dat iemand haar ook so sal liefhê, en homself in haar verlustig nie. Deur die jare het sy lief geraak vir Jakob, maar besef dit is ‘n tevergeefse liefde.  Haar gevoelens was so deurmekaar toe haar pa haar in Ragel se plek gisteraand as vrou na Jakob se tent toe gebring het. In haar wildste drome het sy nooit gedink dat sy eendag in Jakob se arms sou lê nie. Maar sy het besef dat haar pa besig was om Jakob te bedrieg, en dit het haar goedkoop laap voel. ‘n Vuurtjie van hoop begin meteens in Lea se binneste brand. “Sou sy vir Jakob ‘n seun in die wêreld bring, sal hy haar dan nie ook liefkry nie.?” So swaar gesluier soos sy die vorige aand in Jakob se tent ingekom het, so gesluier lê  die toekoms voor haar, maar in diè onbekende donkerte brand daar ‘n vuurtjie van hoop.