Isabella

Isabella van die Kaap. ‘n Pragtige meisie wat in die vroeg sewentienhonderds geleef het. Sy het gewéét sy is pragtig en het dit voluit benut.

Sy het die mooiste blonde krulhare gehad en die kyk in haar oë het die manne totaal gek gemaak. In haar teenwoordigheid het geen man meer regdenkend opgetree nie. Haar skoonheid was besing tot so ver as Swellendam, wat in daardie dae ‘n hele paar dagreise ver te perd was.

Sy was die meisie van die aand by elke bal wat in die kasteel of op elke ander plek aangebied was. In die mooiste balrokke het sy daar opgedaag, dit was valle op valle, noupassend om die lyfie en altyd met ‘n waaghalsigheid wat niemand anders sou durf waag nie. Sy kón dans! Lig op die voete wás sy, ‘n plesier vir haar dansmaats, dis dié dat haar danskaartjie sommer al vroegaand vol bespreek deur al wat jongman was.

Kan julle glo dat die mans selfs tweegevegte oor haar gehou het? Sy het behoorlik die stories aan die Kaap aan die gang gehou, of alles waar was, sal ons nou nooit weet nie!

Isabella van die Kaap se storie was egter van korte duur. Een aand ná ‘n bal by die kasteel, is hul koets voorgelê deur struikrowers. Die koetsier het probeer om weg te jaag, maar die koets het met sy wiel oor ‘n groot klip langs die pad gery en omgeval. Sy het uit die koets geval en met haar kop sleg teen ‘n klip gestamp. Sy het die ongeluk oorleef, maar daarná was Isabella net nooit meer dieselfde nie. Sy het totaal in haarself gekeer geraak en nooit meer bedags buite rondgeloop of saans na gesellighede gegaan nie.

Soos dit maar werk, was daar ánder meisies wat gou die belangstelling weggegelok het. Tog wonder die mense maar stilweg: Lê daar iets agter hierdie voorval? Jaloesie dalk? Het sy te veel aandag gelok? Wie sal ooit weet? Wat het régtig gebeur daardie aand? Daar is soveel vreemdhede aan die voorval …

Toortsie

 

Produk van Toortsie se verbeelding.

Toortsie @ Finesse: Die jaar van die veer.

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekosfaceboekblad

15 thoughts on “Isabella

  1. Nee struikrowers sou nie geweet het die koets sou omval, en dat Isabella sou seerkry en nie meer haar vrolike self wees nie. Ek dink die lewe het met Isabella gebeur. 😉

    Liked by 1 person

      1. ‘n Jaloerse minnaar wou haar ontvoer. Alles was gereed; die ontvoerders moes haar na die skip in die hawe bring vanwaar dit na ‘n vêr land sou vaar Dinge het egter skeefgeloop toe die koetsier wegjaag, en Isabella uitval, en in beswyming op die grond lê. Dit het ander wat oppad terug was van die bal se aandag getrek…. en die struikrowers (ontvoerders) moes die hasepad kies. Toe die rowers nie met Isabella by die skip opdaag nie, het die skip sonder haar geseil. Die jaloerse minnaar – ‘n Spanjaard wat net vir ‘n kort tydjie in die Kaap was – het nooit weer die Kaap besoek nie, en dus nooit geweet wat met die pragtige Isabella gebeur het nie.

        Like

  2. maar daar was tog ‘n boer wat al die jare heimlik verlief op isabella was, maar nooit gedink het hy staan n kans nie, omdat sy altyd so gewild was. toe sy nou so in haarself gekeer raak, het hy begin om so nou en dan vir haar vars groente envrugte uit sy tuin te neem. sy was stug, maar hy het altyd ‘n klein bietjie gesels oor die onderdeur. eendag, toe dit baie warm was, het hy gevra vir n glas water. sy het die onderdeur oopgemaak en hom die kombuis binnegenooi. die volgende week, toe sy verjaar, het hy vir haar blomme geneem. sy het hom binne genooi vir koffie en koek – in die sitkamer…

    Like

Gesels saam, asseblief!