Om ernstig te blog…

Soos die meeste van ons, het ek, toe ek 5 jaar terug begin skryf het op ‘n blog, elke dag geskryf. My gedagtes het gegaan oor my blog. Aanmekaar wou ek net skryf en skryf, en vir mense daarvan vertel. Dit was so ‘n gróót ding in my lewe! Dit het ook gekom in ‘n tyd wat ek baie vereensaam gevoel het hier op die plaas, so dit was héérlik om net met intelligente mense in die buitewêreld te gesels.

Deur te blog het ek geweldig baie geleer. Ek het beleef dat daar ander mense is wat ook dieselfde vreemde gedagtes as ek het. (Ek het soms gevoel ek is die enigste persoon op aarde wat soms ánders dink.) Ek het ook geleer dat mense regtig verskil, in denke, in leefwyse, en saam met dit het ek geleer om met empatie na ander te luister en te hoor hoekom hulle anders dink en doen. My manier is nié die enigste manier van doen nie! (Wat ‘n genade, want anders sou die wêreld chaos wees!)

Maar om ernstig te blog vra baie tyd. Dis nie net my eie blog wat ek moet netjies en versorg hou nie, dit behels dat ek by baie ander ook lees en kommentaar lewer. Iewers het ek myself ernstig aangespreek en het ek minder betrokke geraak by die ander bloggers. In die proses het ek net baie besig geword met ander dinge en al hoe minder geskryf, en nog minder ander blogs gelees. Dit het ‘n halfmasbesigheid geword. Genadiglik was Kameel hier om ons blog se vlag hoog te hou!

Toe, verlede jaar, kom ek af op ‘n klompie e-boeke wat my help om my blogging te verbeter. Ek lees raak wat ek eintlik alreeds weet: Ek sal my sokkies moet optrek. Wat ‘n plesier! Ek skryf weer meer gereeld, en probeer regtig om by 5 blogs per dag kommentaar te lewer (nie heeltemal elke dag nie). Dis ‘n WERK, hoor my! Maar dis HEERLIK! So stadig maar seker begin ek weer voel of ek van die bloggers “ken”, is dit nie net ‘n hier en daar lesery nie. Hier sal weer erg besige tye kom wanneer ek nie regtig tyd het om al die “regte” blogdinge te doen nie, maar vir nou is ek weer begeesterd.

Ek wil nie weer so erg blogverskrik raak soos 5 jaar gelede niee, ek benader dit nou anders, maar dit bly steeds baie lekker! Dis vir my ‘n uitlaatklep, ‘n geselsplek, ‘n plek waar ek leer.

Baie welkom aan al die nuwe blogmaats wat intussen bygekom het. Mag julle baie gelukkig wees hier in blogland. Soos die man met die hoed destyds gesê het, ons byt nie.

Groete

Toorts

28 thoughts on “Om ernstig te blog…

  1. O gaats ja dis waar ek nou is: die halfmasbesigheid. Maar ek lees baie blogs. Werklik interessant. Jou skryfwerk het afgelope 5 jr regtig baie verbeter. Een vd dae sien ons eboeke! Dink ernstg daaraan. Jy is mos goed met d tegnologie.

    Like

  2. Snaaks hoe n mens half ongemaklik voel as jy net so halfmas die bloggery doen. Daar is so baie insperasie wat mens kan kry van ander dat mens amper nie sonder sekere poste kan bly nie. Ek is self nie n sterk skrywer maar die uitdagings help baie om idees en gedagtes te kan orden.

    Like

  3. Wat vir my tickle rondom die blogs is hoe lief raak mens vir die mense wat jy nog nooit gesien het nie. Ek mis hulle wanneer hulle ophou skryf…. waar is Lekkerjeuk, Vlooi, Vreemdeling, Kind van Afrika en dies meer?

    Liked by 1 person

  4. ‘n Mens kan nogal dae/nagte verloor met die ernstige bloggery. Veral toe die hoed nog nuut was en Afrikaanse blogs soos hare op ‘n hond gesit het. Kudo’s vir die bloggers soos julle wat nog sterk staan

    Like

          1. My teorie, as ek vir ‘n oomblik kan probeer ernstig wees. ‘n Persoonlike blog is ‘n liefdestaak en werk die beste wanneer die skrywer tyd het om met die res van die mensdom te meng of selfs net te observeer, want dit is waar die meeste stories tog hulle oorsprong het. 2014 was ‘n uiters stresvolle jaar met die laaste helfte van die jaar waar 16- 18 uur werksdae die norm eerder as die uitsondering was. Hoedman het homself ook doelbewus afgesonder van die samelewing sover moontlik, en daarom het die stories en idees vir stories opgedroog.

            Like

  5. Ek het baie vriende gemaak met gesiglose mense.Hier word mens gedwing om te “luister” na ander,niemand in die rede te val nie en goed te dink voor jy kommentaar lewer.

    Like

  6. Ek weet nie eers of ek op die halfmas besigheid is nie. Tyd vir elke dag 5 blogs lees plus gereeld blog het ek net nie. Wel ek kan seker maak, maar ek spandeer eerder daai tydjies saam met my woelwaters. Eendag as die 3 hulle eie nessies skrop is ek seker sal ek net te dankbaar wees dat daar ‘n plekkie is waar ek kan skryf en al die interessante ander mense se dinge kan lees. Maar vir jou is die 3 interessant genoeg om my dae op te kikker.

    Sterkte met die nuwe inspring aksie. Hoop jy geniet dit baie.

    Ek wonder net soms hoekom ons almal dit doen. Ek bedoel nou al die tyd spandeer. Wat presies is dit wat ons daaruit kry? Ek weet die klomp van wordpress.org maar hul geld so, maar ons klomp wat dit net vir love and charity doen, wat is ons “kick”?

    Like

    1. Ek moet sê vir 5 blogs per dag gaan ek ook binnekort nie tyd hê nie. Dalk 2. Jy kies reg. Spandeer jou tyd met jou woelwaters. Jy gaan die vrugte daarvan met vreugde pluk. Wat ek hieruit kry? ‘N uitlaatklep. Ek het begin blog toe my kinders almal uit die huis is. Dis ook vir my geselskap omdat ek maar ver van ander mense af woon. Ek moet dalk meermale in my kar klim en by bure gaan kuier, maar die tyd! So ek kry hier ‘n vinnige geselsie. Dis egter nie naastenby dieselfde as ‘n mens tot mens gesrls nie. As iemand, soos wordpress hieruit geld maak, gee ek nie om nie. Ek doen dit vir die lekket.

      Like

      1. Ek het weer begin blog omdat dit ‘n maklike manier was om al die familie en vriende wat ver is deel van ons lewe te hou. Nooit het ek toe ek begin het gedink dat daar ander mense sou wees wat ook sou geniet wat ons doen nie.

        En as tuisbly-ma verstaan ek wat jy bedoel met die heerlikheid van geselskap vind in die blog gemeenskap. Ek wonder dikwels hoe mense dit gedoen het voor die internet era. Dit moes maar bra eensaam gewees het.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!