‘n Vriendin soos Des

In opdrag van Scrapydo se Toeka-Tokkel Vriendinne.

superthumb (1)Deur my lewe het ek vriendinne gehad, diè wat gekom en gegaan het, maar wanneer ek aan ware vriendskap dink, dink ek aan sielsgenote.  Iemand wat so deel van jou lewe is dat hulle soos jou eie asemhaling word.

Ek het voorheen oor Pauline geskryf; my maatjie wat ek in graad een gemaak het.  Terwyl ek op hierdie aarde is, sal ek bly wonder wat van haar geword het.

Vandag wil ek oor Deslyn skryf, en met die tik van haar naam, skiet my gemoed vol en hang daar soos altyd by die noem van haar naam, ‘n vraagteken oor my.

Ek was sestien, die rebelsheid wat later so deel van my lewe sou word was in sy beginstadium.  Die middag na skool stap ek na ‘n telefoonhokkie toe, en wag buite dat die blondekop meisiekind in haar Engelse skoolklere, klaarmaak met haar gesprek.  Toe sy uitkom klap sy die telefoonhokkie se deur toe, en sê iets bitsig vir my.  Ek bel my bel, en sien haar buitekant die hokkie rondhang.  “Moeilikheid,” dink ek by myself, maar stap heel manhaftig na buite.  “Wat is jou naam,” eis sy.  Ek gee my naam, en wil aanstap maar sy keer my.  “Waar bly jy?”  Ek sê die straatnaam, en tot my grote verbasing haak sy by my in en sê, “Ek stap saam met jou my meisie.”  (My meisie, sou haar bynaam vir my bly.)  By die huis aangekom wil my ma verbaas weet “Waar kry jy haar?”  Ek trek my skouers op, en wys grootoog vir my ma dat ek dit ook nie verstaan nie.  So word Deslyn ongenooid deel van my bestaan.

Liggaamlik is sy haar ouderdom van amper vyftien jaar oud, vêr vooruit.  Sy is lank, goed ontwikkeld, mooi, en wild.  Ek dink sy was een van daardie kinders wat nooit pop gespeel het nie, maar van kleintyd af te groot vir haar skoene was.  Haar ouers was welgestelde Engelse mense, en so verskillend van my eng Afrikaanse ouers, dat my mond vir die eerste paar kere letterlik oopgehang het toe ek hoor hoe sy met hulle praat.  Sonder om haar ouers se toestemming te vra, het sy gekom en gegaan soos sy wil.  Sy sleep my saam met haar die vreemdste plekke in, en stel my aan karakters voor wat my voorheen die hasepad sou laat kies het.  As ek eerlik moet wees moet ek erken dat sy op daardie stadium ‘n verkeerde invloed op my was.

Ons is onafskeidbaar lief vir mekaar.  Ingehaak gaan ons laggend deur die lewe, en het die mees avontuurlustigste tye, met baie noue ontkomings.  ‘n Paar jaar later stel ek haar aan ‘n vriend uit my kinderdae voor.  Alhoewel nie heeltemal getem nie, raak sy minder losbandig, en gaan vas uit met diè vriend wat later haar man sou word.  Ek leer Andrè ken, en die vier van ons is oor naweke altyd bymekaar.

Die jare stap aan, ons trou, en kry kinders.  Sy is ‘n goeie vrou, huisvrou, en ‘n ongelooflike goeie ma met ‘n ontsettende liefde vir haar kinders, maar veral vir haar eersgebore seun.  Na my egskeiding, en my huwelik met Ken sien ek haar maar min, veral toe ons tussen die mielielande gaan bly.  Ons kontak mekaar selde maar gesels maklik vir twee ure oor die foon die dag as een van ons bel.  Die vriendskapsband tussen ons is so sterk dat tyd wegval die oomblik as ons mekaar sien of hoor.

Wanneer ek alleen in Randburg kom maak ek ‘n punt daarvan om vir haar te gaan kuier.  Net voordat ons tussen die mielielande ingetrek het, is ek wedergebore, en op hierdie besoeke van my gesels ek met haar oor my verhouding met God.  Aangesien ons nog altyd openlik oor alles gesels het, is sy oop vir hierdie gesprekke, en eie aan haar aard het sy baie vrae, en sterk sienswyses.

Net voor haar veertigste verjaarsdag bel sy my in trane.  “My meisie,” sê sy vir my oor die foon, “as jy my vandag nie kan help nie pleeg ek selfmoord.”  Komende uit haar mond is dit nie ‘n ydele dreigement nie.  Sy vertel my dat sy by ‘n dokter was, toe ‘n predikant, ‘n sielkudinge, en uit desperaadheid “Help Line” gebel het, en tot dusvêr kon niemand haar help nie.  Vir die eerste keer is ek bly dat ek self twee jaar vroeër deur wat hulle noem “’n vroue mid-life crises,” gegaan het.  Ek het nie geweet daar bestaan so iets nie, en het dit op ‘n moeilike manier uitgevind. Daardie middag sit ek en verduidelik aan Deslyn waardeur sy gaan, en wat sy nog kan verwag, en belowe om vir haar ‘n boek te pos wat my so baie gehelp het.

Sy kom daardeur, en die lewe loop weer sy normale gang.  ‘n Paar jaar later trou haar oudste seun.  Dit is vir haar ‘n groot slag waaroor sy sukkel om te kom.  Ja, sy is besitlik… sy was net so besitlik op ons twee se vriendskap, maar ‘n mens moet in die gloed van haar liefde leef om dit te kan verstaan.  Sy word ‘n kleindogter ryker, maar die kind bring nie vir haar vreugde nie.  Op die koop toe sterf haar pa.  Ek is geskok toe ek eendag weer vir haar gaan kuier.  Die eens sterk lewenslustige mens sit sonder lag in haar oë en staar doelloos voor haar uit.  Daardie dag praat ek met haar, ek pleit by haar maar alles tevergeefs.  Op ‘n stadium kyk sy my in die oë en sê op haar verbete manier, “Ek wil nie meer leef nie my meisie, ek is klaar gelewe.”

Dit was ‘n Saterdagoggend ‘n paar maande later toe sy my bel, en sê sy en haar man kom deur want sy moet my dringend sien.  My eie lewe op daardie stadium was in ‘n storm vasgevang waar ekself nie herwaarts of derwaarts geweet het nie.  Ek sê vir haar dat ek die Maandag vir ‘n paar maande Randburg toe trek, en dat ek haar dan gereeld kan sien.  Sy hou egter aan dat sy my daardie dag wil sien, en nie eers oor ‘n paar dae nie.  Ekself is egter so voos, en stukkend dat ek nie kans sien daarvoor nie, en gee haar ‘n definitiewe “nee” as antwoord.  ‘n Uur later lui ons foon weer; hierdie keer is sy in trane; “Asseblief my meisie, asseblief,” soebat sy, “ek moet jou sien.”  Maar ek volhard daarin dat daar oorgenoeg tyd gaan wees om mekaar te sien wanneer ek eers in Randburg is.

Die volgende dag het sy ‘n beroerte aanval gehad, en nadat sy vir ‘n week in ‘n koma gelê het, is sy oorlede.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

23 Responses to ‘n Vriendin soos Des

  1. scrapydo sê:

    Ai Kameel, die lewe loop darem maar draaie met n mens. Baie dankie vir die pragtige terugflits oor vriendinne. Jy het regtig n wonderlike manier van skryf!.

    Like

    • Kameel sê:

      Dankie scrapydo.
      Hoe leeg sou my lewe nie sonder hulle gewees het nie. Tot in vriendskap sny die lewe met tye diep wonde.

      Like

      • scrapydo sê:

        Ek het nou eers die regte inligting by geskenke ingesit. Omdat ek nie my eie rekenaar gebruik sukkel ek om alles in te vul en op te soek.
        Daar is nie aan te twyfel dat vriendskap gedurig in beweging is nie. Soms meer negatief en dan weer poeitief

        Liked by 1 person

  2. perdebytjie sê:

    Mens moet nooit uitstel nie.Pragtig geskryf!

    Like

  3. Terug pieng: Toeka-Tokkel 3: Geskenke/speelgoed | scrapydotwo

  4. Dis ‘n ontroerende vertelling…

    Like

  5. coetzeeblog 2014 sê:

    Ja, soms wonder mens hoekom het jy nie maar togegee en/of anders opgetree nie. Deel van die lewe. Lekker gelees hier.

    Like

  6. Ai dat dit nou so moes eindig! So het elke vriendin haar eie gaatjie in ‘n mens se hart!

    Like

    • Kameel sê:

      Die einde van ware lewensverhale is baie keer so tragies. Ek wonder met tye hoe sou ek my lewensverhaal geskryf het, was die pen in my hand.
      Sommer so terwyl ek met jou gesels, waar lewer ‘n mens by jou kommentaar? Ek sien net die “like” knoppie.

      Liked by 1 person

      • Sjoe, ek is nog dom met wordpress, ek weet nie. Ek het voorheen by Litnet geblog…

        Like

        • Kameel sê:

          Toorts doen al ons administrasie, dus is ek net so dom. Miskien kyk ek net nie mooi daat by jou nie. Anders moet jy Toorts vra om jou te help.

          Liked by 1 person

          • Toortsie sê:

            By CRLRedelinghuys kan jy nie kommentaar lewer as jy net op die gewone voorblad van die blog is nie. Jy moet eers op die naam van die bloginskrywing kliek dat daardie bloginskrywing oopmaak. Dan kan jy kommentaar lewer.
            CRL Redelinghyus, dis ‘n verstelling wat jy moet maak. Ek het weer eens nie my rekenaar by my nie en ek kan dit nie op tablet kyk nie. Kyk in jou instrumentepaneel. Redelik onderaan waar jy jou verstellings kan doen. Kliek maar op die verskillende goed. Op een plek sal iets soos conversation of bespreking wees. Daarop moet jy kyk of daar nie iewers iets is wat jy moet verander nie. Iets wat sê dat mense ook in front page kan kommentaar lewer, of dalk is dit gemerk dat mense slegs in post kan kommentaar lewer. Soek maar daar, jy sal dit kry.

            Like

  7. Sjoe die lewe loop nie soos mens dit wil hê nie!

    Like

  8. Ai, wat ‘n lekker lees nostalgiese storie. Oulik geskryf, Kameel.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s