Die losmaak…

In my bloginskrywing, “om te laat gaan“,  vertel ek hoe swaar die losmaakproses ook vir my is en was.

Om jou kinders los te maak, te laat gaan, is ‘n traumatiese ervaring. Eers die Pre Primêr, daardie eerste skooldag, dalk ‘n naweek wat jou kind alleen by iemand gaan bly, tot die dag wanneer hy/sy jou huis verlaat.

Maar dit stop nie daar nie. Met tyd moet jy steeds meer en meer losmaak. Soos hul ouer word, begin hul hul eie besluite neem, en as jy ‘n verantwoordelike ouer is, lei jy hul in die begin, maar mettertyd laat jy hul toe om hul eie besluite te neem. Natuurlik, in die begin, hou jy dalk ‘n ogie, maar met tyd, begin jy doelbewus terugstaan, sodat, as hul groot is, hul op hul eie bene kan staan. Selfstandig, standvastig, met die wete dat, sou iets gebeur, hul op hul ouers se ondersteuning kan staatmaak.

Dit is hoe ek dit sien.

Soos tannie Frannie by my vorige pos oor hierdie onderwerp gesê het: Solank ons kinders klein is, het ons die geleentheid om die opvoeding te doen. As hul groot is moet ons vir hulle en ook ons opvoeding vertrou.

Solank my kinders nog van my afhanklik is, het ek die vrymoedigheid om nog baie insette te lewer, selfs in te meng, standpunt in te neem in ‘n mate. Maar die dag as hul begin werk, hul eie salaris begin verdien, vir hulself sorg, moet ek aanvaar hul is nou groot. Volwasse. Dán moet ek dit vir hulle gun om hul eie besluite te neem, selfs hul eie foute te maak, en vertrou dat ek my bes met hul opvoeding gedoen het en nou die vrugte mag begin pluk van jare se harde werk. Ek moet aanvaar dat tye verander het en dat hul dalk dinge op ‘n ander manier doen as wat ek dit nog altyd gedoen het.

Ek mag my hulp aanbied, raad gee as ek daarom gevra word, maar moet dit ook met ‘n mooi gesindheid aanvaar as hul dalk nie my raad volg nie. Ek distansieer my nie van hulle nie, is altyd gewillig om hulp en raad te verleen, maar tree meer na die agtergrond.
Hier verskil elke kind, en moet ons maar ons kinders lees om te sien hoé betrokke ons moet wees.

Maar die kern van vandag se verhaal is: Of ons daarvan hou of nie, ons is verantwoordelik om met tyd te “let go”.

Sterkte. Dis nie maklik nie. Ek weet. Ek praat uit ondervinding.

Toortsie

Intussen het Kameel ook hieroor geskryf. Lees dit gerus.

Toortsie se Faceboekbladsy

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekbladsy

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

 

8 thoughts on “Die losmaak…

  1. Daar se jy die regte ding Ons is mos soos trotse kloekende henne. So trots op die kinders en tog so lekker om te wys hoe goed hul is. Moeders sorg en versorg altyd, tot in die ouderdom sal Mamma nog soetjies vertel hoe goed dinge gedoen kan word. (Dis heerlik om moeder te wees)

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!